Is teenstand teen vismeelfabriek stank vir dank?

Maroela Media 2 Augustus 2019  Susan Purén 

Mosselbaai se ekonomie gaan binnekort ʼn groot hupstoot ontvang as die oprigting van ʼn vismeel- en visoliefabriek die groenlig by die owerhede kry.

Afro Fishing, ʼn plaaslike visfabriek wat sardyne inmaak, het buitelandse kapitaal van nagenoeg R350 miljoen bekom om hul bedrywighede in die hawegebied uit te brei. Daar word beplan om duisende tonne pelagiese visspesies, soos ansjovis en rooikappie (red-eye herring) by die aanleg te verwerk.

Afro Fishing

Dit sal seisoenale werk aan ʼn bykomende 200 persone verskaf.
Nie almal is ewe opgewonde oor die projek nie en sowat 420 inwoners het ʼn aanlyn petisie onderteken om teen die fabriek kapsie te maak. Honderde mense het ook as belangstellende partye registreer; hulle wil weet watter impak die fabriek op dié skilderagtige kusdorp op die Tuinroete gaan hê en of daar permanent ʼn stank oor die dorp gaan hang?

Deon van Zyl, Afro Fishing se besturende direkteur, sê die fabriek doen aansoek om ʼn moderne aanleg op te rig wat die beste bewese praktyke en beskikbare tegnologie sal gebruik om die stank wat vismeelfabrieke veroorsaak, te bestry.

afro4 Deon

Volgens ʼn luggehalte-impakstudie wat verlede jaar vir die beoogde projek gedoen is, sal ʼn sogenaamde nat skropper keer dat onaangename reuke in die atmosfeer losgelaat word. * Volgens die studie sal daar, indien nodig, bykomend van regeneratiewe termiese oksidasietegnologie (RTO) gebruik gemaak word. Dit word reeds in die buiteland toegepas en die Mosselbaai-aanleg sal die eerste in Suid-Afrika wees waar dit gebruik word.

 * (RTO gaan dus nie noodwendig hier gebruik word nie, maar (dalk) eers ingespan word as dit klaar te laat is en die reuk onhoudbaar raak? Wie bepaal wanneer dit nodig is?) 
ʼn Span wat met die beplande projek te doen het, was onlangs by ʼn vismeelfabriek in Peniche, Portugal waar RTO gebruik word en is vol lof vir die tegnologie.

Die oorgrote meerderheid van Mosselbaai se inwoners is egter steeds bekommerd dat die dorp dieselfde paadjie as Houtbaai en Gansbaai gaan loop. In Houtbaai was daar onlangs weer ʼn vlaag klagtes oor die vrot reuk wat van die plaaslike vismeelfabriek af kom en daar word nou selfs navorsing gedoen oor die impak wat slegte reuke op die mens se gesondheid kan hê. In Gansbaai het die reuk so erg geword dat die vismeelfabriek ʼn paar jaar gelede verbied is om tydens vakansietye te werk omdat dit toeristegetalle negatief beïnvloed
het.
Die Mosselbaai-gemeenskap vrees ook dat die fabriek die voorloper is vir die oprigting van ʼn visplaas of sogenaamde akwakultuur, soos dié wat nou vir die Weskus beoog word. Visplase kan ernstige omgewingsrisiko’s inhou en is ook moeilik volhoubaar.
Die visse wat in die onnatuurlike omstandighede aangehou word, word juis vismeel gevoer en met die fabriek in die hawe is akwakultuur dalk nou ʼn stappie nader.

fish farm

Elsa Wessels, die redakteur van die aanlyn nuusplatform Mosselbayontheline, sê in Suid-Afrika, soos in ander Afrika-lande, is die probleme erger omdat die betrokke owerhede selde die noodsaaklike maatreëls en wetgewing ten opsigte van water-, lug- en omgewingsbesoedeling toepas en afdwing.
“Gaan daar nimmereindigende hofsake op Mosselbaaiers wag soos wat nou in Saldanhabaai die geval is? En wie gaan kyk dat viskwotas gehandhaaf en die regte visspesies gevang word?” is van die vrae wat Wessels onlangs aan haar lesers gestel het.

Afro Fishing bestaan sedert 2007, maar het verlede jaar van eienaar verander. Verslae by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) wys dat vyf van Afro Fishing se direkteure in 2018 bedank het. Shamera Daniels (foto onder), ʼn bekende in die seevisserybedryf in die Wes-Kaap, is steeds op die direksie en Johannes Breed is die enigste nuwe direkteur wat aangestel is.

Shamera Daniels

Die 37-jarige Breed, ʼn geoktrooieerde rekenmeester van beroep, dien sedert verlede jaar op die direksies van agt Suid-Afrikaanse maatskappye in die visbedryf. Volgens die aanlyn Fish Information Service (FIS) is Breed ook die besturende direkteur van die Angolese maatskappy African Selection Trust (AST). AST se webwerf sê die maatskappy se visie is om bestaande visfabrieke te restoureer en maksimale produksie te verkry wat werkverskafng en voedselsekuriteit in Angola sal bring.

AST het sedert 2017 sy vlerke in Suider-Afrika gesprei en besit ʼn 60%-aandeel in die Namibiese maatskappy Seaflower Pelagic Processing (Pty) Ltd. Die Namibiese staatsbeheerde Fishcor besit die ander 40%. Volgens die Namibiese dagblad, The Namibian, verteenwoordig Breed, die ekonoom Adriaan Louw en prokureur Marén de Klerk, AST op Seaflower Pelagic se direksie.

Die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek het in 2017 berig dat die Namibiese visindustrie woedend was omdat ʼn internasionale belangegroep, verwysend na AST, gebaat het by die toekenning van ʼn reuseviskwota aan die staatbeheersde Fishcor. Volgens die Daily Maverick behels die kwota 50 metrieke ton makriel (maasbankers) per jaar vir 15 jaar met ʼn geskatte waarde van R120 miljoen per jaar.

Daar is destyds gesê dat ten minste vyf Namibiese maatskappye as vennote vir Fishcor kon kwaliseer, maar oor die hoof gesien is. Ten minste een, Bidvest Namibia, moes sy bedrywighede intussen staak en sowat 1 200 mense het hul werk verloor.

https://www.namibian.com.na/176224/archive-read/Esau-spoon-feeds-Fishcor

Seaflower Pelagic het pas ʼn visfabriek van nagenoeg R540 miljoen in Walvisbaai in gebruik geneem. Die aanleg kan soveel as 600 ton makriel (maasbankers) per dag verwerk.

As Johannes Breed by AST se bedrywighede in beide Angola en Namibië betrokke is, dan is die logiese vraag of AST ook die belegger agter die R350 miljoen-inspuiting in Mosselbaai se Afro Fishing is?

Wat is AST se aandeel in die ander plaaslike vismaatskappye waar Breed ook op die direksie dien? En wat beteken dit alles vir die plaaslike visbedryf?
Deon van Zyl, Afro Fishing se besturende direkteur, ontken dat die maatskappy ʼn filiaal van AST is en was slegs bereid om te sê dat die geld vir die Mosselbaai vismeelfabriek ʼn belegging uit die buiteland is wat privaat bekom is.

Maroela Media se navorsing wys dat Norfund, die Noorweegse Beleggingsfonds vir Ontwikkelende Lande, in 2010 ʼn privaat aandelefonds in Angola begin het en dat verskeie Europese banke en ontwikkelingsfondse intussen by Norfund aangesluit het.
Die fonds word deur Angola Capital Partners (ACP) bestuur en die ACP-webwerf verwys na ses verkose Angolese maatskappye, waaronder African Selection Trust, waarin daar in die laaste paar jaar miljarde belê is vir uitbreiding.

In Angola het dit vooruitgang vir gemeenskappe gebring deur werkgeleenthede te skep en die plaaslike bevolking te bemagtig. Maar in Namibië het meer as ʼn duisend mense, na bewering, hul werk verloor, aldus koerantberigte.
Die beplande vismeel- en olieproduksie is uitsluitlik vir die uitvoermark bedoel waar dit as ʼn bestanddeel van dierevoer gebruik word. Sowat vier kilogram vis is nodig om een kilogram vismeel te vervaardig.

Van Zyl sê Afro Fishing het nie self viskwotas nie, maar koop pelagiese vis aan by ondernemings wat wel kwotaregte het.

Dis eintlik ironies hoe die visbedryf werk, want Afro Fishing se bestaande inmaakaanleg het sedert 2016 duisende ton gevriesde sardyne uit Marokko ingevoer om steeds aan die plaaslike markvraag te voldoen nadat kwotas gesny is.

Maar wat van Mosselbaaiers se vrese oor visplase in die see en op land?
En al die omgewingsprobleme wat daarmee kan saamkom? Kenners is dit eens dat die kanse skraal is dat Afro Fishing ook ʼn visplaas sal begin omdat vismeel en visolie reeds wêreldwyd in groot aanvraag is en toppryse behaal.

Tog is dit nie te vergesog om te glo dat akwakultuur dalk wel na Mosselbaai op pad is nie. Johannes Breed se pa, Jannie, was vir baie jare die besturende direkteur van Ridge Solutions Aquaculture in Angola waar garnale op groot skaal vir die uitvoermark verbou is.

Dan is daar ook al gesê dat Mosselbaai beskou word as dié mees geskikte plek in Suid-Afrika om ʼn visplaas te begin waar geelstert verbou kan word. En net verlede jaar was daar ʼn omstrede inligtingsessie oor akwakultuur wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangebied is.

visplaas Indaba

Die beplande ontwikkelings mag dalk werk skep en die Mosselbaai-ekonomie ʼn reuse-inspuiting gee, maar
teen watter prys?

African Selection Trust (AST) se hoofkantoor in Angola en plaaslike kantoor in Kaapstad het nie Maroela Media se skriftelike vrae beantwoord nie. Johannes Breed het nie op telefoniese boodskappe reageer nie.

 https://maroelamedia.co.za/nuus/in-diepte/is-teenstand-teen-vismeelfabriek-stank-vir-dank/?f

Lees ook verwante artikels: 

 https://www.bizcommunity.com/Article/196/476/183378.html

 

Related Articles: