Pieter Meyer van Mosselbaai skryf:

Pieter Meyer De Oude Winkel



Dana Snyman se lekkerlees-storie “Verlange na die vergete ooms van die verlede” (08.09) het wyd aanklank gevind.

Dana vertel van Oom Leon Eksteen se sub-stasie op Beaufort Wes, van die Trens Erasmus-brug in Klerksdorp en van die Wietz Marais-sportterein op Springfontein, ens.,ens. En hy wonder wie was die ooms en waar is hulle vandag?

Ek wil graag vertel van oom Jannie Meyer van De Rust. Toe die oom op die 31ste Mei 1961 op die dorp aangekom, was daar geen lopende water, elektrisiteit of ‘n rioolstelsel op die dorp nie.

 

Trouens die dorp kon nie eens ‘n munisipale bestuurder bekostig nie. 
Met die oom se kennis van boekhouding en bestuur het die oom die rekenkundige werk saans na ure gratis gedoen en bedags in sy kruidenierswinkel op die dorp gewerk.

 

Spoedig het die oom met ‘n plaaslike boer onderhandel vir water vanaf die Swartberge se Huisrivier, ‘n resevoir gebou en die hele dorp omgedolwe, waterpype aangebring en spoedig was elke inwoner in die dorp van water voorsien, natuurlik danksy ‘n lening van die Provisiale Administrasie in Kaapstad. (Dankie, dr. Lapa Munnik!). Vandag kry die dorp nog steeds sy water van dieselfde bron. Ekself het die oom Saterdagmiddae en saans na-ure gehelp om die watermeters te lees, natuurlik ook gratis.

Toe ek nog so een Saterdagmiddag, in die bloedige Karoo-son, saam met die oom deur die dorp loop en meters lees, vertel die oom my ons gaan eersdaags elektrisiteit kry van Eskom. Dan gaan daar nog meters bykom. Dit alles terwyl die oom die
plaaslike dorpsraad se sekretaris/bestuurder was.

Daarna het ‘n pragtige biblioteek en kliniek op die dorp gevolg. 
Toe was dit tyd vir die oom se grootste projek, naamlik die bou van ‘n nuwe woonbuurt te Blomnek vir die bruin gemeenskap van die dorp. Weg was die bouvallige modderhuisies en spoedig het stewige siersteen-wonings met teerpaaie,
lopende water, straatligte en skole gevolg.

Tydens die nuwe sending-kerk se opening daar, het die dominee die oom vorentoe geroep en ‘n nuwe Bybel aan hom oorhandig as ‘n blyk van waardering vir sy ywer en toewyding.

Dana, daar is nooit ‘n monument opgerig of ‘n straat na hom vernoem nie.

Die oom het die dorp se gemeenskap (die kerkraad en skool) met trots en onderskeiding gedien en op 65 afgetree met ‘n klein munisipale pensioentjie. 
Jy meld dat “die ooms in die sweet van hul aangesig hulle brood eerlik verdien het”.

Dana Snyman ek bring graag hulde aan die oom vandag (09 September 2018), op sy verjaardag. As hy nog met ons was, sou hy 93 jaar oud gewees het.

Dana, hy was my pa, Jannie Meyer van De Rust in die Klein Karoo!

Dankie pa!

Related Articles: