Die moderne (siek?) neiging van nasionale en plaaslike owerhede en politici om gedurig in openbare media hul eie beuel te blaas, is kommerwekkend en raak nou lagwekkend. Is dit dan nie waarvoor hulle yslike salarisse BETAAL word nie, vra 'n leser? 

councillors

Gryse ou Mosselbaaier skryf:

Soos die meeste pensioenarisse, het ek ook my lewe lank baie hard, pligsgetrou en onbaatsugtig gewerk en my bes gelewer in my spesifieke staatsdiensinstelling - vir geen ander rede nie as dat my werk vir my 'n voorreg en trots was. Om goeie, eerlike en harde werk te lewer was 'n bewys van jou karakter; en 'n gegewe en 'n vereiste om jou werk te behou en vooruit te gaan in jou beroep . . .

Interne aansporing- en motiveringsgebruike is wel sporadies toegepas om erkenning te gee vir ware uitstaande prestasies, maar in die algemeen het almal aanvaar hulle word betaal om 'n werk goed en deeglik te doen. 

As jy gedurende jou loopbaan deurgaans goeie werk gelewer het, is jy met bevorderings beloon en met jou aftrede beloon met 'n "goeie dienssertifikaat" en 'n lekker afskeidsgeselligheid . . . en natuurlik jou welverdiende pensioengeldjie.   

Maar deesdae is hardwerkende, pligsgetroue en eerlike staatsdiensamptenare blykbaar so 'n rariteit dat elke amptenaar of polisieman wat sy basiese werksverpligtinge sonder korrupsie of 'n skandaal nakom, met klinkende metale (astronomiese salarispakkette) en luidende simbale in die openbare media bedank en verheerlik word . . .   

Ek verwys spesifiek ook na die berig Dienslewering Geloof in Vrydag 08 Maart 2019 se Mossel Bay Advertiser waarin verskeie munisipale amptenare en departemente met basuingeskal geloof word vir hul puik dienslewering. Wanneer 'n dief, boef of gewoonte-misdadiger vasgetrek word, word foto's van die spesifieke polisiebeampte(s) ook prominent in die plaaslike koerantjie geplaas om hul "uitsonderlike prestasies" uit te basuin. As 'n wetstoepasser NIE omgekoop word nie, word hy in 'n koerant vereer vir sy eerlikheid. . . ? 

Dis nou wel goed en mooi om iemand te respekteer vir eerlikheid, maar 'n WETSTOEPASSER wie se werk dit is om misdaad te bekamp? Watter boodskap word hiermee uitgestuur - dat hy die uitsondering is en die ander wetstoepassers almal korrup en omkoopbaar is? Moet die enkele korruptes nie eerder geïdentifiseer en geskors word nie?

Korrupsie

https://www.mosselbayadvertiser.com/News/Article/General/dienslewering-geloof-201903070424

'n Mens kan nie help om te wonder waarom dié oordrewe lofbetuigings vir basiese werk en eerlikheid nodig is nie . . . Is dit dan nie waarvoor die amptenare aangestel en gróót salarisse betaal word nie? 

Terwyl INTERNE motivering en erkenning in ENIGE werk belangrik is om die moraal hoog te hou vir optimum-produktiwiteit en spangees, raak dié openbare verheerliking en selfverheerliking van amptenare vir gewone, basiese dienslewering nou regtig lagwekkend en pateties.

Veral as inwoners maar te deeglik bewus is van die geweldige verswakking in dienslewering op alle gebiede van regering, terwyl vuisvoos belastingbetalers noodgedwonge net al hoe meer moet opdok - en ook al hoe meer van dié hoogs-besoldigde amptenare se werk self doen . . . anders val die kalf in die put? 

Miskien moet hulle eerder groter aandag gee aan die PUBLIEK se menings en klagtes oor dit wat NIE werk nie en dit regstel as dié gedurige "eie-stert-prysery" wat maar 'n wrang smaak in die mond laat van dié lojale inwoners wat al JARE lank vergeefs soebat en smeek vir reg en geregtigheid en boonop die amptenare se salarisse betaal . . . ? 'n Ou gesegde lui: Selfprys is geen aanbeveling nie . . . 

Jakkals

Veral Mosselbaaiers werk HARD op hul eie koste om deur goed-geoliede buurtwagstelsels, wyksgroepe, private organisasies en hulpverleningsgroepe misdaad te help bekamp, strande en strate skoon te hou en hulpbehoewendes te help wat deur die munisipale striknette val of juis slagoffers daarvan is . . . soos die pensioenarisse van Seemeeupark wat STEEDS nie eens 'n woordjie van simpatie, verskoning of enige vorm van bystand van dié munisipaliteit ontvang het wat so sy eie beuel blaas nie.  

Aikôna - as gewone Mosselbaaiers al dié vrywillige en ondankbare werk staak, lyk dié dorp binne 'n paar maande maar net soos enige ander vervalle, misdaadgeteisterde dorp in die land . . .

Stop die basuingeskal, politiek en selfverheerliking en gebruik daardie tyd en energie om dié dinge in die dorp waaroor inwoners al jare lank vergeefs kla en dreig, 'n slag reg te ruk - dis immers waarvoor inwoners betaal en op geregtig is.   

 

Related Articles: