Skokverslag dui op ramp in rade
Deur Dawie 20 April 2019 

As enigiemand nog wonder oor die omvang van die ramp wat Suid-Afrika gaan tref as die Zupta-kamp ná die verkiesing die oorhand oor pres. Cyril Ramaphosa kry, sal Ratings Afrika se jongste verslag enige twyfel uit die weg ruim.


Ratings Afrika beoordeel jaarliks die bestuur van munisipaliteite en kom in vanjaar se verslag tot die gevolgtrekking dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat op sy beurt politieke onrus kan aanwakker”.
Met diensleweringsopstande regoor die land heen, is die skrif reeds aan die muur.

onluste


Luidens die verslag is die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie.

taxpayers1

Minstens 77% van die munisipaliteite in die peiling is in ’n begrotingstekort vasgevang en die algehele verliese beloop R13,3 miljard.
Lees dít teen die agtergrond van 2018 se verslag van die ouditeur-generaal (OG) waarluidens onregmatige uitgawes met 75% toegeneem het vergeleke met die vorige jaar – dít op die hoogtepunt van die Zumabewind. Slegs 49 van die land se 250 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang.


Suid-Afrikaners se groeiende ontevredenheid met munisipaliteite blyk ook duidelik uit dié instellings se tanende prestasie in die jongste indeks oor verbruikerstevredenheid (Sacsi).


Waar die swakste presteerders luidens Ratings Afrika geleë is, is geen verrassing nie. Dis in die Vrystaat en Noordwes – die politieke hinterland van die Zuptas, onderskeidelik eens onder die vaandels van Ace Magashule en Supra Mahumapelo.

Ons weet nou al die kern van die probleem is swak finansiële bestuur, wat tot die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word.
Wat dinge vererger, is gebrekkige vaardighede, gebrekkige verantwoordbaarheid en die feit dat plaaslike regering veral in die ANC as die intreevlak vir selfverryking beskou word.

Te veel munisipaliteite is die slagveld waarop ANC-faksies mekaar die stryd aansê en waar ampte gevul en ontruim word na gelang van die faksie wat beheer voer.
Die gevolg is tweërlei. Die omset van amptenare dwarsboom eerstens die bou van ’n kundige personeelkorps.

Tweedens word ampte beskou as skaakstukke in ’n magspel, eerder as voertuie vir dienslewering aan die mense.


Intussen is dit ook so dat die DA-beheerde munisipaliteite aantoonbaar beter in die beoordelings van die OG, Ratings Afrika en Sacsi vaar.
Wat verder aansienlik kommer oor plaaslike regerings wek, is dat die ANC elke dan en wan speel met die gedagte om die provinsiale regerings af te skaf, kastig om “munisipaliteite se kapasiteit te versterk”.
Dawie verneem ook op goeie gesag dat ’n plan om die getal provinsies van nege tot ses te verminder vorm
aanneem in die ANC.
As dit gedoen word met die politieke motief om DA-beheerde provinsies (ja, naas die Wes-Kaap is Gauteng
en die Noord-Kaap in die opposisie se visier) te verminder, is die dood in die pot nie net vir die demokrasie nie, maar ook vir dienslewering op munisipale vlak.
In die ANC is dit algemene bedryfskennis dat sy gehawende takstruktuur juis toe te skryf is daaraan dat dit die kryt is waarin om munisipale poste meegeding word.
Is die ANC dan doodseker hy wil nóg meer mag en beter betaalde poste by dié reeds giftige brousel voeg as hy provinsies afskaal?
Dawie verwag opstande op ’n skaal wat dié land lanklaas gesien het.

NETWERK24.COM
 
As enigiemand nog wonder oor die omvang van die ramp wat Suid-Afrika gaan tref as die Zupta-kamp ná die verkiesing die oorhand oor pres. Cyril Ramaphosa kry, sal Ratings Afrika se jongste verslag enige twyfel uit die weg ruim.
 
Related Articles: