Die identiteit van die onbekende vrou wie se liggaam verlede Maandag in die see by die Punt gekry is, is vandag deur die Mosselbaai Polisie bekend gemaak nadat haar naasbestaandes in kennis gestel is.

Die oorledene is positief geïdentifiseer as die 39-jarige Lizel Gerber van Mosselbaai. Volgens speur-adj. Pieter Koekemoer is die omstandighede rondom haar dood nog onbekend, maar geen gemene spel word vermoed nie.

lizel Gerber

Foto: Wyle Lizel Gerber (39)

Die vreemde en geheimsinnige omstandighede rondom Gerber se dood het die afgelope week 'n groot opskudding veroorsaak - veral omdat geen vermiste persone by die plaaslike SAPD aangemeld is nie. Daar is selfs bespiegel dat die onbekende vrou, wie se liggaam deur 'n besoeker in die water gesien is, dalk dié van 'n feesganger by die MosJazz-fees is, of dié van die Noorweegse student Marie Ostbo, wat in April verlede jaar by Myoli-strand naby Sedgefield vermis geraak het. Ostbo word steeds vermis en haar liggaam is ondanks uitgebreide soektogte op land en see steeds nie gekry nie.

Meer besonderhede oor wyle Lizel se tragiese dood is in dié stadium nog nie bekend nie. 
Ons innige medelye aan haar naasbestaandes, familie en vriende wat op só 'n manier van haar heengaan moes uitvind.

Enigeen met inligting wat meer lig kan werp op wyle Lizel se laaste bewegings en die omstandighede rondom haar dood, word dringend versoek om die ondersoek-beampte, speursers. Andrew Salemane by 044 606 2850 te bel.



Meer foto's op ons Facebook-blad:

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2331206007110653?

Só het ons vroeër hieroor berig:

Opvolg: Die vermiste vrou van Muizenberg, Angelique Ripepe (25) is ongedeerd in Kaapstad se suidelike voorstede opgespoor en met haar familie herenig. Geen nuwe inligting rakende die onbekende jong vrou wie se liggaam Maandag in die see by die Punt gekry is, is egter nog bekend nie.

Angelique Ripepi

Foto: Angelique Ripepe (25) is ongedeerd gevind ná haar verdwyning.

Hoewel baie bespiegelinge die rondte doen oor die oorsaak en omstandighede van die vrou se dood, wil die SAPD in dié stadium verkieslik nie meer besonderhede verskaf voordat die amptelike uitslag van die nadoodse ondersoek afgehandel is nie.

Opvolg: Liggaam van onbekende vrou by die Punt "waarskynlik NIE" dié van vermiste jong vrou van Kaapstad nie, "maar alle moontlikhede word ondersoek".

Die raaisel rondom die identiteit van die onbekende jong vrou wie se liggaam Maandag in die see by die Punt gekry is, is steeds onopgelos.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse Polisie-woordvoerder, het by navraag gesê hoewel geen gemene spel in dié stadium vermoed word nie, kan geen moontlikhede uitgeskakel word nie. Niemand het egter nog na vore gekom om die liggaam positief te identifiseer nie.

Pojie het reageer op ons navraag of die liggaam nie dalk dié van die vermiste Angelique Ripepe (25) van Muizenberg is wat sedert Saterdag vermis word nadat sy vir 'n werksonderhoud in Tableview gegaan het nie. 'n Leser het 'n foto en berig van die vermiste Ripepe aan Mosselbayontheline gestuur en gevra of dié moontlikheid al ondersoek is.
Kapt. Pojie het gesê dis onwaarskynlik omdat die oorledene 'n blanke vrou is en Ripepe bruin is, maar dis nie onmoontlik nie en sal verder opgevolg word.
Op die foto hieronder kan gesien word Ripepe is lig van kleur.

angelique ripepi1

* Lesers het met skok en ongeloof reageer op ons berig hieronder oor die toename in gewapende roof en brande in die Mosselbaai-omgewing. Intussen het dit aan die lig gekom dat nóg 'n plaaslike paartjie verlede week die slagoffers van gewapende rowers was op hul kleinhoewe op Aalwyndal.

Die egpaar in hul vroeë sewentigs is op Donderdag 17 Januarie omstreeks 23:00 deur ses goedgeklede mans in hul huis in Rooikatstraat oorval, aangerand, vasgebind en beroof.
Volgens 'n berig in die Advertiser was die mans met onder meer handwapens bewapen en het hulle klapmusse gedra. Die huiseienaar is glo twee keer met 'n handwapen teen die kop geslaan en sy vrou het ook beserings aan haar arm en bene opgedoen waarvoor albei later in die Life Bayview-hospitaal behandel moes word. 
Die rowers het blykbaar Afrikaans gepraat en sowat 'n uur lank die huis deursoek vir waardevolle items. Hulle het met verskeie plasmaskermtelevisies, rekenaartoerusting, kontant en waardevolle juwele ontvlug.

Nadat die rowers padgegee het, kon die man daarin slaag om homself en sy vrou los te woel en die alarmknoppie te druk. 'n Familielid wat naby woon, asook lede van 'n private sekuriteitsmaatskappy was gou op die toneel.

Ondanks 'n uitgebreide soektog, is niemand nog in hegtenis geneem nie. Enigeen met inligting word versoek om die ondersoek-beampte, sers. Adéle Binneman by die Da Gamaskop-polisiekantoor te kontak by 044 606 2200.

Ons het gister soos volg berig:

Vreemde en onverklaarbare dinge gebeur deesdae in Mosselbaai wat nie net die Polisie en nooddiensspanne besig hou nie, maar ook die publiek en buurtwaggroepe se paraatheid, oplettendheid en samewerking verg.

1. Die MosJazz-fees was skaars verby, toe die liggaam van 'n onbekende jong vrou gister kort ná middagete in die see by die Punt gekry is. Wat die ondersoek bemoeilik, is dat geen vermiste persoon of geval van verdrinking by die SAPD aangemeld is nie. 
Die oorledene - 'n jong, blanke vrou met lang swart hare - is vermoedelik in haar laat tiener- of vroeë twintigerjare en was in 'n swart bikini-bostuk en denim-kortbroek geklee. 
'n Man het die liggaam glo Maandag by die sloepe in die see sien dryf en die Polisie en NSRI ontbied, waarna sy uit die water gehaal en na die forensiese patologie-eenheid geneem is.
‘n Geregtelike doodsondersoek-dossier is geopen. 
'n Beroep word op enigeen met inligting gedoen om na vore te kom om die identiteit van die oorledene en die omstandighede van haar dood te help vasstel. Mense met inligting kan die polisie kontak by 044 606 2850.

2. Nooddiensspanne was vandag nog op bystanddiens en besig met opruimingswerk by Hartenbos Heuwels waar 'n verwoestende wegholbrand gister twee huise in puin gelê en groot skade aangerig het, toe verskeie kleiner brande vanoggend onverklaarbaar in die Hartenbos-omgewing ontstaan het. 
Die drie afsonderlike brande wat vanoggend onderskeidelik oorkant die Riviera-hotel, op die treinspoor by Hartenbos en agter die Thusongsentrum in Aslapark ontstaan het, is gelukkig vinnig geblus voordat skade aangerig kon word. Twee chemiese toilette by Souwesiastrand is ook gister deur vlamme in puin gelê. 
Die oorspronklike brandgebied word steeds gemonitor om te verseker dat smeulende puin nie opvlam nie.

* Hoewel die oorsprong van gister se brand nog nie bekend is nie, het talle mense op sosiale media aangedring dat 'n behoorlike ondersoek na die oorsaak geloods word om brandstigting uit te skakel.

3. Intussen krap mense blykbaar steeds kop oor een of meer mense wat gistermiddag soos hase op die dak van die St Vintcent-gebou op die hoek van Bland- en Kerkstraat rondgepring het - onder luide toejuiging en aansporing van omstanders. 'n Foto waarop 'n man duidelik op die dak van die gebou gesien kan word, is op sosiale media versprei. Hoewel meer as een mens glo op die dak gesien is, is geen verdere inligting bekend nie. Die Mossel Bay Advertiser het versoek dat mense met inligting hulle kontak.

4. Terwyl Mosselbaai klaar weer sy vere regskud vir die Dias & Hawefees wat op 31 Januarie 2019 afskop, raak diewe en boosdoeners al hoe waaghalsiger en gewelddadiger. 
* Die afgelope MosJazz-fees het vir minstens vier besoekers 'n wrang smaak in die mond gekry toe hulle Vrydag net ná middernag deur drie gewapende mans oorrompel en van hul reissakke en persoonlike besittings ter waarde van sowat R25 000 beroof is by die gastehuis in Tornynstraat, De Bakke, waar hulle die naweek tuisgegaan het.

Die rowers het blykbaar oor die draad gespring en op 'n manier die toegangshek na die stoep, waar die feesgangers gesit het, oopgesluit gekry. 
Hoewel die feesgangers binnetoe gevlug het, het die rowers nogtans met hul besittings weggekom.

* In 'n ander voorval is 'n paartjie Sondag omstreeks 12:00 deur twee mans wat met pangas gewapen is, by hul huis in Blue Waters ingewag, gedreig en beroof. 
Die paartjie wou net by hul huis in Louis Fourieweg - tussen De Bakke en Diasstrand - ingaan, toe die mans hulle oorval het. Die rowers het met 'n selfoon, handsak en kontant met 'n gesamentlike waarde van sowat R2 500 weggekom.

* In nog 'n voorval in Tornynstraat, De Bakke, is twee mans wat op 'n bouperseel gebly het, gisternag omstreeks 01:50 deur drie mans beroof. Die slagoffers het wakker geskrik van 'n lawaai en die rowers binne die gebou aangetref. 
Die rowers het weggekom met persoonlike besittings ter waarde van sowat R5 000, wat 'n beursie, selfoon en skoene insluit.
In 'n poging om van die rowers te ontvlug, het een van die slagoffers in die donker van 'n balkon afgespring en homself so erg beseer dat hy hospitaal toe geneem moes word vir mediese behandeling.

 
Meer foto's en inligting op ons FB-blad: 
 
 
 
Related Articles: