Wat gaan aan in die land dat moord skynbaar deesdae die "maklikste" oplossing vir alle probleme geword het? Het ons 'n wêreld en stelsels geskep wat toenemend geweld, moord en selfdood as die "enigste" of "maklikste" uitweg uitbeeld? 

Dit maak nie saak watter koerant of nuuspublikasie jy lees nie . . . die opskrifte basuin moord en doodslag en geweld uit - veral in Suid-Afrika. Die ergste is dat dit op ALLE bevolkingsgroepe van toespassing is en dat dit veral mans is wat betrokke is, al is daar 10 keer meer vroue as mans in die land. 

Is Suid-Afrikaanse mans meer gewelddadig en moordlustig as dié elders in die wêreld, of lyk/voel dit net deesdae so . . . ? Het die oorgang van tradisioneel patriargale en paternalistiese stelsels na "gelyke regte" op die Afrika-kontinent (waar die man so lank as die broodwinner en hoof van die huis beskou was), nou té veel kortsluitings veroorsaak? 

Egskeidings en enkelmaskap is aan die orde van die dag, wat die tradisionele "hoof van die huis"-scenario heeltemal omgekeer het. Die swak ekonomie, staatskapings en regstellende aksie maak almal moedeloos . . . maar wat dryf oënskynlik goed-opgevoede, welaf mense - en ook jongmense - dan toenemend tot moord? 

Elke liewe dag skreeu 'n koerantopskrif dit uit van nóg 'n man wat sy meisie, vrou of gesin vermoor het - selfs al het hulle oorsee gaan woon. Is dit ook die oorblyfsels van 'n oorwegend patriargale polisie- en regstelsel wat SA mans té lank toegelaat het om weg te kom met geweld, verkragting en moord op vroue en kinders? 

Die jongste Stella-moorde - waarin die 19-jarige Xander Bylsma blykbaar erken het dat hy sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16) verwurg het, het drie ouerpare en die gemeenskap van dié "veilige landelike" dorpe in Noordwes tot in sy fondamente geskud. Volgens al die inligting tot dusver blyk dit of Xander verlede Vrydagaand met voorbedagte rade die twee meisies alleen in die skoolkoshuis op Stella wou hê, en hulle toe koelbloedig verwurg het voordat hy twee whatsapp-boodskappe na Sharnelle se geskeide ouers gestuur het om dit na selfmoord te laat lyk. 

Stella Sharnelle en Marna

Die vermoorde twee boesemvriendinne - Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16). 

Wat gaan aan? Hoekom móór as jou huwelik of verhouding nie uitwerk nie? In dié geval kon dit ook nie eens oor geld gegaan het soos wat dikwels die motief blyk te wees nie. Wat laat mense "snap" - ook jong kinders - dat hulle tot so 'n primitiewe, onmenslike daad oorgaan? 

 * Die Rohde-saak is nog in volle swang waarin die voormalige Sotheby-eiendomsmagnaat Jason Rohde beweer sy vrou, Susan, het selfmoord gepleeg deur haarself met 'n haartang aan 'n badkamerdeur op te hang by die Spier-landgoed buite Stellenbosch. Sy verweer is dat Susan nie sy buite-egtelike verhouding met 'n Sotheby-kollega kon hanteer nie . . . 

Jason Rohde

Tog is haar dood voorafgegaan deur aggresiewe verbale en fisieke onderonsies waarin hy erken het dat hy haar hardhandig weggestoot en aan die keel beetgehad het. Hy was ook van plan om te skei. 

.* Rob Packham (57), ’n sakeman van Constantia, se verhoor is ook nog aan die gang. Packham word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Gill Packham (52), ’n administratiewe beampte by die Springfield Convent School in Wynberg, in Februarie vanjaar vermoor het.

Rob en Gill Packham

Haar verkoolde lyk is op 22 Februarie kort ná 22:00 in die kattebak van haar uitgebrande groen BMW gevind. In hofgetuienis het dit aan die lig gekom dat Packham vreemde seksuele voorkeure gehad het wat hy op sy vrou probeer afdwing het. Hy wou blykbaar ook skei. 

 * Die Oos-Kaapse sakeman Christopher Panayiotou (31) is verlede jaar ná 'n uitgerekte hofsaak uiteindelik skuldig bevind aan die moord op sy onderwyseres-vrou Jade, op 21 April 2015 in Port-Elizabetth. Panayiotou het 'n minnares gehad en was die baasbrein agter 'n komplot om die skietdood van sy vrou na 'n ontvoering deur vreemdelinge te laat lyk.
 
Liefdesdriehoek: Christopher en Jade Panayioutou en sy minnares Chanelle Coutts (links).

Christopher Panayioto

Sy kierankie het egter gebraai en hy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis en sy twee mede-beskuldigdes onderskeidelik tot lewenslange en 15 jaar tronkstraf. 
 
* In Engeland is die Suid-Afrikaans-gebore Emile Cilliers, ’n sersant in die Britse weermag en pa van ses, Donderdag in ’n herverhoor skuldig bevind aan poging tot moord nadat hy onder meer met sy vrou, Victoria, se valskerm gepeuter het. Hy het by 'n vorige geleentheid blykbaar ook probeer om haar en hul kinders te vermoor deur 'n gaslekkasie en ontploffing te veroorsaak terwyl hulle slaap en voordat hy na sy minnares vertrek het. Victoria het in albei gevalle ternouerdood aan die dood ontkom. http://www.dailymail.co.uk/news/article-5766783/Army-sergeant-GUILTY-trying-murder-wife-sabotaging-parachute.html

Emile Cilliers  Victoria Cilliers   


Benewens die twee aanklagte van poging tot moord, is die Suid-Afrikaner wat vanaf 2005 aan die koninklike ingenieursregiment verbonde is, onlangs in die hof in Winchester, Engeland, ook skuldig bevind aan "roekelose lewensbedreiging". 


Is dit deesdae "normaal" dat mans en vroue so hardhandig baklei dat dit in moord/iemand se dood eindig pleks van om eerder te skei? Ook in die Stella-moordsaak is beweer dat Xander baie besitlik was en "rof" met Sharnelle gewerk het en haar gedreig het. Is dit die voorbeeld wat volwassenes stel wat die jeug van vandag sien en navolg? 


Die lys van moorde waarby kinders en jong volwassenes in Suid-Afrika betrokke is, groei kommerwekkend vinnig. Hier is net 'n paar van die onlangse en mees opspraakwekkende moorde wat deur jongmense gepleeg is: 

* Lotter-sibbes 2008: Nicolette en Hardus Lotter was onderskeidelik 26 en 20 jaar oud toe hulle in 2008 hul ouers, Johnny (53) en Riekie (52) Lotter, in hul huis in Westville, Durban, grusaam vermoor het - glo op aandrang van die meesterbrein, Mathew Naidoo (toe 21) wat in daardie stadium Nicolette se verloofde was.

Lotter Johnny en Riekie LotterLotter 3

Naidoo het glo geglo hy is die "derde seun van God" en het die sibbes oortuig hul ouers is boos en moet doodgemaak word. Nicolette het haar Ma herhaaldelik met 'n mes gesteek en Hardus het sy Pa in sy bed met 'n elektriese koord verwurg. Hulle is in 2012 gevonnis tot onderskeidelik twaalf en tien jaar tronkstraf, en Naidoo is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Hardus is vroeër vanjaar op parool vrygelaat. 


* Paasnaweek 2012: Die vonnis in die Lotter-saak was nog nie eens gevel nie toe die Don Steenkamp-saak van Griekwastad die land weer eens ruk. In die twee jaar wat die verhoor geduur het, wou en kon min mense glo dat dié oënskynlik gelukkige 15-jarige rykmanskind in staat sou wees om op Paasnaweek 2012 sy suster Marthella (14) te verkrag en haar daarna saam met sy ouers, Deon (44) en Christel (43) in 'n moord-orgie met verskillende wapens dood te skiet. Ses jaar later is die motief vir die moorde nog duister. 

Don Steenkamp gesinDon Steenkamp1


* Valentynsdag 2013: Terwyl die ondersoek na die Don Steenkamp-saak nog aan die gang was, is die land wéér geruk deur die skietdood van die bekende model Reeva Steenkamp (28) deur die paralimpiese wêreldkamioenatleet Oscar Pistorius.
 
Oscar en Reeva1Oscar

Pistorius was toe 27 jaar oud. Hy het aangevoer hy het gedink daar is inbrekers in sy meenthuis in Pretoria-Oos toe hy vier skote deur 'n geslote toiletdeur geskiet en Reeva noodlottig getref het. Dié hofsaak het ook wye internasionale mediadekking geniet en het vier jaar lank geduur. 

* 27 Januarie 2015: Van Breda-bylmoorde. Terwyl die wêreld se oë nog op SA gerig was met die uitgerekte en opspraakwekkende Oscar Pistorius-verhoor wat sterk aan die OJ Simpson-saak herinner het, is die land weer eens geskok deur die oënskynlik sinnelose bylmoorde op die welgestelde Van Breda-gesin in die De Salsa-veiligheidskompleks in Stellenbosch.

Van Breda gesinHenri van Breda


Weer eens kon en wou min mense glo dat die middelkind, Henri, wat in daardie stadium 20 was, vir dié gru-aanval op sy gesin verantwoordelik kan wees. Henri, wat nou 23 is, is verlede maand deur regter Siraj Desai skuldig bevind daaraan dat hy sy ouers, Martin (54) en Theresa (55) asook sy ouer broer Rudi (22) koelbloedig met 'n byl doodgekap het en ook probeer het om sy jonger sussie, Marli, wat toe 16 was, te vermoor. Hy is ook skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg omdat hy vals verklarings afgelê en met die moordtoneel gepeuter het om dit soos 'n rooftog te laat lyk. 


* 26 Mei 2018 - Stella-moorde. Die gemeenskap van Stella in Noordwes is verlede Saterdag tot in sy fondamente geskud toe twee gewilde hoërskoolmeisies dood aangetref is in die skoolkoshuis. Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) is verwurg terwyl hulle alleen in die meisie-afdeling van die koshuis oornag het.

Stella Xander

Die 19-jarige Xander Bylsma, 'n voormalige kêrel van Sharnelle en verlangse familie van Marna, is die enigste verdagte in die saak. Hy het na bewering reeds 'n skuldbekentenis afgelê en is in aanhouding tot 29 Junie wanneer hy vir die eerste keer om borgtog aansoek sal doen.
 
Rapport het vandag soos volg berig: 


Stella-moorde: Haar whatsApps nadat sy sterf
 

Kort nadat Sharnelle Hough in die skoolkoshuis by die Hoërskool Stella vermoor is, is twee ysingwekkende WhatsApp-boodskappe van haar foon af na haar ouers gestuur.

Pappa ek is jammer ek en marna sal van di plek af weg gaan,” lui die boodskap wat om 04:17 aan haar pa, Ronnie Hough, gestuur is.
Mamma ek wil net se eks lief vir mamma en ek is jame,” lui die boodskap wat haar ma, Sonja, ’n minuut tevore gekry het.

Stella 2 slagoffers



Maar teen die tyd dat die twee boodskappe, op die oog af twee selfmoordbriefies, van Sharnelle se foon gestuur is, was die 17-jarige meisie en haar beste vriendin reeds dood.

Rapport verneem betroubaar die polisie ondersoek die moontlikheid dat Xander Bylsma (19), hul vermeende moordenaar, dié boodskappe van sy eksmeisie se selfoon gestuur het om dit te laat lyk asof sy haarself om die lewe gebring het. Sonja sê dit is heeltemal moontlik omdat Bylsma die wagwoordpatroon van haar dogter se selfoon geken het.

Sonja sê sy is oortuig dis nie haar dogter wat die boodskap gestuur het nie.

Die spelling van die boodskap lyk nie soos my dogter s’n nie. Sy sal nie jammer uitskryf nie. Sy sal jmr in ’n boodskap gebruik.”
Die vreemde boodskap het haar ontstel en sy het dadelik vir Sharnelle se vriendin Marna ’n boodskap gestuur om te vra of Sharnelle by haar is, maar sy kon sien dat Marna om 01:43 laas aktief was op WhatsApp. Sy het daarna haar eksman gekontak om te hoor of hy iets oor die meisies se welstand en planne weet.

Stella Sonja Hough
Sonja Hough, Sharnelle se ma. 

Twee uur later het hulle die ontstellende nuus ontvang dat Sharnelle glo haarself aan ’n trapreling van die skoolkoshuis gehang het. Marna se lyk is in ’n badkamer op die vloer gekry. Ure daarna het Xander volgens die polisie ’n bekentenis afgelê.

’n Onberispelike bron na aan die ondersoek het aan Rapport gesê die legkaart oor wat aanleiding gegee het tot die tragedie begin nou in plek val. Xander was volgens die bron baie besitlik oor Sharnelle toe hulle nog saam was en het ’n klomp “reëls” vir haar neergelê, onder meer dat sy nie haar beenhare mag skeer nie. Volgens Sonja het haar dogter die verhouding twee maande gelede beëindig omdat Xander haar afgeknou het.
 
Ronnie sê sy dogter het hom drie weke gelede voorgestel aan ’n nuwe kêrel, ’n 17-jarige seun wat saam met haar op skool is en ook in die koshuis woon. Albei ouers het geglo hul dogter het nie meer kontak met Xander nie, maar hulle was verkeerd. Xander het steeds eise aan Sharnelle gestel, onder meer deur haar te “verbied” om die Donderdag voor haar dood na ’n skoolsokkie te gaan. Sharnelle het haar egter nie daaraan gesteur nie en is saam met haar nuwe kêrel na die sokkie. Xander het toe blykbaar daar opgedaag en die nuwe kêrel gedreig.

Stella Xander Bylsma en Shanelle Hough

Die seun het die afgelope week aan Rapport gesê die polisie het hom gevra om nie te veel te sê nie. “Al wat ek kan sê, is dat hy my ’n paar keer geïntimideer het. Die laaste keer was toe hy my by die sokkie voorgekeer het.” Die Vrydagaand voor hul dood was Sharnelle en Marna alleen in die koshuis, wat gewoonlik naweke gesluit is, omdat hulle die Saterdagoggend vroeg Koster toe sou gaan vir ’n sportbyeenkoms. Albei meisies was pompommeisies wat by die byeenkoms sou optree.
 
Rapport se bron sê hulle het die matrone gevra om die veiligheidshek oop te los omdat iemand vir hulle klere moes bring. Dit was glo Xander op wie hulle gewag het. Volgens die bron vermoed die polisie Xander wou die meisies alleen kry.

“Hy het dit reggekry om die twee van mekaar te skei voordat hy sy planne uitgevoer het. Hy moes dit alles baie vinnig gedoen het sonder dat die matrone of die rugbyspelers in die ander vleuel van die koshuis kon hoor.”

Die bron sê Marna is vermoedelik eerste verwurg in die badkamer van die koshuis. “Hy het haar as ’n struikelblok beskou vir sy verhouding met Sharnelle.” Daarna het hy glo vir Sharnelle verwurg en die moorde soos ’n dubbele selfmoord laat probeer lyk. Sharnelle het aan ’n tou aan die trapreling gehang. Die matrone het vroeg die volgende oggend op Sharnelle se lyk afgekom.
 
Die polisie se ondersoek moet nog bepaal of Sharnelle met die tou verwurg is en of sy daarmee opgehang is nadat sy vermoor is. Met Rapport se besoek aan die koshuis was die plastiekomhulsel van die trapreling gebreek en toumerke was sigbaar. Diegene wat Xander, ’n oudleerling van dieselfde skool, ken, was geskok om te hoor hy is in hegtenis geneem. Dawie Jacobs, ’n vriend van Xander van Hartswater in die Noord-Kaap, sê nadat hy matriek geskryf het, het Xander geld verdien deur roofdiere op boere se plase te beheer en het veral jakkalse in die omgewing teen betaling geskiet.

Volgens hom het Xander ’n vriendelike en aangename persoonlikheid. Met die meisies se gedenkdiens Vrydag in ’n stampvol NG kerk Noord in Vryburg was die skoolmaats van die twee gr. 11-meisies ontroosbaar.

Stella traplening

Die plastiekomhulsel van die trapreling waaraan Sharnelle Hough se lyk met ’n tou vasgemaak is, was gebreek. Foto: Deon Raath
 
Dawid van Zyl, ’n familievriend, het tydens die diens gesê God het besluit hy het die twee blinkoogvriendinne in sy koninkryk nodig. “Ons sal een vir een by hulle aansluit. Ons groet twee besonderse dogters wie se lewe nog in die beginfase was. Stella se twee sterretjies word al klaar gemis.”

Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, sê hy kan nog nie oor sy dogter praat nie. Hy het vroeër die week op Facebook geskryf: “Ek is onherstelbaar opgef*k!!!! Eks ’n pa!!! Eks ’n mens!!!! Eks bef*k!!!! Eks hartseer!!! Hoe loop ek die pad verder???? My hart voel soos ’n stuk rubber!!”

Stella1 Marna Engelbrecht en haar pa Stefaans

In die begrafnisbrief was sy liefde vir sy dogter ewe sterk. “ ‘Poepie’ se lalapansie, jy is pappa se ligstraal en my rede om te lewe. Jou lag en lawwigheid het altyd die son weer laat opkom en die maan helder laat skyn. Ek kan nie totsiens sê nie, maar tot weer siens. Hou vir pappa ’n plekkie daar bo. Pappa ‘laaik’ jou kwaai.”

Xander het Maandag in die landdroshof in Stella verskyn op twee aanklagte van moord. Hy wou nie aansoek doen om borgtog nie, omdat hy vrees vir sy veiligheid. Intussen het hy aangedui dat hy wel wil aansoek doen om borgtog. Dit word op 20 Junie aangehoor.
https://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/kyk-stella-moorde-eksklusief-20180603

* Speel die oorblyfsels van ons ou patriargale Polisie- en regstelsel dalk ook 'n rol in die toenemende geweld teen en moord op vroue ONDANKS die wêreldwye #Me too-veldtogte?
Related Articles: