Goeie mense moet nou saamstaan teen die uitwissing van die natuurlewe, sê omgewingsbewaarders oor die leeuslagtings in die Vrystaat wat skokgolwe oor die wêreld heen gestuur het.

Marietjie Gericke het met van die mense hieroor gepraat.

leeus tierwyn4

Leeus word op strepe geslag en die bene in die Ooste vir die maak van “tierbeenwyn” verkoop – ’n soort delikatesse. Omdat tiere nou al omtrent uitgewis is, spits die Oosterse mark hom nou op leeubene vir die maak van dié “goeie” wyn toe.

Dit is waarom meer as 800 leeukarkasse verlede jaar van Suid-Afrika na die Ooste uitgevoer is nadat
Edna Molewa, minister van omgewingsake, die permitte hiervoor goedgekeur het.
Sagte organe soos leeuharte, -galblase en -lewers, is weer in Suid-Afrika gewild onder sangomas en
nyangas wat bygelowe het soos dat dit jou teen voorvadergeeste kan beskerm en glo onsigbaar kan maak as jy ander diere gaan stroop.

So sê Carl Thornton, stigter en direkteur van Pit-Track K-9, ’n gespesialiseerde bewarings- en
teenstropingseenheid wat gemoeid is met die bewaring van skaars fauna- en flora-spesies in Suid-Afrika.
Hy het die Vrystaat verlede naweek besoek om ondersteuning te gee in die ondersoeke na die
grootskaalse leeuslagtings in dié provinsie.

leeus tierwyn1

Drew Anderson, stigter en uitvoerende hoof van die Captured in Africa Foundation, en
Carl Thornton, stigter en direkteur van die Pit-Track K-9-beskermings- en antistropingseenheid
saam met van die honde van die eenheid wat gebruik word om wildstropers aan te keer. 

Hy sê soos met renosterhoring, glo die Oosterlinge, soos die Viëtnamese en Chinese, dat leeubene ryk aan medisinale waarde is.
Dit kan soos Viagra die libido opstoot, uiterste siektes soos kanker genees, dit kan die immuunstelsel
versterk, dit kan as geestelike aanhitser of “booster” dien en dit kan jou sterk van binne maak, is van die gelowe wat bestaan.
In Suid-Afrika word leeupote en die snoet en kaakgedeeltes in die gesig van die leeu, vir die maak van
moetie gestroop.
“Etiek bestaan nie meer nie. Géén waarde word meer aan menslike lewe geheg nie, wat nog aan dierelewe,” sê hy.
“Dit is waarom goeie mense moet saamstaan teen die terroriste wat Suid-Afrika se wildlewe vir eie gewin kom steel en uitroei.”
Thornton sê ’n mens vind dikwels in Suid-Afrika waar grondeise aan die gang is, dat ’n rasse-oorlog tussen mense van die verskillende rasgroepe uitbreek en dat hulle dan wraak op mekaar se diere neem.
“In die konfliksituasies wat ontstaan, word vergelding verkry deur mekaar se diere te vergiftig of te steel.

leeus tierwyn2

Carl Thornton, stigter en direkteur van die Pit-Track K-9-beskermings- en antstropingseenheid,
wat honde inspan om te help om skaars wildsoorte in Suid-Afrika teen stroping te beskerm. By hom is een van die 27 honde wat gebruik word. Foto: Facebook

“Daar sal byvoorbeeld ’n groep mense uit die landelike omgewing kom wat sal sê dat die boer se leeus hul beeste of skape gevang en opgevreet het. Daaromis dit nodig vir vergelding en sal hulle weer die boer se leeus met vergiftigde hoenderstukke uit die weg gaan ruim,” sê hy.
Thornton sê hy het veral baie met die bewaring en beskerming van renosters gewerk, maar probeer om enige dier van stroping te red.
Met die Pit-Track K-9-beskermings- en anti-stropingseenheid, wat in Bloubosrand aan die noordwestelike kant van Johannesburg begin is, word sowat 27 honde ingespan as deel van die werk van die antistropingseenheid wie se hoofdoel dit is om renosters en ander bedreigde spesies uit misdaadsindikate se kloue te red.

“Ons eenheid het die mens se beste vriend (honde) begin inspan teen die stroop van Suid-Afrika se wild sodat honde ook bedreigde spesies se beste vriend geword het.”

leeus tierwyn5

’n Goed opgeleide pitbull-hond wat enige wildstroper op sy herrie sal gee, oefen sy vaardighede by die Pit-Track K-9-beskermings- en anti-stropingseenheid in Johannesburg. Foto: Facebook

Daar is ook sowat 30 teenstroop-operateurs wat hulle vrye tyd opoffer om bedreigde spesies teen stroping te beskerm.
Waar ander teenstroop-eenhede hele natuurreservate patrolleer, sal Pit-Track-operateurs diere soos renosters, miervreters of Afrika-rotsluislange wat beskerming nodig het, versteek. Dit veroorsaak dat stropers nie ongesiens kan toeslaan nie.
Tweedens word soos die Amerikaanse weermag wat K9-honde-eenhede in Irak gebruik het, ook van honde gebruik gemaak. Pit-Track het tien Belgiese Malinois en 14 pitbull-terriërs, terwyl Belgiese bloedhonde en weimaraners ook gebruik word.
“Die Malinois volg die reuk van stropers vinniger as wat menslike opspoorders kan doen, en pitbulls word gebruik om stropers aan te keer. Die Belgiese bloedhonde kan weer dieredele soos renosterhoring uitsnuffel.”

In ’n artikel wat in The Citizen oor die Pit-Track K-9-eenheid verskyn het, word gesê dat terrorisme
wêreldwyd gefinansier word deur misdaadsindikate wat hulle op die stroping van wild toespits.

leeus tierwyn6

Drew Abrahamson, stigter en uitvoerende hoof van die Captured in Africa Foundation,
wat hom veral op die beskerming en bewaring van groot katte soos leeus en tiers toespits,
besig om haar passie uit te leef. Foto: Facebook

Toe reeds is deur die Verenigde Nasies (VN) gereken dat die geldwaarde van die onwettige handel met wild tussen R275 miljard en R340 miljard jaarliks kon wees.
“Stroping finansier globale terrorisme en die wêreld moet weet wat aan die gang is omdat mense nie bewus hiervan is soos wat hulle moet wees nie,” het Thorntontoe in die artikel gewaarsku.

Drew Abrahamson, uitvoerende hoof en stigter van Captured in Africa, nog ’n nie-regeringsorganisasie wat wild beskerm, het Thornton na Bloemfontein vergesel om ondersoek te kom doen oor wat met die leeuslagting op verskeie Vrystaatse plase aan die gang is.
Abrahamson is ook die stigter van die Captured in Africa Foundation waarmee geld vir die organisasie gegenereer word.

Captured in Africa is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, wat gestig is om voortdurende
beskerming, hervestiging of redding aan weerlose groot katte soos leeus en tiere wat bedreig word, te bied.

Dit is dié wat in die natuur vrylopend is, asook dié wat in gevangenskap is.

“Dit was suiwer liefde en passie vir Afrika se natuurlewe en spesifiek vir die groot katte wat gemaak het dat ek die organisasie gestig het.”
Abrahamson staan as “The Lion Lady” bekend en met haar familie wat by die rehabilitasie en redding van wild betrokke is, het sy tussen veldwagters en veeartse grootgeword.
Sy het in haar lewe baie noue ontmoetings met wild gehad en werk graag saam met toevlugsoorde vir die diere wat beskerming nodig het.
“Diere laat jou toe in hul wêreld en bied ’n vertrouensverhouding wat nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.”


Die twee was ook na Bloemfontein vergesel deur Frederick Christea, ’n kameraman van Frankryk, wat
dokumentêre rolprente oor wildstroping en die bekamping hiervan in Suid-Afrika maak.

leeus tierwyn3

Só lyk Tiger Bone Wine - 'n delikatesse in die Ooste waarvoor al ons bedreigde dierespesies stelselmatig uitgeroei word.

Lees ook: 

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/geblikte-leeubedryf-ruk-handuit-pres-ramaphosa-loop-deur-onder-kuberkrakers

https://www.netwerk24.com/Nuus/Omgewing/ons-leeus-word-uitgewis-vir-tierwyn-20180511

 

Related Articles: