Shell het belangstelling verloor in sy omstrede Karoo-projek vir hidrobreking op sowat 90 000 km².

 

shellDié multinasionale olie-en-gasmaatskappy het Donderdag toegegee hy het sy Karooprojek
“afgeskaal” en ’n klomp werknemers afgedank.
Dineo Pooe, Shell se Suid-Afrikaanse woordvoerder, het by navraag gesê met die lae olieprys is Shell genoodsaak om sy bedrywighede in die Karoo in te krimp.

Boonop wag Shell nog op die departement van minerale bronne om “duidelikheid” te gee oor die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne.

Pooe sê Shell is steeds verbind tot sy “ander projekte” in Suid-Afrika.

Derek Light, regsverteenwoordiger van 400 grondeienaars in die Karoo, het Vrydag gesê Shell se aankondiging is “ ’n groot verligting”.
“Ons het nege jaar lank baklei om dié maatskappy van sy planne te laat afsien.”

Light sê hy is nie verbaas oor Shell se aankondiging nie, want die projek sou nie vir sy aandeelhouers lonend gewees het nie.

“Hierdie projek het Shell nou al baie geld uit die sak gejaag. Buitendien sou Shell miljoene liter water van iewers moes invoer vir hidrobreking. Die maatskappy het ook die omvang van die gasreserwes ver oorskat.

fracking debate

“Nie een van die toetsgate wat Shell geboor het, het ekonomies ontginbare volumes gas gelewer nie,” sê Light.

Shell het aanvanklik vermoed daar is 485 000 miljard vierkante voet (Tcf/Tvv) gas in die Karoo, terwyl studies toon daar is waarskynlik net sowat 13 000 miljard vierkante voet.
Dié bevindings is in September 2017 in die Journal of Science gepubliseer. Die navorsing is gedoen deur navorsers aan die Universiteit van Johannesburg, die Raad vir Geowetenskap en die Universiteit van Portsmouth in Engeland.

Volgens Light het Shell propaganda gebruik om mense se guns te wen toe hy gesê het hy gaan 400 000 werkgeleenthede skep. Studies het later gewys die projek sou net werk vir 3 000 mense kon skep.
Light sê diegene wat teen Shell geveg het, het “baie stamina” gehad. Dit het die mense ook ’n enorme klomp geld gekos om hof toe te gaan.

https://www.netwerk24.com/Nuus/Omgewing/shell-blaas-aftog-oor-hidrobreking-in-karoo-20180413

Related Articles: