Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery Beach House Restaurant Wolwedans Game Farm Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World Property Pointer Top Up Service Station

 

MosselbayonTheline | First With The News


Bykans 100 000 SA’ers deur Facebook-skandaal geraak
Dit het onlangs aan die lig gekom dat byna 100 000 Suid-Afrikaners deur die onlangse Facebook- datalekkasie geraak is en nie minder as 60 000  soos aanvanklik geraam was nie.
 
Facebook het vroeër gesê dat 33 Suid-Afrikaners die omstrede app “thisisyourdigitallife” afgelaai het waarmee Cambridge Analytica wêreldwyd tot 87 miljoen gebruikers se data versamel het.

Almal wat die app afgelaai het, het (waarskynlik onwetend) toestemming gegee dat die app hul inligting mag versamel, sowel as dié van al hul Facebook-vriende.
Die sosiale netwerk het sedertdien ’n rits veranderinge in werking gestel om te keer dat nóg maatskappye op hierdie wyse gebruikers se data op ’n onvanpaste wyse bekom.
 

 Facebook: Niks is meer privaat nie

Wat is die implikasies van Facebook se data-herrie? Murray La Vita het met kenners gepraat.

facebook
'n Jong Mark Zuckerberg by die ingang van Facebook se kantore in Palo Alto, Kalifornië.

 

Dit is net logies dat ons privaat inligting nie veilig is nie, sê prof. Basie von Solms, direkteur van die sentrum vir kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg (foto onder).

  Facebook Basie von Solms

“Daar is 2 miljard mense wat Facebook gebruik; die feit dat daar soveel mense is wie se privaat inligting, op Facebook alleen, iewers in die kuberruim rondlê; die feit dat daar op byvoorbeeld ook Instagram miljarde gebruikers se privaat inligting is . . ."

"As jy kyk na die hoeveelheid kuberkrakings wat plaasvind, dan is dit net logies dat daardie data nie veilig is nie.”

Netwerk24 het met hom gepraat teen die agtergrond van die herrie oor Facebook wat sy gebruikers se data versamel en met derde partye soos Cambridge Analytica ('n instelling soortgelyk aan die omstrede Bell Pottinger) gedeel het. “Hoe meer ons privaat sosiale netwerke gebruik, hoe meer raak ons data onveilig. “Die hele ideaal van die privaatheid van data is iets wat ons najaag, maar wat onbereikbaar is. Ons gaan net meer en meer blootgestel word; ons gaan onder die indruk verkeer ons data is veilig; ons gaan beloftes kry van sosiale netwerke dat ons privaat inligting veilig is, maar dit is nie en dit sal nooit meer wees nie.

“Ons het die bus gemis wat dit betref en ons moet ons lewe begin aanpas deur te sê dit lê nou by mý om te bepaal watter data ek in die kuberruim gaan plaas, want ek weet iemand gaan dit iewers sien."

“Veral wat sosiale netwerke betref, moet jou houding wees dat dit wat jy op daai netwerk plaas, jy netsowel op papier kan skryf en in die straat laat rondwaai; jy gee nie om as dit gekompromitteer word nie. As jy nie daai houding het nie, gaan jy teleurgesteld wees as jou privaat data gekompromitteer word.”

Gesofistikeerde krakers

Von Solms meen die punt is bereik waar kuberkrakers so gesofistikeerd geword het dat as hulle data van ’n privaat maatskappy of ’n staatsdepartement wil hê, kan hulle dit ook in die hande kry.
 

“So ek sou nie eers sê dat jou data dáár veilig gaan wees nie. Die oomblik wanneer daar iets is wat jy nié wil hê die wêreld moet sien nie, dan moet jy dit nie op sosiale media plaas nie."

 “Verder gaan ons toenemende druk op privaat maatskappye en staatsinstellings kry, maar ek dink ons het dáár ook die bus gemis. Daar is genoeg voorbeelde oor die wêreld van ’n mássiewe hoeveelheid . . .

"Verlede jaar is 60 miljoen Suid-Afrikaners se inligting in die kuberruim gekraak. So die bus is weg."

Hy praat oor “splinternet” of die “balakanisering” van die internet, waar lande begin om grense te trek rondom die internet of kuberruim in die sin dat daar “ ’n meerderheid internette” gaan ontstaan waaroor hulle meer beheer kan uitoefen.
sms

“Of dit veel gaan help, weet ek nie, maar dit is definitief ’n neiging dat lande meer regulasies gaan instel en beheer gaan uitoefen oor wat in die kuberruim van hul persoonlike inligting geplaas word.

"As jy gaan kyk na die Europese Unie met sy nuwe dataprivaatheidsreëls wat hierdie jaar ingestel word – dis baie streng en daar is baie groot boetes, maar nogtans sal dit gekraak word.”

Hy meen ons as gebruikers moet meer begin eis van privaat maatskappye wat ons data laat kompromitteer, of dit nou ’n bank of ’n staatsdepartement is.

“Ons moet klasaksies instel en daai ouens regtelik verantwoordelik hou as ons data gekompromitteer word. Hierdie 60 miljoen Suid-Afrikaners se inligting verlede jaar – wat weet ons daarvan? Niemand het nog ’n woord gesê nie; niemand is nog skuldig bevind nie . . . Dit het nou maar net gebeur! Dis nou maar jammer en dit kan tog nie so wees nie! Maar dit bevestig net my punt dat ons nie meer beheer het oor wat gebeur nie."

‘Nie ’n lekkasie nie’

Arthur Goldstuck, media-en-internetkenner, sê die lekkasie waarvan almal praat, is nie regtig ’n lekkasie van data nie.

“Dit was eerder ’n geval van Facebook-data wat op ’n wyse gebruik is wat nie goedgekeur was nie en strydig met Facebook se bepalings en voorwaardes was. Maar dit was nie ’n sekerheidsbreuk as sulks nie; dit is inligting wat beskikbaar gestel word aan app-ontwikkelaars wat op Facebook ingaan.

“En indien mense wel in hierdie voorval blootgestel is, maak dit nie eintlik meer saak nie. Ons praat oor iets wat ’n hele paar jaar gelede gebeur het en dit is nie data wat meer gebruik kan word nie.”

Hy is dit met Von Solms eens: Mense moet verstaan dat hulle hulself blootstel wanneer hulle sosiale mediums gebruik. Hulle is besig om in die openbaar op te tree, kan ’n mens maar sê.

“So enigiets wat jy op sosiale mediums sit, maak jy openbaar en dit lyk of mense dit nog nie besef nie. Mense dink die inligting op Facebook is skielik nie meer privaat nie, maar dit was nog nóóit privaat op Facebook nie.“

Die werklike kwessie is hoe jou data en inligting in die toekoms misbruik en wanaangewend kan word; dit wil sê hoe jy geteiken word op maniere waarvan jy nie bewus is nie en hoe jy gemanipuleer word sonder dat jy daarvan bewus is.

“Dit is wat Cambridge Analytica gedoen het. Hy het daardie tegniek gebruik om die uitkoms van verkiesings in Europa, die VSA, Brittanje en in Afrika te probeer beïnvloed. So dit was nie eenmalig nie en dit was nie ’n ongeluk nie; dit is deel van sy strategie en van die diens wat hy bied.

“Dit is natuurlik baie relevant tot Suid-Afrika, want Bell Pottinger het ’n soortgelyke strategie hier toegepas, behalwe dat hy hoofsaaklik Twitter gebruik het en groot groepe bots geskep het, naamlik vals rekeninge wat hy kon beheer. Hy het probeer om die narratief rondom ras en witmonopoliekapitaal in hierdie land te beïnvloed.

“Daar was ’n spesifieke agenda met ’n spesifieke narratief teenoor Cambridge Analytica se pogings om die uitkoms van verkiesings direk te beïnvloed. Maar dit is dieselfde soort denke dat jy kiesers en die publiek kan manipuleer deur hulle op sosiale media te teiken. Dít is waarop Suid-Afrikaners bedag moet wees.

“Facebook is ’n sosiale netwerk wat sy geld uit advertensies maak en dít maak dit vir ons moontlik om die diens gratis te gebruik. Maar dit beteken ook hy gaan al jou inligting gebruik om jou met advertensies te teiken.

"So as jy wil hê jou inligting moet privaat wees, moet dit nie op Facebook of Twitter sit nie.”

Dit is ook belangrik om te besef dat enigiets wat jy op Facebook of Twitter sien, kan in diens van ’n agenda staan.

“Dit kan daar verskyn met die doel om jou denke te manipuleer. In dié verband dink ’n mens aan al die fopnuus wat op Facebook gedeel word bloot omdat mense nie dink voordat hulle iets deel nie. En só stel hulle dan hul vriende en kontakte ook aan manipulasie bloot.”

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/facebook-niks-is-meer-privaat-nie-20180416

 
Pin It
Related Articles: