"Niks kan daardie gevoel van absolute magteloosheid en verlies beskryf wanneer jy sien hoe die vlamme nader kruip en uiteindelik jou huis (en lewe) binne minute verswelg tot 'n gitswart murasie vol as en roet nie. Dis iets wat ek niemand toewens nie . . . "

brand whatsapp3

Só het 'n Hartenbosser wat jare terug 'n huis in 'n brand verloor het, vanmiddag gesê waar bekommerde mense saamgedrom het om die digte rookwolke en vlamme bo Hartenbos Heuwels dop te hou.

Twee huise in Hartenbos Heuwels is verwoes en 'n derde beskadig, terwyl twee brandweerlede minder ernstige beserings opgedoen het, in die verwoestende veldbrand wat vanoggend in die omgewing van Hartenbos Heuwels uitgebreek en blitsig na omliggende huise versprei het.

brand Jean Labuschagne4

Só het digte rookwolke gister heeldag groot dele in die omgewing van Hartenbos Heuwels versluier.

Foto's met dank aan Nico Coetzee van PhotoCreate en Jean Labuschagne. 

brand whatsapp2

Danksy uitstekende samewerking en goeie kommunikasie tussen die onderskeie rampbestuurspanne en rolspelers was daar geen lewensverlies of verdere beserings nie en kon die brand voor 17:00 in sy spore gestuit word.

Danksy sosiale media en die onderskeie buurtwaggroepe is inwoners deurentyd op hoogte gehou van die tierende brand wat deur sterk wind aangevuur is.

Brand Jean Labuschagne

Hier kan duidelik gesien word hoe die vlamme vinnig deur stormsterk wind in die rigting van die huise aangevuur word. Die vlamme is gelukkig geblus voor dit ook na Hartenbos Landgoed en Seemeeupark kon versprei. 

Brand Jean Labuschagne2

Die R328 is in 'n stadium gesluit vir verkeer, terwyl leerders van Laerskool Hartenbos wat in Sonskynvallei woon, veiligheidshalwe tydelik by die skool se nasorgsentrum gehuisves is totdat die pad weer oopgestel is.

Hoewel inwoners van Hartenbos Heuwels, Menkenkop en Seemeeupark nooit amptelik kennis gekry het om hul huise te ontruim nie, het talle inwoners hul troeteldiere as voorsorgmaatreëls na die plaaslike DBV-tak geneem vir veiligheid.

brand Nico1

Innige meegevoel met die inwoners wie se huise afgebrand het of beskadig is, maar ook groot lof en dankbetuigings is op sosiale media gedeel oor die grootse spanpoging tussen lede van Mosselbaai se Brand- en Rampbestuursdienste, George Munisipaliteit, die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters en lede van Working on Fire wat so verbete in moeilike omstandighede geveg het om die brand so vinnig onder beheer te bring.

brand Nico6

Noodreddingswerkers van Working on Fire besig om water uit die Hartenbos-rivier te skep om die brande te blus. Foto: Nico Coetzee van PhotoCreate

Munisipale woordvoerders het ook hul lof en dank betuig aan alle rolspelers wat meegewerk het om 'n groter ramp af te weer. 

Opruimingsaksies het reeds teen 17:30 begin en noodspanne is steeds op 'n gereedheidsgrondslag om seker te maak smeulende brandpunte vlam nie weer op nie.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Bekommerde inwoners het hul vrese en vermoedens oor moontlike brandstigting en sabotasie onomwonde op sosiale netwerke uitgespreek en gevra dat die oorsaak deeglik ondersoek word om verdere brande in die toekoms te help voorkom, en sodat skuldiges aangekeer en gestraf kan word indien daar bewyse van brandstigting of nalatigheid is.

brand Nico3

Foto: Nico Coetzee van PhotoCreate

brand Jean Labuschagne3
Voorbladfoto en bostaande: Jean Labuschagne

* Die brand volg kort op die hakke van drie verwoestende brande wat sedert die begin van die jaar derduisende hektaar veld en talle huise in die Overberg verwoes het. Op Bettiesbaai/Pringlebaai is talle huise verwoes nadat 'n man op Oujaarsaand 'n fakkel in die berge afgevuur het, terwyl groot skade ook in Gansbaai en Hermanus aangerig is nadat ontstoke inwoners huise aan die brand gesteek het uit protes teen behuisingskwessies. 
* In November verlede jaar is nege gesinslede dood in die verwoestende brand by die bosboudorpie Karatara naby Knysna. Lees meer hier: 
http://www.mosselbayontheline.co.za/…/170-oelfse-gesin-verl…

Hieronder is videos en foto's van die reddingsaksie wat Nico Coetzee van PhotoCreate geneem het, asook ander wat wyd op sosiale media gedeel is.

https://web.facebook.com/elsa.wessels/videos/10156869882943397/

https://youtu.be/tzreRjDhraI

 
Nog foto's op ons Facebook-blad: 
 https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2326791894218731?

 

Brandbestryder beseer, huise brand

Deur  Jackie Kruger 21 Januarie 2019 

Minstens twee huise in Hartenbosheuwels naby Mosselbaai in die Suid-Kaap het onder 'n verwoestende veldbrand deurgeloop. 

’n Brandbestryder is Maandag beseer en minstens twee huise is in puin gelê in ’n veldbrand in Hartenbosheuwels in Mosselbaai in die Suid-Kaap. ’n Sterk wind het die brand, wat Maandag omstreeks 12:00 uitgebreek het, voortgedryf. Die Mosselbaaise munisipaliteit het kort ná 16:00 gesê die brand is in bedwang gebring.

Rowena Hendricks, ’n munisipale woordvoerder, het vroeër in ’n stemboodskap op die munisipale WhatsApp-groep gesê twee huise het afgebrand en ’n brandbestryder is beseer. “Ons word bygestaan deur brandspanne van die George-munisipaliteit en die Garden Routedistriksmunisipaliteit, en ons kry lugbystand van Werk met Vuur (WoF) en Mosselbaai-helikopters.” Niemand is uit hul huise in die gebied ontruim nie, luidens die Mosselbaaise munisipaliteit. Die R328 tussen Hartenbos en Oudtshoorn asook ander paaie in die gebied was ’n ruk gesluit, maar is later weer vir verkeer oopgestel. Leerlinge van die woongebied Sonskynvallei in die omgewing van die R328 is eers in die Laerskool Hartenbos se nasorgsentrum gehou. Hendricks het op die munisipale WhatsApp-groep gesê die opruiming van die brandgebied gaan voort.

Heidi Stoltz-Cronje van Riversdal, wie se familielede in Hartenboshuewels woon, sê dit lyk sleg daar. “Dit het tot teen die huis se heining gebrand en toe gestop.” Diere wat uit die Hartenbos-dierehospitaal in Hartenbosheuwels ontruim is, word tans in die Mosselbaaidierehospitaal gehuisves, berig die Mossel Bay Advertiser. Dit sluit ’n wildsbokkie in. Kort nadat die brand uitgebreek het, het die Hartenbos-dierehospitaal sy deure gesluit en die diere in veiligheid gebring.

Die Garden Route-dierebeskermingsvereniging (DBV) se Mosselbaaise tak het gehelp om troeteldiere uit die woonbuurt te verwyder. Mense met navrae oor troeteldiere kan die DBV by 044 693 0824 skakel. Tersia Marais van die Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart), ’n organisasie wat hom beywer vir die bewaring en redding van seediere en in die gebied was om te help, het ook ’n aantal skilpadjies gered. “Die brand is absoluut verwoestend,” het Marais gesê kort nadat sy in die gebied was.

Volgens die George-munisipaliteit het sy brandspanne ook aandag gegee aan ’n grasbrand naby die Outeniquaproefplaas by George, en nog ’n brand by Bosplaas op die ou Sewe Passe-pad tussen Wildernis en Hoekwil. Volgens ’n verklaring van die Garden Routedistriksmunisipaliteit se branddienste was die brand by Hoekwil in bedwang en het die opruiming voortgegaan. Een brandweervoertuig sal op die toneel bly. Die perimeter van die brand naby die proefplaas is veilig en opruiming het voortgegaan.


https://www.netwerk24.com/Nuus/Brande/hartenbosheuwels-brandbestryder-beseer-huise-brand-20190121#disqus_thread

 

Thys Giliomee1

Mosselbaai se munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, het soos volg op sy persoonlike Facebook-blad geskryf: 

Na ‘n middag, soos wat Mosselbaai vandag beleef het, is die dankbaarheid en waardering baie. Mosselbaai Munisipaliteit se brandbestrydingspanne het dadelik opgetree en het met die onbaatsugtige hulp van ons plaaslike sakemanne en met die hulp van ander owerhede en lugondersteuning ‘n baie groot krisis afgeweer.

Die situasie was baie ernstig. Met ‘n uiters sterk wind wat die vlamme van een droë plant na die volgende gejaag het, kon die skade baie erger gewees het. Twee wonings, uit die honderde wat vernietig kon word, is onherstelbaar beskadig in die brand. Die twee wonings is ongeveer 1.3km uit mekaar. Dit behoort ‘n aanduiding te gee van oor hoe ‘n groot afstand ‘n paar brandweermanne en -vroue hulle baie goed van hulle taak gekwyt het.

Mosselbaai Brandweer het hulle onmiddelik na die toneel gehaas, het onmiddelik die korrekte analises gedoen, het onmiddelik lugondersteuning versoek en het onmiddelik alle reserwepersoneel en alle beskikbare voertuie opgekommandeer na die brand. Dankie vir julle flinke en puik diens. Ek dink ook aan die 2 brandweermanne wat beserings opgedoen het. Een het, ongeag die brandwonde, aanhou veg teen die vuur. Die ander een moes in die hospitaal opgeneem word nadat ‘n kool in sy oog gewaai het.

Dankie aan George Munisipaliteit wat altyd berei is om Mosselbaai te help. Toe ek my kollega by George Munisipaliteit om hulp nader, was sy spanne reeds op pad na Mosselbaai en hy het verdere hulp aangebied indien dit benodig sou word.

Dankie aan Working on Fire en Mosselbaai Helicopers vir die lugondersteuning. Dit was veral julle optrede wat die verskil gemaak het. Dankie aan Garden Route Distriksmunisipaliteit wat hulp verleen het en ook later verantwoordelikheid vir die lugondersteuning oorgeneem het.

Dankie aan Mosselbaai se besigheidsmense wat weer onbaatsugtig saamgestaan het en ons brandweerpersoneer in elke opsig behulpsaam was. Ek wil OSS, Henra en Transand wat watertrokke beskikbaar gestel het, by name bedank. Dankie ook aan elkeen wat water, vrugte en hope ander voorrade aan die moë en verskroeide brandbestryders verskaf het. Baie dankie aan die groot getal buurtwaglede wat onmiddelik begin hulp verleen het.

Spanwerk en gemeenskapsdeelname het vandag gewen. Dit is wat Mosselbaai die beste maak. Mag dit altyd so wees

 

 

 

Related Articles: