VERKIESINGSKOORS VERBY - MAAR WAT NOU?

Afgetrede proffie skryf:

Vergun asseblief tog 'n sogenaamde 'outoppie' om ook sy stuiwer in die politieke armbeurs te gooi. 

Positiewe aspekte van verkiesing

Die afgelope verkiesing was seker een van my laastes en 'n mens is verlig dat dit relatief bloedvry en positief afgeloop het, al het duisende stembriewe weggeraak en 'n klomp kiesers sommer 'n paar keer gestem omdat die ink so maklik afgekom het.

Dankie ook vir jul pragtige foto's van my hartsplek Mosselbaai-omgewing en jul ONpartydige beriggewing oor die verkiesing - dis 'n welkome riem onder die hart dat 'n nuusblad hom nie laat insleep by dorpspolitiek en progaganda nie.

Die positiewe van die verkiesing is dat al die politieke partye hopelik nou besef dat hulle oornag uitgestem kan word as hulle nie hul beloftes teenoor kiesers nakom nie. Die publiek is keelvol vir korrupsie en die vermorsing van hul swaarverdiende geld. Die verkiesingstelsel sal hopelik ook nou danksy beskikbare tegnologie gemoderniseer word om vanjaar se probleme in die toekoms uit te skakel. Boonop wil pres. Cyril Ramaphosa blykbaar nou sy kabinet aansienlik verklein en ontslae raak van die vrot appels . . . Ons kan net hoop dit gebeur wel en bly nie net by praatjies nie.

Propaganda

Die feit dat die DA steeds in beheer van die Wes-Kaap bly en Mosselbaai die meeste DA-stemme van alle Wes-Kaapse dorpe ingebring het, is in sekere opsigte goeie nuus. 'n Mens kan egter nie help om te wonder of die DA se propaganda-masjien nie maar baie kiesers uit vals vrees die Blou Kruisie laat trek het om kastig te keer dat die radikale EFF dalk oorneem nie . . . ten koste van kleiner partye soos die ACDP, VF en Good wat 'n goeie balans kan meebring . . . 

Ek is self een van die kiesers wat so ontstig was oor die oordrewe DA-propagandamasjien wat tot op verkiesingsaand om 19:00 nog toegelaat het dat Helen Zille en Mmusi Maimane se hordes sms'e en stemboodskappe jou irriteer, dat ek op die laaste nippertjie vir een van die kleiner, gematigde partye gestem het wat goeie groei getoon het. Die boodskap wat die DA se boelie-taktiek van "verlore stemme" vir my uitgestuur het, is dat as 'n party hom nie eens steur aan die OVK se verkiesingsreëls nie, sal hy hom ook nie steur aan sy kiesers nie . . .   Die goeie vertoning van die VF, ACDP en GOOD het eweneens bewys die DA se bangmaakpraatjies van" 'n stem vir 'n kleiner party is 'n verlore stem" is 'n leuen in 'n proporsionele stemproses. Ongelukkig het baie kiesers dié onwaarheid geglo . . .   

Gesonde kompetisie

Sterk, gematigde politieke kompetisie in die Wes-Kaap is nou baie nodig en die DA behoort uit die uitslae te weet dat kiesers nie langer tevrede is met sy huidige status quo nie . . . 

Mosselbaai:

Die DA se weghol-oorwinning in Mosselbaai is ook tegelykertyd goeie en kommerwekkende nuus, want ook HIER is sterker, gematigde opposisiepartye se stemme broodnodig - veral in die raadsaal waar maak-of-breek-besluite geneem word waarvoor  belastingbetalers moet opdok. 

Dis een ding om gedurig te spog met die Wes-Kaap en Mosselbaai se prestasies, en die skoon dorp, strate, ens. te vergelyk met ander provinsies wat histories 'n totaal ander demografiese bevolkingsamestelling en kultuur gehad het . . . maar intussen is dinge baie vinnig aan die verander.

Die Wes-Kaap se volgehoue waterkrisis, hoogste moordsyfer in die land, hemelhoë munisipale tariewe weens foutiewe watermeters en lesings, dwelm- en perlemoensindikate en bendebedrywighede, ens. is nie juis 'n pluimpie vir goeie regering nie . . . en dit spoel ook vinnig oor na Mosselbaai se kant toe.

Misleidende propaganda 

Mosselbaai is lankal nie meer die rustige vakansiedorpie langs die see nie. Misdaad, betogings en protesoptogte wat paaie versper, stygende munisipale tariewe, behuisingsnood en planne van 'n samesmelting met George is besig om sy tol van inwoners te eis.

Verlede jaar het Mosselbaai en die Swartland-munisipaliteit gesamentlik die top-posisie beklee op die toonaangewende en gesaghebbende Ratings Africa-indeks vir munisipaliteite met die mees volhoubare en stabiele finansiële bestuur. Sedertdien het Mosselbaai vir die eerste keer in sewe jaar sy skoon oudit verloor en ook dié top-posisie op Ratings Afrika verloor . . . terwyl Swartland-munisipaliteit steeds bo-aan die lys is. 

Niks is egter hieroor berig nie en verlede maand is groot gewag gemaak van die nuwe Good Governance Africa-indeks waarvan niemand eintlik nog ooit gehoor het nie en wat eers in 2016 begin het om SA munisipaliteite en inwoners se "algemene welstand" oppervlakkig te evalueer . . .  maar wat weinig te doen het met finansiële bestuur?

Dis uiters misleidend. Dankie dat julle dit onder ons aandag gebring het. 

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/mosselbaai-bo-aan-lys-van-beste-munisipaliteite-in-land

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/metro-forming-talks-come-at-all-time-low-for-country-s-municipalities 

Voorts is ek bereid om my laaste pensioengeld daarop te verwed dat nie een van die Seemeeupark-huiseienaars, Aslapark-betogers en ander inwoners wat die afgelope jare groot skade gely het as 'n direkte gevolg van munisipale besluite, vir die DA gestem het nie. Dié groepe inwoners het ook 'n sterker stem in munisipale besluite nodig om die diversiteit en verskillende behoeftes van inwoners meer gebalanseerd en kragdadig op munisipale vlak te verteenwoordig. 

Ons kan net hoop die DA in Mosselbaai sal ook dié vertroue wat nou opnuut in hom gestel is, waardig wees en besef hoe maklik steun kan swaai as inwoners se belange nie op die hart gedra word nie en beloftes nie uitgevoer word nie.  

Laaste klip in die bos: 

In 'n land en dorp wat glo roem op sy Christenskap en Christelike beginsels, is dit vreemd dat 'n party soos die ACDP wat spesifiek dié beginsels voorstaan, nie baie meer stemme lok nie . . . ? In Mosselbaai word gereeld biddae gehou . . . maar waar is die Christene dan op stemdag? 

 

   Lees ook ander briewe: 

 http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/residents-urged-to-boycott-property-taxes

 

Related Articles: