‘n Klipgooi buite Mosselbaai op die Brandwag-grondpad begroet ‘n bosveld-landskap jou waar kameelperde, springbokke en eksotiese wildspesies nonchalant wei en die asemrowende tafereel vanuit die hoogte bespied. Dis die Wolwedans Game Farm & Country House – die jongste toevoeging tot Mosselbaai se vinnig-groeiende eko-vriendelike toerismebedryf. Ons het agter die skerms gaan loer:

wolwedans panorama1 2

Die baas van Wolwedans-wildplaas buite Mosselbaai is ‘n bésige man wie se hande, mond en ingenieursbrein nie vir ‘n oomblik stil is nie. Martin Jansen van Rensburg se kop en lyf werk soos ‘n goed-geoliede masjien in sync en op top-spoed, nes die eksotiese swartwitpenskudde- en ander wildspesies waarmee hy deesdae teel.

Hy groet gulhartig, en ryg dan die drome, prestasies en toekomsplanne stuccato in gelid af – nes die dosyne jagtrofeë in sy “Man’s Cave” – ‘n enorme oopplan-vertrek in die indrukwekkende “staal- en baksteen-paleis” wat hy in rekord-tyd op ‘n hoogte in die Brandwag-omgewing “uit niks” kom staanmaak het.

Vir vroulief Reinette – sy ou skoolkys uit Rustenburg se wêreld waar albei grootgeword en as jeugliefdes mekaar Saterdae op die sportveld van die Hoërskool Rustenburg aangemoedig het – hy as eerstespan-rugbyspeler en sy op die hokkieveld.

Sy eie skugter wildsbokkie wat slim geleer het om haar man te staan in ‘n bokram-huishouding waar Martin en sy pêlle en hul twee opgeskote seuns, Ruan (19) en Marcél (13) haar min spreekbeurte toelaat. Sy kla nie. “Dis eintlik lekker, want ek is meer ‘n introvert en kunsmens en as die manne so baie praat, kan ek konsentreer op my eie dinge,” lag sy.

wolfie9 3

Wat soek ‘n bedryfsingenieur van Rustenburg wat op skool as losskakel vir die destydse Wes-Transvaalse Cravenweekspan uitgedraf het; provinsiale rugby vir die destydse legendariese Oos-Transvaalse Rooi Duiwels gespeel het en stééds vir die Blou Bulle skree, nou langs die see in die hartjie van die Stormers se Tuinroete – en dit boonop op ‘n wildplaas?

wolf bok1 4

Die woorde vloed soos Januarie se welkome somerbuie op Wolwedans – Engels en Afrikaans deurmekaar – want al woon hy nou in ‘n oorwegend “Afrikaanssprekende” omgewing, dink en werk sy sakebrein nog in Engels. “Dit was van kleinsaf my droom om eendag my eie wildplaas te hê. Ek is baie lief vir jag – Rustenburg het mos baie wildplase en ek het van kleinsaf saam met my vriende plase besoek, maar noudat ek self met wild teel en elke dag in aanraking met hulle is, weet ek nie meer so mooi nie . . . “

Skoolliefde en groot deurbraak

Martin en Reinette het ná skool saam-saam aan die Pretoria Technikon geswot – sy Personeelbestuur en hy Bedryfsingenieurswese. Daarna het Reinette 18 jaar in die Menslike Hulpbronne -departement van Datacentrix in Midrand gewerk, terwyl Martin eers praktiese ervaring by M&B Pumps opgedoen en daarna as produk-ingenieur by Warman Africa gewerk het.

wolwe4 2 5

Foto Bo: Van die spogdiere op Wolwedans waarmee Martin nou teel . . .

wolf bokke1 6

Foto: Martin se trofeejagdae is nou iets van die verlede – hy teel nou eerder as jag.

Hulle is in 1997 getroud. Martin se belowende rugbyloopbaan het skipbreuk gely toe hy voltyds begin werk het. Sy groot deurbraak het kort daarna gekom toe hy as 27-jarige sy eie maatskappy Chromeplat Industrial Corporation op Rustenburg gestig het. Hy slaan outomaties oor na Engels – in topspoed:

“I designed my own submersible pump range for the mining industry. It is a unique product on its own with many advantages for the mining industry. It is the first SA designed pump company under one roof – from where we manufacture, repair and distribute.”

Vandag is Chromeplat Industrial Corporation ‘n huishoudelike naam in die SA mynbedryf en ook oorsee. Martin is steeds die grootste aandeelhouer en besoek nog gereeld die aanleg om ‘n ogie te hou, maar danksy elektroniese kommunikasie en ‘n briljante span mede-werkers hoef hy net so elke maand of twee daar te wees.

Dit was egter ‘n groot waagstuk wat hy op jong ouderdom met min geld en ondersteuning, maar met hope moed, selfvertroue en dieselfde visie aangepak het waarmee hy Wolwedans nou stuk vir stuk opgebou het tot ‘n spog-wildplaas met top-wildspesies . . . met boonop ‘n weelderige gastehuis wat ‘n ongelooflike vista oor ongerepte vlaktes tot by die see bied.

“Jy moet onthou, Rustenburg is die hub van platinum- en chroom-myne in Suid-Afrika. Ek het as bedryfsingenieur altyd gekyk hoe dinge werk en baie geleer – en die leemtes in die mark gesien. “Gelukkig het die Hollandse eienaar van ‘n metaalgietery, Roeland Verweij, potensiaal in my pompstelsel gesien en aangebied om die parte te vervaardig en die mark te toets . . . en gesê ek kan hom afbetaal soos ons aangaan.

“Dit het gewerk! Dit het my drie jaar geneem om die skuld af te betaal. Die produk het homself bewys en ons is dankbaar dat ons ná 18 jaar steeds die mark kan voorsien.”

En nou is die man wat erken hy kan nie ‘n oomblik stilsit nie en juis ingenieurswese geswot het omdat dit so uitdagend en veelsydig is, besig met sy volgende waagstuk en droom: Om een van die beste wildtelers van skaars en eksotiese wild soos swartwitpense, ens. in die land te wees. Die teelprogram wat reeds op Wolwedans bestaan, bied aan gaste die geleentheid om dié diere van naby te sien. Daar is ook kameelperde, koedoes, sebras, waterbokke, koffie-springbokke en verskeie kleinwildspesies wat vry op die plaas rondbeweeg.

wolwe3 7

Dié pragtige swartwitpens (bo) en langhoring-rooibokke (onder) is deesdae Martin se trots.

wolwe2 8

Van jagter tot teler

Hoe nou? ‘n Man wat van kleinsaf jag en al 72 van die 134 “bucket list” Suid-Afrikaanse wildspesies op sy kerfstok het, wil nou met die einste wild teel?

wolf 9

Foto: Die manne in hul element op Wolwedans – Ruan, Martin en Marcél.

Hy retireer ewe vinnig, bloos selfs so effens. “Ja, dit was altyd my en ‘n paar pêlle se droom om die hele ‘Bucket List’-ding te doen, maar nou is dit nie meer vir my belangrik nie. Ek wil nie olifante en wolwe jag nie – hulle is my gunstelingdiere. Ek kort nog ‘n krokodil-, luiperd- en ‘n klomp ander trofeë, maar noudat ek so intiem met die wild werk, het ek die trofeejag-ding so half ontgroei. Op Wolwedans gaan géén trofeejag wees nie.”

wolwe 10

Die ommeswaai het so 4 jaar gelede gekom toe hy in ‘n jagtydskrif ‘n artikel oor die bekende wildteler Jacques Malan raakgelees het. Dit het hom só beïndruk dat hy – tipies sakeman wat alles met oorgawe doen – alles omtrent dié wildteler en sy teelprogram gaan navors het en hom selfs op sy plaas Lumarie in Limpopo gaan besoek het.

Foto: ‘n Waterbok en kameelperd wei rustig op Wolwedans met ‘n idilliese uitsig oor Mosselbaai

wolf bok 11

Hoekom Mosselbaai?

Nóg ‘n spontane besluit. Ek source al lankal wild, en met my sakebesoeke en ryery deur die land het ek maar altyd my oë oopgehou vir my kleintydse “droomplaas”. Ek en Reinette is albei buitelugmense en het altyd gepraat van ‘n aftree-plekkie by die see of in die bos . . .

“Die Tuinroete was so mooi groen en toe ek dié plaas teen ‘n markverwante prys kon kry, het ek besluit om Reinette te verras, want dis albei – ‘n bos- en wildplaas by die see!”

Reinette het van niks geweet toe Martin in Januarie 2013 die kolossale staal- en sementbaksteengebou van 1000 m2 “uit niks” begin bou het nie.

wolf6 12

“Hier was niks – elke paal, stuk draad en heining het ons self hier kom opsit en die meeste materiaal was klaar hier. Ek het die planne vir my argitek gegee en in Desember 2013 was die huis klaar . . . “

Dié man werk net so vinnig soos hy praat. Vier jaar later pryk ‘n bedrywige wildteelplaas en ‘n dubbelverdieping-spoghuis en tuin met panoramiese alkant-uitsigte op die grond waar “niks” was nie . . . alles off the grid met hul eie boorgatwater en sonpanele soos net ‘n boer met ‘n syfer- en ingenieurskop kan beplan. In Januarie is die jongste toevoeging tot Wolwedans Game Farm & Country House amptelik ingewy – spesiaal vir Reinette.

wolwedans5 13

“My oupa het altyd gesê die wenresep vir ‘n gelukkige huwelik is ‘n vrou met ‘n goeie inkomste en ‘n gesonde man”, het Martin tydens die feestelike inwyding geskerts. Nou kan Reinette vrye teuels aan haar kunssinnigheid gee en die gastehuis bedryf soos sy wil . . .

wolf panorama 14

Kunssinnige Introvert

Tussen die koffie-drinkery deur kry Reinette net hier en daar ‘n praatkans. Ons wag tot Martin haastig groet en terug plaas toe jaag voor ons verder gesels. Die mooi, fyngeboude vroutjie met die bokkie-oë is ongekunsteld en die rustigheid vanself. Sy lag net oor Martin se haastige natuur.

“Eintlik is ons teenoorgesteldes – hy is ‘n absolute ekstrovert wat altyd besig en tussen mense moet wees. Hoewel ek ook lief is vir mense, is ek meer ‘n introvert wat myself besig hou met my olieverfskilderye, mosaïekwerk en bak . . . ek is nie lief vir kosmaak nie, maar hou van koekies bak en daai tipe ding.”

Reinette was voorheen nog nooit in die Tuinroete nie en swem nie “sommer in die see waar sy nie kan sien wat in die water is nie”, maar sy het lief geraak vir die wildplaas, hoewel hulle in Hartenbos woon. “Die kinders – veral Marcél – sou nooit skool toe gegaan het as ons op die plaas moes woon nie. Hulle sou net heeldag tussen die diere in die veld wou wees . . .

“Ek is lief vir die plaaslewe, maar dit is geriefliker om op die dorp te woon en plaas toe te gaan wanneer ek lus is. Martin ry elke dag die 15 km in plaas toe, maar ek en die kinders gaan net naweke.”

wolwedans16 15

Foto: Martin se indrukwekkende “man’s cave” in Wolwedans Country House waar dosyne van sy jagtrofeë teen die mure en in hoekies pryk. Trofeejag is verbode op Wolwedans.

En noudat sy die “baas” is van Wolwedans Country House? Sy lag weer. “Ek het lankal geleer ek en Martin sal nie in besigheid kan saamwerk nie- ek is te stadig vir hom! Ons ou skoolvriendin, Trudi Stander, bestuur voltyds die country house terwyl ek agter die skerms betrokke bly en meer aandag aan die kinders se dinge kan gee.

Foto: Die vertrekke is keurig en ruim en almal bied asemrowende uitsigte.

 wolf binne1 16

wolf binne2 17

“Ons leef albei ons drome uit en gun mekaar ruimte. Ek kan myself help – ek het my eie “tool box” waaraan niemand mag raak nie! En my ou regterhand, Rebecca, het saam met ons van Rustenburg af getrek en help my om die fort te hou sodat ek ook my drome kan uitleef . . . “

‘n Lékker wenpaartjie wat mekaar se geite aanvul. Reinette het geen twyfel dat Martin ook hierdie droom sal verwesenlik nie: Om top-gehalte wildspesies te teel in dieselfde klas as befaamde Limpopo-wildtelers soos Jacques Malan, Richard Morton, Norman Adami en plaaslik soos Nico Lerm. “Wat kan dan nou verkeerd loop vir ‘n man wat soveel energie het en boonop spog met ‘n mentor soos Jacques Malan wat hy deesdae DIE BAAS noem?”

Kyk ook onderstaande video en lees meer op hul webblad:

https://web.facebook.com/WolwedansGameFarm/videos/1831986443742437/

Related Articles: