Die tragiese dood van twee tieners binne twee dae aan die hand van mede-leerders en jong mense in Mosselbaai, het finaal 'n sweer laat oopbars wat al lank onder die oppervlak broei.

Alle oë is nou gerig op daadwerklike en volhoubare veiligheids- en beskermingsmaatreëls wat ingestel sal móét word om die groeiende bende- en dwelmverwante geweldsmisdade by skole en woonbuurtes in die geteisterde KwaNonqba- en Asla Park-woonbuurtes in die kiem te smoor voordat dit verder uitkring.

Michaela1

Die pragtige Michaela Booysen (17), een van die twee leerders van Hillcrest Sekondêre Skool wat die afgelope week vermoor is. Michaela is Sondag in die vroeë oggendure deur drie aanvallers oorval en met 'n piksteel teen die kop gekap  toe sy en haar kêrel, Kealin Michaels (24), te voet op pad huis toe was in Dywilistraat. Michaela is op die toneel oorlede en net haar swart Nike-tekkies is gebuit. 'n Verdagte (21) is aangekeer en sal weer op Maandag 24 Oktober in die Mosselbaaise landdroshof verskyn vir amptelike borgaansoek. Die gemeenskap is besig om 'n petisie teen sy borgtog te loods.

Khuselo Ndanda 4

Khuselo Ndanda (17), ook 'n leerder van Hillcrest Sekondêre Skool, is Maandag gedurende pouse op die skoolterrein deur drie mede-leerders aangeval en verskeie kere met messe en skerp voorwerpe in die bolyf gesteek. Hy het kort daarna aan sy wonde beswyk. Drie mede-leerders is in hegtenis geneem en sal weer op 17 Oktober in die landdroshof verskyn vir amptelike borgaansoek. 

Terwyl honderde leerders, ouers en gemeenskapslede Donderdag 'n emosionele gedenkdiens ter ere van die vermoorde leerders by Hillcrest Sekondêre Skool bygewoon het, eis die gemeenskap daadwerklike optrede van alle betrokke rolspelers om hul skole en omgewing te beveilig teen ongure, kriminele karakters wat hul gevange hou. Inwoners het op sosialemediaplatforms uitgevaar teen die gebrek aan sigbare polisieëring, sjebeens wat deurnag oopbly en vryelik drank en dwelms aan skoolkinders verskaf, asook die groot aantal besighede in die omgewing waaraan dranklisensies toegestaan word. 

"Dis 'n nes van drank en dwelms by sommige van dié plekke waaraan ons kinders deurgaans blootgestel word. Hoe hou jy nuuskierige skoolkinders weg van winkels in die omgewing op hul daaglikse roetes? Dié plekke hóórt nie hier nie!" het 'n inwoner uitgevaar.

  

Gedenkdiens vir vermoorde tieners

Die skoolhoof van Hillcrest Sekondêre Skool, mnr. Ivan Kronenberg, het geen doekies omgedraai nie en gesê ouers leef in ontkenning oor hul kinders se betrokkenheid by bendes. Hy het ouers gemaan om meer betrokke te wees by die doen en late van hul kinders. 

Gemeenskap is keelvol vir geweld:

'n Groep vroue wat vroeër 'n memorandum aan die polisie oorhandig het teen geweld teen vroue en kinders, het Donderdagoggend by die Mosselbaaise landdroshof betoog waar 'n 21-jarige verdagte in verband met Michaela se moord verskyn het. Hy bly in aanhouding tot Maandag 14 Oktober wanneer hy vir 'n formele borgaansoek sal verskyn. 'n Petisie om borgskap teen te staan, word nou deur die gemeenskap georganiseer. Foto: Mossel Bay Advertiser.  

Vroue betoog teen borg vir Michaela Booysen se moordenaar

Die Mosselbaai Munisipaliteit het gister in 'n mediaverklaring gesê daar is reeds met lede van die bevelstruktuur van die SA Polisie in die Suid-Kaap onder leiding van Genl.maj.Oswald Reddy vergader. Kwessies soos die onaanvaarbare vlakke van geweldsmisdaad by skole, die toeganklikheid van dwelms vir kinders en bendeverwante misdaad is onder meer bespreek. Die voortslepende probleme met infrastruktuur en personeeltekorte by die KwaNonqaba en Groot-Brakrivier polisiekantore het ook weer onder die loep gekom. 

Die munisipaliteit se uitvoerende bestuur het ook reeds vroeër vandeesweek met die kantoorhoof van die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid, Gideon Morris, geskakel om 'n volledige risiko-analise ten opsigte van skoolveiligheid te onderneem.

Intussen is die familie en vriende van die twee ontslape tieners in rou en Mosselbaai in die nasionale oog om te sien watter maatreëls ingestel gaan word om soortgelyke tragedies te voorkom. Hoewel sielkundige berading en bystand van owerheidskant aan die getraumatiseerde leerders en personeel van die betrokke skool verskaf word, bied dit min troos as die kern van die probleem nie uitgeroei word nie.

Bekommerdfe ouers wil weet of daar nie strenger beheer by skoolingange toegepas kan word nie. 

Hoe is dit moontlik dat kinders met sulke groot messe en wapens op 'n skoolterrein inkom? 

 

Gedenkdiens vir vermoorde tieners1

Verslae en getraumatiseerde leerders, familielede en belanghebbendes het Donderdag se gedenkdiens ter ere van die vermoorde tieners by Hillcrest Sekondêre Skool bygewoon.  Foto verskaf.

Parate buurtwagstelsels, sigbare polisieëring, strenger kontrole van en optrede teen deurnag-drank- en dwelmhuise, asook strenger optrede teen leerders wat met wapens skool te kom, is van die voorstelle uit die gemeenskap. 

Les bes sal ouers ook groter verantwoordelikheid vir die doen en late van hul kinders moet aanvaar en meer betrokke moet raak.

'n Deurnag-biduur (wake) vir Michaela Booysen (17) word eerskomende Woensdagaand 16 Oktober 2019 om 19:00 in die St Blaize Rooms-Katolieke Kerk in Sampsonstraat, Uitbreiding 23, gehou.

Michaela2

'n Huis - en begrafnisdiens vind volgende Saterdag 19 Oktober om 09:00 vanuit die tiener se huis in Barracudastraat 33 in Uitbreiding 13 plaas, gevolg deur 'n kerkdiens om 10:00 in die St Blaize Rooms-Katolieke Kerk.

 Lees ook ons vorige verwante berigte:

Mosselbaai geruk deur twee moorde binne twee dae op skoolkinders.

 

Related Articles: