'n Seder val in Waterkloof . . . en 'n trotse baken en historiese landmerk het verlede week in Mosselbaai geval . . . sommer net so?

Harry Giddy12

Die onseremoniële afsaag van een van die vier palmbome wat sowat 'n eeu gelede deur die legendariese Harry Giddy geplant is as grensbakens van die pragtige Harry Giddy-kloof (ook genoem Harry Giddy Corner) aan die bokant van Georgeweg, het hewige kritiek en ontsteltenis van veral oud-inwoners en bewaringsbewustes ontlok.

Die uitheemse dadelpalmbome staan glo al so lank soos die indrukwekkende klipmure en -wandelpaadjies in die kloof wat wyle Harry Giddy destyds self beplan, uitgelê en met behulp van Italiaanse krysgevangenes van WO2 gebou het en word alom beskou as deel van Mosselbaai se kultuurerfenis.

harry giddy10

Ontstelde inwoners het verlede Dinsdag die munisipaliteit gebel toe hulle 'n span werkers sien wat besig is om met 'n trapstellasie en kettingsaag die boonste kroon van die eeu-oue palmboom op die een grenshoek af te saag. Dr David McNally, 'n tandarts van Plettenbergbaai en een van die begunstigdes van die McNally Trust aan wie een van die vyf huise langs die kloof behoort, het blykbaar 'n kontrakteur aangestel om die boom te verwyder omdat die wortels glo die "eeu-oue klipmuur beskadig" . . .

Talle inwoners het woedend op sosialemedianetwerke reageer: 


"Dis onsin en pure strooi - die klipmuur bestaan al 'n eeu lank en makeer niks. Die boom het seker sy see-uitsig belemmer!"

"Is dit hoe Mosselbaai se eeue-oue historiese karakter en kultuurerfenis deesdae vernietig word vir selfsugtige doeleindes en 'vooruitgang'? wou 'n ontstelde inwoner weet.

'n Ander inwoner het voorgestel dat die munisipaliteit inwoners en nuwe intrekkers op sy nuusblad bedag maak op ou bome (ook dié in private tuine) as deel van die gemeenskap se erfenis omdat bome buite erfgrense die lug in troon en vir talle sigbaar is en estetiese genot verskaf.

Teen die tyd wat munisipale amptenare van die parke-afdeling en die erfenisvereniging Dinsdag opgedaag het, was dit glo reeds te laat om die boom te red. 

harry giddy9

Volgens Carina Wiggill van die Erfenisvereniging was die "kroon" van die boom glo reeds afgesaag en die boom so erg beskadig dat dit nie sou help om die werkery te stop nie. Sy is veral ontsteld dat die betrokke owerhede nie in die saak geken is nie.

Ook mnr. Eddie Jantjies van die munisipaliteit se Parke-afdeling het gesê dis baie jammer dat so 'n ou baken in Mosselbaai goedsmoeds en blykbaar sonder grondige rede vernietig is.

Kenners meen ook 'n klipmuurtjie kan binne 'n paar uur of dae herstel word, maar hoe vervang jy 'n eeu-oue boom? Daar is ook groot teenstrydigheid daaroor of die spesifieke stukkie muur hoegenaamd deur die boom se wortels gekraak het omdat die mure naaste aan die boom niks makeer nie en grondverskuiwing weens die droogte en huisbouery 'n meer waarskynlike oorsaak is.  

harry giddy2

Die betrokke boom was glo wel op private trust-eiendom, maar destyds met die onderverdeling van die oorspronklike perseel was streng voorwaardes en beperkings gestel - onder meer dat die ou palmbome nie verwyder mag word nie. Dr David McNally het glo ook téén die wense en besware van die ander trustees opgetree en het daarvolgens nie wettige magtiging gehad om die boom sonder hul toestemming te laat afsaag nie omdat dit nie sy eiendom is nie.

Mnr. Pieter Holzhausen, een van die huidige ses huiseienaars langs die kloof, is ewe ontsteld oor die boom se verwydering. Sy pa, die bekende Mosselbaaise oud-burgemeester Harry Holzhausen, het in 1960 die oorspronklike huis en grond van Harry Giddy gekoop en die grond later in vyf erwe verdeel. Toe was die betrokke dadelpalmbome al groot en gevestig. 

Harry Giddy15

 Mnr. Pieter Holtzhausen op sy stoep met 'n soortgelyke dadelpalmboom as die een wat afgesaag is, op die agtergrond. 

Harry Giddy1

"Wyle Harry Giddy het in 1916 sy huis hier gebou, asook al die uitsonderlike klipmuurtjies en wandelpaadjies. Sover ek kan onthou, was sy huis destyds bekend as West End. Ek het dit 'n tyd terug na Gewels verander sedert dit as 'n gastehuis bedryf word."

harry giddy20

"Van die koopvoorwaardes was destyds dat niks aan die huis verander mag word nie en dat die palmbome ook nie verwyder mag word nie. Sedertdien is al vyf erwe op die perseel verkoop en bewoon en ek weet nie of dié beperkinge steeds geld nie. 'n Mens sou hoop dat al die huiseienaars die kosbare nalatenskap van Giddy sou respekteer en bewaar, maar nou lyk dit nie so nie", het hy hartseer gesê.

harry giddy19

Bo: Foto's uit die argiewe van Harry Giddy wat uitkyk oor sy geliefde Santosstrand en die oorspronklike gewelhuis en kunstige klip-lushof wat hy destyds met die hulp van Italiaanse krygsgevangenes ontwerp en gebou het.

Dr McNally het gister nie een van die talle oproepe na sy praktyk of selfoonnommer beantwoord nie. Die kontrakteur en werkers op die perseel wou nie kommentaar lewer nie, behalwe om te sê dat hulle die kontrak gekry het om die boom te verwyder en net die "tandarts se opdrag uitvoer."

harry giddy11

* Intussen is sommige huiseienaars ook erg ontsteld dat dieselfde kontrakteur ook die tender by die munisipaliteit gekry het om die "stormwaterkanaal skoon te maak" en in die proses glo ook die meeste plante verwyder het wat deur die jare spesiaal aangeplant is ter verfraaiing van die omgewing en om gronderosie te bekamp.

Volgens Madre van den Berg, een van die vyf huiseienaars langs die kloof, het sy die afgelope sowat tien jaar die munisipale deel van die kloof by die munisipaliteit "gehuur" om dit te rehabiliteer en in stand te hou.
"Ons het baie geld en tyd bestee om die kloof te verfraai en in stand te hou - juis omdat dit so uniek en besonders is sodat dit steeds 'n baie gewilde plek is vir foto-sessies van spesiale geleenthede soos troues, matriekafskeide, ens.

harry giddy4

"Ek het deur die jare baie inheemse, waterwys-plante soos Arum-lelies, clivias, varings en watsonias langs die spruit en teen die klip-terrasse geplant en ons het self die kloof skoongehou in samewerking met die munisipaliteit wat op 'n gereelde basis die tuinafval kom wegry het.

harry giddy6

"Dit wil egter voorkom asof die kontrakteur wat nou deur die strate- en stormwaterafdeling aangestel is om die kloof "skoon te maak", nie behoorlik ingelig was nie en voor die voet alle plante saam met indringerplante verwyder het. Nou is die kaal grond juis 'n groot risiko vir gronderosie en stormwaterprobleme omdat daar niks is om dit te anker nie", het sy gesê. 
Van die kliptrappies is blykbaar ook beskadig toe 'n stomp wat afgesaag moes word, daarop beland het.

"Hier was nog nooit 'n stormwaterprobleem nie omdat ons self die kloof skoongemaak en onderhou het. Dis jammer dat so iets moes gebeur weens swak kommunikasie en onkunde."

Die betrokke kontrakteur wat anoniem wou bly, het by navraag ontken dat enige plante benewens indringerplante, blare en rommel verwyder is of dat enige skade aangerig is. 
"Ons het die tender gekry om die gras te sny, bome wat in die pad is te snoei, indringerplante te verwyder en die stormwaterkanaal skoon te maak. Dis wat ons gedoen het en die munisipaliteit is tevrede en het ons betaal," het sy gesê.

Harry Giddy Park

  • Die bekende Harry Giddy Park in Marsh-straat is oorspronklik in 1887 as Victoria Park uitgelê ter ere van die Britse koningin Victoria. Gedurende die 1940's het wyle Harry Giddy omvattende opknappingswerk aan die park en die kloof gedoen en is die park na hom herbenoem. Die park, asook die lowerryke kloof waardeur 'n standhoudende spruit vloei, is vandag steeds twee van Mosselbaai se trotse erfenisgebiede en gewilde ontspanningsterreine.
  • Nog foto's op ons Facebook-blad: https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2376855819212338?_

* Dit blyk daar is ook verwarring en onsekerheid oor die korrekte spelling van wyle Harry Giddy/Giddey se naam. In feitlik alle dokumentasie en internet-verwysings is dit jare lank as Giddy gespel en ook in die jongste munisipale kennisgewings, ens. word dit steeds as Giddy gespel, terwyl die naambord van die park nou glo verander is na Giddey . . . ? 

Toerisme-roete:

Hoe belangrik is Mosselbaai se kultuur-historiese erfenis vandag nog vir inwoners? Die eeu-oue palmboom se "onwettige" afsaag is ironies in die lig van die munisipaliteit se planne om 'n spesiale toerisme-roete te ontwikkel wat juis Mosselbaai se ryk geskiedenis - ofte wel die "storie" van Mosselbaai - uitbeeld . . .

"A proposal was developed to link tourists and tourist related activities in the historic Mossel Bay CBD via a Tourist Route, which tells the history or “Story” of Mossel Bay and its people whilst providing relevant information regarding tourist activities, businesses, restaurants, coffee shops and the history of Mossel Bay. "

The terms of reference include the following:

  • Identify the location of existing focus points and tourist assets;
  • Determine the best route to link the identified focus points and other tourist assets;
  • Identify the best locations for the newly identified focus points within the existing and future urban fabric of the historical CBD;
  • Develop a tourism or user optimization and implementation plan for Harry Giddy Park to maximize the use of this park;
  • The development of an Art Concept for all the focus points, which will tell a part of the larger “Story”;
  • The concept of each artwork for all the focal points will be developed to brief an artist; and
  • Development of a business model with costs and timelines will form part of the Tourism Framework.
  • The study area is the central area of Mossel Bay which covers the area from the Point to Harry Giddy Park as a first phase. The idea is to use this route to create linkages to all tourist activities in the larger Mossel Bay municipal area.  
  • https://www.mosselbayadvertiser.com/News/Article/General/cbd-tourism-vision-unveiled-201904080358

 ONTHOU JY NOG?

Kyk ook dié interessante video van 'n versameling foto's uit toeka se dae in Mosselbaai . . .   

Related Articles: