Die opspraakwekkende robwelpie-videosaak van brutale dieremishandeling waarin ‘n robwelpie genadeloos en skynbaar vir die pret gemartel en mishandel is op ‘n visserboot in Velddrif aan die Weskus, is in ‘n gevorderde, maar sensitiewe stadium van ondersoek.


Die gru-video waarin duidelik gesien en gehoor kan word hoe twee jong mans lag, vloek en beurtelings die hulpelose welpie met ‘n skerp voorwerp op die snoet kap en teen die boot vasslaan en gooi, het landwyd opslae op sosiale mediaplatforms en in hoofstroomkoerante gemaak – veral weens die gevoellose wreedheid daarvan.

Die video is intussen van die internet verwyder hangende ‘n omvattende ondersoek waarby twee verskillende departemente benewens die Dierebeskermingsvereniging en die SAPD betrokke is.

robvideo

'n Skermgreep uit die gru-video wat in Junie landwyd media-opslae gemaak het. 

 

Mosselbayontheline het betroubaar by die ondersoek-beampte verneem dat die vertraging tot dusver grootliks te wyte is daaraan om die outentiteit van die video en beeldmateriaal wetenskaplik en bo alle twyfel in die hof te kan bewys. Daarvoor is ‘n gekwalifiseerde kenner met die regte kwalifikasies en ervaring in dié spesifieke veld nodig om as staatsgetuie op te tree.


Die ondersoek-beampte het weens die oorweldigende emosionele en sensasionele reaksie wat die video uitgelok het, versoek dat sy naam nie gepubliseer word nie. Hy het gesê die departemente van seevisserye, omgewingsake asook die dierebeskermingsvereniging is almal betrokke by die saak.

“In ‘n mate is dit ‘n toetssaak omdat só ‘n voorval van dieremishandeling wat deur ‘n video op sosiale media versprei en onder die betrokke owerhede se aandag gebring is, nog nie tevore in ‘n Suid-Afrikaanse hof voorgekom het nie. Daar is ook geweldig baie regstegniese aspekte betrokke om die klagstate te formuleer en ons wil ‘n waterdigte saak bou voordat ons hof toe gaan,” het hy gesê.

Die twee 19-jarige verdagtes in die saak woon albei in Velddrif en het onderneem om hul samewerking te gee en in die hof te verskyn sodra ‘n amptelike dagvaardiging uitgereik word. Hulle is nog nie amptelik aangekla nie hangende die voltooiing van die ondersoek en die videobewyse.

Hulle sal waarskynlik op verskeie klagte van die oortreding van die onderskeie departemente en DBV se wetgewing verskyn.

Voorbladfoto: Ter illustrasie

Só het mosselbayontheline vroeër oor die voorval berig: 

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/news/misdaad-crime/117-skokvideo-van-jong-mans-wat-baba-rob-grusaam-martel-wat-gaan-aan-met-sa-jeug

Related Articles: