Mosselbaai Munisipaliteit het dit wéér gedoen! Die sesde SKOON oudit-verslag in ‘n ry – en dit in ‘n jaar wat baie munisipaliteite in die res van die land kniediep in die moeilikheid is met reuse-skuldlaste en hangende hofsake oor bedrog en korrupsie . . .

Die Ouditeur-generaal Kimi Makwetu (derde van regs op die foto) en die Wes-Kaapse premier Helen Zille het vroeër vandeesmaand ‘n afvaardiging van die Mosselbaaise Munisipaliteit persoonlik geluk gewens en geloof vir die groot prestasie om in die “moeilike” 2016/17 finansiële boekjaar wéér ‘n skoon oudit-verslag te verwerf. Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, asook die munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, (onderskeidelik regs en links van Zille), het trots die trofee en ‘n goue sertifikaat vir uitnemendheid tydens die seremonie in ontvangs geneem.

 municipal 2

Makwetu het gesê ‘n skoon ouditverslag is ‘n getuigskrif daarvan dat die regte prosedures gevolg is met bewese deursigtigheid. Premier Zille het beklemtoon hoe belangrik bevoegde regering is om openbare vertroue te inspireer – iets wat dikwels onderskat en -beklemtoon word.

“Die drie hoekstene van doeltreffende demokrasieë is bevoegde regering, wetstoepassing en aanspreeklikheid,” het sy gesê.

munisipaliteit audit 3

Die vertoonkas in Mosselbaai se Raadsaal sal ná dese vergroot moet word om plek te maak vir al die toekennings en trofeë ! Bo en onder is die jongste toevoegings tot die indrukwekkende versameling ná Mosselbaai se sesde agtereenvolgende skoon oudit-verslag. Nét die Swartland Munisipaliteit klop Mosselbaai in dié stadium met sewe skoon oudits . . . maar dis net Mosselbaai wat al TWEE keer as die Dorp van die Jaar aangewys is!

munisipaliteit audit1 4

Op die tuisfront is die groot prestasie baie stigtelik en sonder veel trompet-geskal op die eerste raadsvergadering vir 2018 aangekondig. Net die trotse uitdrukkings op die burgemeester en raadslede se gesigte het verklap hóé dankbaar en trots hulle regtig op dié mooi prestasie is.

Raadsheer Levendal het gesê die mense besef nie regtig hoe moeilik dit is om deesdae ‘n skoon ouditverslag te kry weens al die “papierwerk” en burokratiese rompslomp nie.

“Elke ‘slippie’ moet gehou word en hulle soek gewoonlik net daai één wat jy nie het nie, en dan moet jy soek! Net één ‘slippie’ kan verhoed dat ‘n munisipaliteit ‘n skoon oudit kry,” het hy gesê.

Foto: Stralend en met rég trots op die sesde agtereenvolgende skoon ouditverslag is van links onder-burgemeester Dirk Kotzé, raadslid Mark Furness, uitvoerende burgemeester raadsheer Harry Levendal, hoof van finansies Kobus Bruwer en munisipale bestuurder adv. Thys Giliomee.

oudit2 5

Mosselbayontheline dink nog steeds ‘n botteltjie sjampanje of drie kon maar by dié raadsvergadering inge”slip” gewees het . . .

Lees ook ons Facebook-berig hieroor:

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2100478470183409

Lees ook:

https://www.mosselbayadvertiser.com/News/Article/General/6th-consecutive-clean-audit-rewarded-201802220430

Related Articles: