Die oudste media-truuk in die boek om publieke breinspoeling en meningsvorming te bewerkstellig,  is om die lelikste foto’s te gaan uitkrap en publiseer van iemand wat verdag gemaak of in ‘n slegte lig gestel moet word.  Dit sien en beleef ons daagliks in wêreldmedia waar veral politici soos Donald Trump en kie soms bespotlik gemaak word met die mees onvleiende foto’s wat ‘n fotograaf kán vaslê, teenoor subtiel-geredigeerde glansfoto’s soos dié van wyle Prinses Diana wat van haar ‘n wêreldikoon gemaak het.

Wanneer dié tendens egter ook in ernstige misdaad- en moordberigte insluip waar ‘n ondersoek nog in ‘n beginstadium is, kan dit lewensgevaarlike gevolge inhou wanneer publieke vooroordeel en woede voortydig geskep word deur subjektiewe, partydige berigte en foto’s.

Dit het pas weer gebeur waar die enigste beskuldigde tot dusver in die opspraakwekkende sluipmoordaanval op lt. kol. Charl Kinnear al bykans ‘n maand lank in polisie-aanhouding is terwyl daar glo steeds gesoek word na ‘n “veilige” hof waar sy borgtogaansoek aangehoor kan word.

Kinnear gesin met foto van Pa

Wyle lt.kol. Charl Kinnear se vrou, Nicolette Kinnear, en hul twee seuns  Casleigh (links) en Carlisle by 'n foto van hul geliefde Pa. Nicolette het reeds in Januarie vanjaar vertel hoe die gesin in vrees lewe sedert polisiebeskerming aan hulle onttrek is.  www.iol.co.za/capeargus/news/top-cops-family-disappointed-and-betrayed-after-police-withdraw-their-protection-41064000?

Die gemeenskap van Bishop Lavis soek wraak vir die grusame skiet-dood van dié top-speurder wat op die punt was om die bendegeteisterde Kaapse woongebiede ‘n veiliger plek te maak deur senior polisiebeamptes se betrokkenheid by dié grootskaalse rampokkery oop te vlek.

Die 39-jarige Zane Kilian van Springs is feitlik onmiddellik ná Kinnear se moord geïmpliseer deur Jerome (Donkie) Booysen wat skielik onthul het dat sy (Booysen) se selfoon óók gemonitor (geping) is en dat ene Zane Kilian dit gedoen het.  ‘n “Kontak in Pretoria” het Booysen glo hiervan ingelig ten tye van Kinnear se moordondersoek.

" cl

Hoe gerieflik. Herlei die aandag dadelik na Springs en vergeet van die jong moordenaar wat oral op beeldmateriaal vasgevang is in Bishop Lavis se strate tot hy die doodskote op die niksvermoedende Kinnear afgevuur het en daarna blykbaar spoorloos verdwyn het in ‘n wit wegkommotor wat na bewering ook op die beeldmateriaal sigbaar is.

Veertig SAPD-lede het dadelik ‘n middernagtelike klopjag op die slapende Kilian se huis in Springs uitgevoer en uiteindelik is net op twee selfone beslag gelê – geen teken van gesofistikeerde toerusting soos “Grabbers” of selfs ‘n rekenaar nie en sonder die nodige lasbrief of dagvaarding.

Boonop is Kilian dadelik aangekla van moord, medepligtigheid aan moord en die oortreding van die wet op telekommunikasie deurdat hy glo Kinnear se foon onwettig gemonitor (geping) het.  Hy sal nou uiteindelik op 26 Oktober 2020 in die Bellville-hof verskyn vir borgaansoek nadat hy die SAPD se aanbod om as Artikel 24-staatsgetuie op te tree in ruil vir beskerming vir hom en sy gesin geweier het “omdat hy niks van die moord op Kinnear of die beplanning daarvan weet nie.”

Beeldmateriaal van Zane Kilian in ‘n apteek in Springs waar hy medikasie vir sy seun, Zayden, gekoop het ten tye van die sluipmoord op Kinnear.

Kilian se naasbestaandes en vriende het ook met verbasing in die media gelees dat Zane en “die mense na aan hom” glo gedreig is “dat hy sy bek moet hou of hy is dood”.  Nie sy pa, vrou of enige van sy familie of vriende is bewus van so ‘n waarskuwing nie en niemand behalwe sy advokaat word al sedert 21 Oktober by hom toegelaat nie – nie eens sy naaste familie nie. Kon die media wat sulke bewerings publiseer, nie maar net seker gemaak het van hul bronne en hul feite nie? Wie het die dreigemente gemaak en wie het dit gesê? Word sulke vals bewerings doelbewus gemaak om ‘n saadjie te plant dat Kilian iets weet en uit vrees eerder sal stilbly?

Intussen het die soektog na die jong skieter wat doodluiters verby talle ooggetuies deur Bishop Lavis se strate gestap het, blykbaar steeds niks opgelewer nie ondanks ‘n beloning van R1 miljoen wat deur Forensics for Justice uitgeloof is. Het niemand die jong man geken of herken nie, of is hulle te bang om te praat?

Sterk vermoedens dat die veiligheidsbewuste Kinnear dalk sy jong moordenaar geken het en dus niksvermoedend opgetree het toe hy oor die pad na sy motor aangestap gekom het, bevestig hardnekkige gerugte dat die jong skieter kort daarna “uitgehaal” is om te keer dat hy praat. Ook gerugte dat sy liggaam langs dié van Kinnear in die lykhuis gesien is, is nog nie bevesig of ontken nie.

Die ondersoek sloer en fokus deurgaans net op Kilian se kwalifikasies en hoe hy met basiese selfoontegnologie die ligging van Kinnear se selfoon sedert Maart gemonitor het. Intussen het dit aan die lig gekom dat Militêre Intelligensiedienste óók Kinnear se selfoon gemonitor het, terwyl enigeen met die gevorderde GRABBER-tegnologie dit ook kon doen sonder om ‘n spoor te los.

Kilian het nooit ontken dat dié betrokke selfoonnommer (van Kinnear) een van talle is wat hy namens kliënte monitor in sy skuldinvorderings- en ondersoekwerk nie. Hy het uit die staanspoor gesê hy moes die ligging van dié nommer namens ene Mohammed monitor wat glo bewyse van owerspel teen sy vrou soek. Mohammed se telefoonnommer(s) is steeds op Kilian se foon en in die polisie se besit.

Die onbeantwoorde vrae wat pla, is:

  • Hoekom sal enigeen wat willens en wetens by ‘n sluipmoord op ‘n hoëprofiel-speurder betrokke is, van die mees basiese moniteringstoerusting gebruik maak as hy weet dit kan maklik na hom teruggevoer word?
  • Hoekom moet iemand in Springs Kinnear se bewegings monitor as die meeste bendeleiers en figure in die Kaapse onderwêreld oor Grabbers beskik en SAPD-lede en regeringsamptenare dit wettig kan gebruik?
  • Hoekom is die ligging van Kinnear se selfoon hoegenaamd belangrik in die beplanning van ‘n sluipmoord by sy huis as almal weet waar hy al 25 jaar woon en elke aand slaap?
  • Hoekom het die Polisie STEEDS nie onthul wie verantwoordelik was vir die onttrekking van beskermingsdienste aan Kinnear en sy gesin nie?
  • Hoekom is die dossiere wat Kinnear met groot moeite voor sy dood opgestel het oor polisielede se betrokkenheid by die Wes-Kaapse rampokker-sindikaat nooit verder ondersoek nie en is stappe al gedoen teen die spesifieke amptenare wie se name hy pertinent noem?

Wie en wat is Zane Kilian en wat is sy betrokkenheid by Kinnear? 

Hoe het dit gebeur dat die jongste en grapmaker-lid van ‘n bekende en gerespekteerde gesin van Springs – nogal dié van ‘n polisiekolonel en sy geliefde vrou – oornag midde-in dié Kaapse tragedie en rampokkerwêreld beland het? ‘n Joviale oud-rugbyspeler en spiertier wat bekend is vir sy poetsbakkery en nes sy Pa nog nooit sy mond aan enige drank of rookding gesit het nie?

Zane is die jongste van vier kinders van die afgetrede oud-lt.kol. Hein en Heila Kilian wat sy lewe lank op Springs woon. Kilian (snr) was jare lank ‘n gerespekteerde onluste-bevelvoerder en vuurwapen-instrukteur in die area en het ná sy aftrede in 1992 nog vuurwapenopleiding aangebied.

Zane het professionele rugby gespeel vir die Valke en die Griekwas tot sy rugbyloopbaan in 2012 kortgeknip is nadat hy sy rug gebreek het. Sy laaste besoek aan Kaapstad was juis tydens ‘n rugbywedstryd op Nuweland in 2012.

Daarna het hy saam met sy Pa en oom vir maatskappye soos Rent to Own en ABSA begin werk om voertuie op te spoor en terug te neem weens agterstallige paaiemente. Zane het ook geldinvorderings vir banke en kliënte gedoen. Wanneer die skuldiges vlug, moet hulle regoor die land gesoek en opgespoor word – soms met behulp van kontakte landwyd – en dit is waar die ondersoek en opsporing (tracing) inkom.

Ná die moord op Zane se Ma in April 2018 tydens ‘n gewapende rooftog by haar suster en swaer se huis buite Stilbaai, is die familie tot stilstand geruk. Zane se pa was gebroke en het hom van die besigheid onttrek, terwyl Zane emosioneel so getraumatiseer was dat hy al sy hare afgeskeer en die woord MOM en ‘n hart aan die kant van sy kop laat tatoeëer het. Zane en sy Ma was baie geheg aan mekaar en was die twee gesinslede wat altyd saam gelag en grappies gemaak het. Ná haar tragiese dood het die pyn van dié naaldkuns ‘n mate van ontvlugting en ‘n uitlaatklep vir sy emosionele pyn geword en hy het al hoe meer tatoeëermerke oral op sy lyf laat aanbring – meesal met ‘n Christelike inslag soos die woorde In God I Trust.

Diegene wat Zane goed ken, beweer daar is nie ‘n manier wat dié saghartige reus doelbewus by enige bendelede of onwettighede betrokke sou raak nie – daarvoor het hy té lank saam met sy polisie-pa gewerk en was hy té lief vir sy voorbeeldige Ma.  Boonop is hy die enkelouer van ‘n sewejarige seuntjie met spesiale behoeftes wat voltyds sorg en aandag nodig het.

Hulle glo dis juis sy naïwiteit en sorgelose geaardheid om almal te vertrou en te wil help, wat hom ‘n maklike teiken vir lede van die berugte Kaapse onderwêreld gemaak het.

“Zane ken nie eens mense in Kaapstad nie en weet so min soos ek van die Kaapse bendewêreld. Hy werk meesal telefonies met honderde kliënte landwyd wat hy nooit ontmoet nie en as jy die ligging van ‘n selfoon vir iemand moet monitor, weet jy nie eens wie se selfoon dit is nie tensy dit pertinent vir jou gesê word.

“In dié geval het hy aanvaar hy monitor ‘n foon vir ‘n man wat sy vrou verdink van buite-egtelike verhoudings . . . en toe kom dit uit dis al die tyd dié van ‘n top-speurder van die Kaap wat boonop nou vermoor is. Zane was dalk agtelosig en naïef om ‘n kliënt goedsmoeds te vertrou, maar deel van ‘n moordkomplot en dit nogal op ‘n top-speurder?

“Nooit as te nimmer – hy is geframe en hoe gouer hulle die regte mense opspoor, hoe beter!”

Related Articles: