Skokkende bewerings dat die jong man wat wyle lt. kol. Charl Kinnear (52) koelbloedig voor sy huis doodgeskiet het, kort daarna óók doodgeskiet is en dat sy lyk langs Kinnear s'n in die lykhuis gesien is, is pas weer uit betroubare bron bevestig.

Die jong man, geklee in 'n rooi kappietop wat duidelik op beeldmateriaal vasgevang is waar hy verby mense in Bishop Lavis se strate stap voor hy Kinnear doodluiters deur sy motorruit doodskiet, het sedertdien skynbaar spoorloos verdwyn . . .

Kilian skieter

Die bewerings versterk die vermoede dat die einste korrupte SAPD- en bendelede wat al jare lank saam 'n gedugte misdaadsindikaat in die Wes-Kaap bedryf en op wie se spoor Kinnear was, agter Kinnear se sluipmoord sit.

Bewyse is na bewering ook gevind dat Kinnear se selfoon deur lede van Militêre Intelligensie gemonitor is.

Bogenoemde verwikkelinge versterk ook die vermoede dat Zane Kilian (39) van Springs doelbewus deur dié sindikaat by die saak ingesleep is as sondebok en aandag-afleier, wetende dat hy oor geen inligting oor die Kinnear-moord beskik wat hulle aan die kaak kan stel nie.

Zane Kilian

Kilian is al sedert 21 September in aanhouding en al sy pogings om om borgtog aansoek te doen, is telkemale uitgestel omdat 'n "veiliger" hof glo geïdentifiseer moet word vir sy verskyning weens die woede van die inwoners van Bishop Lavis.

HOEKOM is dié inwoners so kwaad vir Kilian as die beeldmateriaal duidelik wys dit is NIE hy wat Kinnear vermoor het nie? Hoekom plaas die gemeenskapskoerant Die Son nie die foto's van die skieter om die gemeenskap se gemoedere te laat bedaar sodat die ware moordenaar(s) vasgetrek kan word nie?

Kilian is glo boonop deur SAPD-lede aangemoedig om as Artikel 24-staatsgetuie op te tree in ruil vir "beskerming vir hom en sy gesin". Kilian het dit van die hand gewys omdat hy geen inligting het oor Kinnear se moord of die beplanning daarvan nie.

Skadevergoedingseis teen polisie

 

 

Kilian beplan glo om 'n skadevergoedingseis van tussen R20 en R35 miljoen teen die SAPD in te stel vir sy onregmatige opsporing, inhegtenisneming, aanhouding en beswaddering deur die media sonder dat die SAPD die vereiste lasbrief en dagvaarding gehad het.

Kilian is kort ná Kinnear se moord by die saak ingesleep nadat die bekende Kaapse bendeleier Jerome (Donkie) Booysen, glo gesê het 'n Pretoriase kennis het hom (Booysen) gewaarsku dat iemand sy selfoon monitor en dat dit glo ene Zane Kilian is.

Jerome Donkie Booysen

Jerome (Donkie) Booysen, 'n bekende in die Kaapse onderwêreld

'n Middernagtelike klopjag is dadelik op Kilian se huis in Springs uitgevoer en nadat dit deursoek is vir gevorderde telekommunikasietoerusting, is niks gevind nie en net op sy selfoon beslag gelê.

Owerspelige vrou se bewegings moes gemonitor word

 

 

Bewyse is wel daarna op Kilian se selfoon gekry dat hy die ligging van Kinnear se selfoon gemonitor het, maar die persoon (ene Mohammed) wat hom dié nommer gegee het onder die voorwendsel dat Kilian sy "owerspelige vrou" se selfoon moet monitor, het blykbaar elke keer 'n ander simkaart gebruik (ghost phone) sodat die nommers nie meer bestaan of opgespoor kan word nie nie - 'n ou, bekende gebruik in die Kaapse onderwêreld.

Sy regsverteenwordiger, adv. Eckardt Rösemann, het vroeër dokumente en bewyse by die hof ingedien waarin hy aanvoer dat sy kliënt nie moord gepleeg het, sameswering tot moord gepleeg het of die wet op telekommunikasiewetgewing oortree het nie, aangesien hy wettig geregistreer is by die betrokke beheerliggaam om ondersoek- en selfoonmoniteringswerk te doen.

'n Woedende familievriend het vanoggend gesê: "Zane was agt jaar laas in die Kaap, hy het verlede jaar eers die skuldinvorderings- en private ondersoekwerk van sy huis af in Springs begin doen en het nie eens geweet van Kinnear se bestaan nie. Hy is deur 'n man (Mohammed) gekontak wat glo van sy vrou wou skei oor haar owerspelige gedrag en Zane moes haar bewegings deur dié nommer monitor.

Die polisie het AL die bewyse en nommers, maar Zane word steeds geteiken

 

 

"Al die nommers van die persoon (Mohammed) wat Zane gekontak het, is steeds op sy foon, maar is "spooknommers" en bestaan nie meer nie. Kort ná Zane se inhegtenisneming het sy vrou, Nicolene, ook 'n whatsapp ontvang wat vra dat al "Mohammed" se nommers van Zane se foon verwyder moet word. Niemand weet hoe dié persoon (Mohammed) ook Nicolene se selfoonnommer bekom het nie. Dié whatsapp aan haar en al die nommers van ene Mohammed op Zane se selfoon is in die Polisie se besit", het hy gesê.

  • Intussen is die Valke se ondersoekspan in Kinnear se moord ontslaan en is 'n brigadier van Pretoria en 'n polisiekolonel van Kimberley ingeroep om die saak oor te neem.

Charl Kinnear1

Zane is steeds in aanhouding in Bellville en sal Woensdag eers weer in die hof verskyn om te hoor "watter distrikshof is veilig genoeg om sy borgtogaansoek aan te hoor".

Van die tergende vrae wat steeds nie beantwoord is nie, is:

*  WIE het die opdrag gegee om die polisiebeskerming aan Kinnear en sy gesin te staak?;

*  Hoekom het Militêre Intelligensie Kinnear se selfoon gemonitor?;

*  Hoe kan 'n jong man binne sekondes nadat hy 'n speurhoof helder oordag in Bishop Lavis doodgeskiet het, van die aardbol verdwyn en hoekom is sy bewegings ná die moord nie ook op beeldmateriaal vasgevang nie?

*  Wie is die persoon (Mohammed) wat Kinnear se selfoonnommer onder valse voorwendsels aan Kilian gegee het? Is Kilian juis as gerieflike sondebok geteiken omdat hy buite die Kaapse bendewêreld woon en 'n klein, eenman-besigheidjie in Springs bedryf wat geen risiko van uitkenning vir lede van die Kaapse onderwêreld inhou nie?

Kilian skieter3

 

Related Articles: