Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Wolwedans Game Farm Oyster World Skorpios Security Delfinos.Passion for food-Passion for life Beach House Restaurant Property Pointer Ponto Grille and Carvery

 

MosselbayonTheline | First With The News

Sy boek het ongekende opslae gemaak en die eerste oplaag is binne ‘n week wêreldwyd opgeslurp. Eintlik was hy nie meer lus vir skryf nie – nevvermaaind ‘n mynveld van korrupsie en staatskaping oopgrawe. Eintlik wou hy net kosmaak in hul aftree-restaurant op Riebeek-Kasteel.

Maar sy gewete en ingebore sin vir regverdigheid het hom gedryf . . . om tot in Rusland te gaan krap en ondanks doodsdreigemente en moontlike vervolging en tronkstraf die verdoemende bewyse teen President Jacob Zuma en sy trawante neer te pen . . . sodat die wêreld minstens kan wéét.

Jacques Pauw het met sy dapper onthullings in die boek The President’s Keepers gewys en bewys wat een mens kan regkry as hy/sy regtig omgee en ‘n verskil wil maak . . . en oormag hoop gebring vir ‘n nasie wat vuisvoos en feitlik hooploos geslaan was deur misdaad- en geweldorgies en ‘n Regering wat dit oënskynlik aanhelp . . .

Hopelik het hy hierdeur die voorbeeld gestel wat nodig was . . . as elkeen sy deeltjie doen, kán die land gered word.

Lees gerus meer oor dié uitstaande joernalis en sy inspirerende voorbeeld:

Bronne: Huisgenoot / Media 24

Jacques Pauw het sewe maande lank aan die boek The President’s Keepers: Those Keeping Zuma in Power and out of Prisongewerk.Foto: Tafelberg

Jacques Pauw 2 768x893 2

Nie eens doodsdreigemente kan Jacques Pauw stuit om sy boek The President’s Keepers: Those Keeping Zuma in Power and out of Prison te versprei en daaroor te praat nie.

“Mense wat jou wil doodmaak, gaan jou nie vooraf dreig en waarsku nie,” het Pauw Dinsdag in ’n onderhoud met Pieter-Louis Myburgh van News24 gesê.

“Max du Preez sê hoeka nou die dag vir my ek gaan nou my derde landsplig doen. Die eerste was my diensplig by die weermag. Die tweede was toe ek vir die anti-apartheid-dagblad Vrye Weekblad gaan werk het. Dié boek is my derde diens.”

Pauw het sedert die naweek reeds drie doodsdreigemente ontvang, waarvan die laaste lui: “If you don’t stop writing about Zuma, we will kill you.”

Hy sê hy het teenreaksie van die owerhede verwag, maar nie eers vyf dae nadat die boek al verskyn het nie.

“Ons het gedink die staat gaan ’n dringende aansoek indien om die boek uit die winkels te hou en daarom het ons dit ook nie vooraf bemark nie, maar toe kom die brief van die Staatsveiligheidagentskap (SVA) eers vyf dae nadat daar al duisende boeke verkoop is.”

Die SVA beweer die boek oortree intelligensie-wetgewing. Pauw en NB Uitgewers se prokureurs het gereageer deur te sê dat hulle nie die boek van die publiek gaan weerhou, dit van die mark gaan onttrek of enigiets wat daarin vervat is, sal terugtrek nie.

Benewens die SVA, het Arthur Fraser, direkteur-generaal van die SVA, ook in sy persoonlike hoedanigheid Pauw met regstappe gedreig oor “leuens” oor hom en die familie.

“Die SAID beweer weer ek het vertroulike inligting van belastingbetalers bekend gemaak.”

Pauw en die uitgewer hou egter vol die inligting in die boek is waar en van onmiskenbare openbare belang.

Hy sê hy kan verstaan waarom byvoorbeeld Fraser daarop uit is om sy mond te snoer.

“Die voormalige minister van intelligensie, Ronnie Kasrils, het die beginsel van die PAN-projek afgeteken, maar Fraser-hulle het sy handtekening nagemaak om meer en meer geld te kry. Dis bedrog! Daarmee saam onthul ek ook hoe Fraser sy eie persoonlike rekenaarbedryfstelsel in sy huis laat installeer het. Alle intelligensie-verslae van agente is dus by sy huis gestoor en hy sou besluit watter verder aan die lig sal kom en ondersoek sal word. Ondersoekbeamptes het bevind Fraser was besig om ’n parallelle intelligensienetwerk op die been te kry – hy het minstens 800 dokumente teruggehou,” vertel Pauw.

Gaan ondersoek die aantygings en doen iets daaraan. Dit help nie om die boodskapper te skiet nie.

Jacques Pauw

“Ons is nie veronderstel om te weet hoeveel mense vir die intelligensie werk nie, hoe hul begroting lyk of aan watter projekte hulle werk nie, maar ons moet die intelligensie-wetgewing verander sodat ons kan weet. Geheimhouding van projekte behoort tersyde gestel te word die oomblik as daar tekens van korrupsie bespeur word. Staatsintelligensie kan nie agter intelligensie-wetgewing wegkruip om hul misdrywe te verskans nie. As hulle hul werk gedoen het, het misdaad nie buite beheer geraak soos dit tans gebeur nie.”

Pauw haal die Amerikaanse fluitjieblaser Edward Snowden aan wat gesê het: “As die oopvlek van ’n misdaad soos die pleeg van ’n misdaad hanteer word, word jy deur misdadigers regeer.”

“Gaan ondersoek die aantygings en doen iets daaraan. Dit help nie om die boodskapper te skiet nie,” meen Pauw.

Volgens Pauw is Zuma ’n baasbrein wat nie onderskat moet word nie. “Kyk net hoe hy die regsowerhede gekaap het. Hy moes ontslae raak van baie betroubare staatsamptenare en sy eie cronies in hul posisies kry. Dit het hom ’n paar jaar geneem, maar hy het dit gedoen. Kyk ook na die Guptas – selfs ná al die onthullings het nog niks met hulle gebeur nie.”

Pauw maan die media om versigtig te wees vir wat politici hulle voer en lesers, om goed te oorweeg wat hulle lees. “Daar gaan al hoe meer fopnuus vorendag kom soos die ANC-konferensie in Desember nader. Zuma wil hê sy eksvrou moet president word en dit gaan baie moeilik wees om dit te verhinder,” meen Pauw.

“Zuma bly in ’n parallelle heelal en weet nie wat om hom aan die gang is nie. Kan jy jou voorstel as ons toegee aan die ontsaglike duur kernkrag-transaksie en daar is nie meer geld vir skole, maatskaplike dienste en die polisie nie?”

Pauw, wat ook ’n stryd teen die apartheidsregime geveg het, meen egter Suid-Afrikaners moet nog nie moedeloos word nie.

“Ons het vandag steeds ’n pragtige Grondwet, wat onder meer beteken ons het vryheid van spraak.”

Hy glo daar is drie dinge wat Suid-Afrika kan red: Die howe, die media en die landsburgers.

“Mobiliseer mense teen die dinge wat hulle g*tvol maak. Daar is ’n algemene gevoel van ‘ons kan niks doen om hierdie dinge te keer nie’. Wel, as elkeen net opstaan en die regte sake ondersteun, sal dit klaar help. Ons is op die rand om ’n gangster state te word. Kom ons doen alles in ons vermoë om dit te keer.”

https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/jacques-pauw-moenie-die-boodskapper-skiet-nie-20171107

 Image 3

Image 4

Related Articles:

Add comment

No abuse, no discrimination, no foul language


Security code
Refresh