Property Pointer Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Oyster World Top Up Service Station Beach House Restaurant Skorpios Security Delfinos.Passion for food-Passion for life

 

MosselbayonTheline | First With The News

MosselbayonTheline het onlangs breedvoerig berig oor die toenemende chaos en ongerymdhede in die eiendoms- en toerismemark rakende gebrekkige wetgewing/regulering om onderskeid te tref tussen kommersiële korttermyn-vakansiehuisvesting vir toeriste en residensiële huureiendom vir kort-, middel- of langtermynverhuring aan plaaslike inwoners.

Dié “free for all feeding frenzy” in seisoentye veroorsaak nie net dat langtermyn-huurders elke Desember letterlik op straat sit nie, maar ook dat sub-standaard eiendom wat aan geen minimum-toerismestandaarde of -veiligheidsmaatreëls voldoen nie, teen onrealistiese pryse aan toeriste verhuur word. Dié verskynsel skep ook ‘n onregverdige wanbalans tussen gevestigde, geregistreerde gastehuise en B&B’s wat genoodsaak word om aan streng vereistes en regulasies te voldoen en die toenemende aantal “pop-up”-blyplekke wat seisoentye die besoekers en toeriste melk.

airbnb3 2rent 3

Huis, paleis, pondok, varkhok . . . solank hulle betaal?

wit plakkers5 768x576 4holiday home 5

Of dit sommige eiendomsagente of sommige huiseienaars is wat dié onetiese praktyk vir eie gewin aanvuur, is nie seker nie. Dit blyk egter dat in die meeste gevalle die eiendom namens die eienaar deur agentskappe “bestuur” word sodat die eienaar(s) nie altyd bewus is wat by hul huurhuise aangaan nie. Dis ook te betwyfel of huiseienaars met goeie, betalende langtermyn-huurders so harteloos sal wees om elf maande van die jaar hul huurgeld te neem en dan te verwag hulle moet Desembermaande alles ontruim om plek te maak vir toeriste wat vyf keer meer sal opdok.

Volledige berigte hier:

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2053185624912694

Dié probleem is nie net tot Mosselbaai beperk nie. Die agentskap Lew Geffen Sotheby’s International Realty het onlangs ‘n verklaring hieroor uitgereik om huiseienaars in te lig en te waarsku oor verbruikersregulasies en munisipale verordenings waaraan hulle moet voldoen. Die verklaring is in die Eiendomsbylae van Die Burger gepubliseer:

Vakansieverhurings is nie sommerso

Die jaarlikse Desembervakansie is om die draai – ’n tydperk wanneer groot getalle Suid-Afrikaanse sowel as buitelandse vakansiegangers op Kaapstad toesak om die mooi strande en talle ander lekker geriewe hier te kom benut.

surfersriaan5 480x320 6seeplasie19 7
Die Moederstad is deesdae ’n wêreldklas-toeristebestemming en volgens eiendomskenners het die aantal vakansiehuureiendomme in dié stad skerp gestyg te danke aan die toename in toeriste oor die jare.

Dit sorg nie net vir ’n mededingende mark vir vakansieverhurings nie, maar bied Kaapse eiendomseienaars ook ’n gulde geleentheid om ’n goeie huurinkomste te verdien.

Daar is egter slaggate waarvan eienaars bewus moet wees ten einde hul huurinkomste gedurende die vakansietyd te optimaliseer, lui ’n verklaring wat deur die agentskap Lew Geffen Sotheby’s International Realty uitgereik is.

Dit is dalk so dat buitelandse en plaaslike toeriste na die stad stroom, maar hulle is bederf met ’n wye verskeidenheid akkommodasiekeuses.

toeriste 1 8toeriste1 1 9

Dit beteken dat verhuurders nie net slim moet wees met hul bemarking nie, maar ook gehaltediens moet lewer en goed ingelig moet wees oor die munisipale verordenings en verbruikersregulasies wat op die sektor van toepassing is.

Lew Geffen Sotheby’s het ’n paar kenners genader om raad te gee aan verhuurders wat vakansieverhurings wil doen.

Die transportbesorger


Dit is belangrik om omvattende bepalings en voorwaardes op te stel as jy jou eiendom aan vakansiegangers gaan verhuur. Jy moet ook voorsorg tref vir alle moontlike gebeure wat jou eiendom aan moeilike dispute en finansiële skade kan blootstel.

Volgens Lara Colananni, ’n deskundige transportbesorger by Guthrie Colananni Prokureurs, is dit uiters belangrik om te verseker dat jou eiendom reg verseker is. Sy meen heelwat huiseienaars vergeet om hul versekeringsmaatskappy in kennis te stel wanneer hul omstandighede verander. “Dit maak nie saak of jy opknappings aan jou huis doen of dit aan vreemdelinge verhuur nie – jy moet seker maak dat jou versekering aangepas is om jou die nodige dekking te bied; anders bevind jy jou dalk stroomop sonder ’n roeispaan,” sê sy.

Die stadsvaders

Eiendomseienaars wat vakansieverhurings in Kaapstad wil doen, moet eers die nodige toestemming by die stadsowerhede kry – anders is dit onwettig en is boetes onder meer jou voorland.

In Kaapstad is verskeie verordenings daargestel wat korttermyn-verhurings reguleer en alle verhuurders moet aan dié regulasies voldoen.

Dit beteken egter nie dat álmal hul eiendom in die vakansietyd kan uithuur nie. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, verduidelik dat vakansieverhurings in woonstelkomplekse in Kaapstad nie net outomaties toegelaat word nie.

Die eiendom moet eerstens die toepaslike sonering hê, en toestemming van die Kaapstadmetro moet ook verkry word.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die munisipale verordenings wat onder meer gastehuise en bed-en-ontbyt (B&B)ondernemings reguleer, bepaal word deur die spesifieke dienste wat hulle bied – dienste wat in wese baie soortgelyk is aan die dienste wat jy by hotelle kry, maar net meer persoonlik. Hierdie ondernemings moet dus aan ’n hele reeks regulasies met betrekking tot gesondheid, brande en noodgevalle voldoen.

Die Kaapstad-metro se voorwaardes sluit onder meer in: Die eienaar moet op die perseel woon; nie meer as drie kamers mag aan meer as ses mense verhuur word nie; en vir elke kamer is daar ’n parkeerruimte op die perseel.
As verhuurders nie aan ál die voorwaardes kan voldoen nie, moet ’n aansoek om verlof by die Kaapstad-metro ingedien word.

Die eiendomskenner

Lew Geffen, voorsitter van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, se advies aan verhuurders is om die stadsraad self te nader om te verseker dat hulle aan ál die regulasies voldoen, eerder as om te wag dat die owerhede na hulle toe kom.

Voornemende beleggers moet ook eers vooraf ordentlik huiswerk doen om te verseker dat die eiendom geskik is vir vakansieverhurings, voordat hulle baie geld betaal in die hoop vir ’n groot huurinkomste.

Geffen waarsku ook om op die uitkyk te wees vir boewe wat die aanlyn platforms vir vakansieverhurings misbruik.

“Ons kantoor in Seepunt is onlangs deur ’n woedende toergids gekontak wat ’n woonstel aanlyn bespreek en betaal het, en voor dooiemansdeur gestaan het.
“Ons doen geen korttermynverhurings nie en die woonstel waarvoor sy betaal het, was ’n eiendom wat ons as te koop op ons webwerf geadverteer het. Dit was beslis nie te huur nie,” verduidelik Geffen.
“Dit kom toe uit die foto’s is van ons webwerf gehaal en dis op ’n vakansiewebwerf ‘geadverteer’.

“Die toergids het nie net haar kliënte se geld verloor nie; hulle het ook nêrens gehad om te oornag nie en die hele voorval het ongetwyfeld haar reputasie in die bedryf skade berokken.

https://www.netwerk24.com/Sake/Eiendomme/vakansie-verhurings-is-nie-sommerso-20171202

Behandel jou huurders met respek as jy moet verkoop

Met die ekonomie wat min tekens van versnelling toon, is daar eiendomsbeleggers wat noodgedwonge hul huureiendomme verkoop om hul skuld te verminder of kontant te genereer, maar dit moeilik vind omdat hulle steeds huurders het.

“Huurders kan trouens ’n verkooptransaksie maak of breek as hulle besluit om moeilik te raak,” sê Greg Harris, bestuurshoof van Chas Everitt Property Rentals.
“Juis daarom beveel die meeste eiendomsagente aan dat jy wag vir die huidige huurkontrak om te verstryk voordat jy die eiendom in die mark sit.

wit plakkers1 10“Dit is by uitstek raadsaam as jy ontevrede huurders het of as jou huurders nie gelukkig is met die vooruitsig om ’n nuwe blyplek te gaan soek nie.’”

Harris sê wat ’n mens tot elke prys wil vermy, is dat huurders potensiële kopers afskrik.

Hulle kan dit vir hulle moeilik maak om hul deel van die eiendom te besigtig deur dit vuil en slordig te laat of tydens besoeke rond te hang met ’n lang lys klagtes byderhand.

“As ’n huurder uitgetrek het, gee dit jou die geleentheid om die eiendom behoorlik skoon te maak, dit te verf, die tuin netjies te maak en herstelwerk te laat doen sodat jy dit in die beste moontlike toestand kan vertoon en die beste aanbiedinge kry,” verduidelik Harris.

Hy wys daarop dat dit egter nie altyd moontlik is om ’n huureenheid te laat ontruim voordat dit op die mark geplaas word nie.

“Dit kan maande neem vanaf die tyd dat die eiendom in die mark gaan tot dit verkoop word. En as die huureenheid leeg staan, is daar natuurlik geen huurinkomste nie,” sê hy.

“In die meeste gevalle moet eienaars verkoop terwyl die huurders steeds in hul eiendom bly. In sulke gevalle is hul beste opsie om die huurders so gou as moontlik te laat weet dat die eiendom verkoop gaan word en hulle op datum hou met alle ontwikkelings.”

Hy sê eienaars moet ook hul huurkontrakte nagaan, aangesien dit moontlik ’n klousule bevat wat bepaal dat die eiendom slegs in die laaste drie maande van die huurtydperk in die mark geplaas mag word.

“Ons vind dat die meeste huurders baie tegemoetkomend is, mits hulle voel hulle word regverdig behandel en dat hulle nie in die duister gelaat word oor ’n saak wat ’n groot invloed op hul toekoms gaan hê nie,” sê hy.

Harris sê as jy ’n goeie verhouding met jou huurders het, kan jy hulle selfs motiveer om jou te help om die eiendom vinnig te verkoop. “As hulle gaan aanbly nadat die eiendom verkoop is, verlaag byvoorbeeld hul huur vir die volgende maand of twee om hulle te beloon vir hul poging om die plek skoon en netjies te hou vir potensiële kopers,” sê hy.

As hulle besluit hulle wil liewer verhuis, is Harris se raad dat ’n mens byvoorbeeld tot hul trekkoste kan bydra.

“Die suksesvolle hantering van huurders tydens die verkoop van ’n eiendom gaan gewoonlik minder oor die boodskap self as oor die manier waarop die boodskap oorgedra word,” sê Harris.

Kyk ook die video waarin ‘n plaaslike agentskapeienaar haar sterk uitspreek teen gierige vakansieverhurings ten koste van plaaslike inwoners:

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/videos/2053166914914565/

Wat gaan aan in Mosselbaai se huurmark en waar is die regulering? Dit blyk die gebrekkige wetgewing en beheermaatreëls in die land se eiendoms- en toerismebedryf het nou soveel skuiwergate geskep dat opportunistiese huiseienaars en eiendomsagente die situasie melk tot die uiterste. Hoeveel onwettige agente is in Mosselbaai werksaam? En hoeveel plaaslike, werkende inwoners wat genoodsaak is om ‘n huis te huur, sit dié vakansie letterlik op straat omdat hulle elke Desember moet uittrek sodat dieselfde huis teen astronomiese bedrae aan toeriste/besoekers verhuur kan word? Hoe “wettig” is dié onetiese wanpraktyk? Is pres.Jacob Zuma se morele kompas nou die norm?

Kry toeriste altyd waarde vir hul geld in Mosselbaai of word hulle uitgebuit?

 

Related Articles: