Top Up Service Station Delfinos.Passion for food-Passion for life Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Reflexions Professional Hair Beach House Restaurant Property Pointer

 

MosselbayonTheline | First With The News

Die ontstellende nuus dat die Hartenbos-rivier nou kort voor die Desembervakansie noodgedwonge gesluit moet word vir menslike aktiwiteite en die departemente van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning volstrek weier om die riviermond te kom oopstoot, is seker vir die meeste inwoners en besoekers 'n groot skok . . .

27 april20

Vir baie omgewingsbewustes wat al jare lank vergeefs waarsku en spook dat plaaslike owerhede moet aandag gee aan die toenemende verval by al drie riviere - Hartenbos-, Klein-Brak- en Groot-Brakrivier - is die sluiting van die rivier weens grootskaalse besoedeling en gesondheidsgevaar egter nie verbasend nie.

Hartenbos rivier gesluit

Selfs ons voortydige waarskuwing in September vanjaar dat besoekers gekla het oor vreemde opdrifsels in die rivier wat soos rioolafval lyk, het soveel snedige kritiek en opmerkings en selfs beskuldigings van "onverantwoordelike beriggewing" van munisipale kant en die Advertiser ontlok, dat 'n mens nie kon help om te wonder wat weggesteek word nie? Hoekom die hewige kritiek op 'n besoeker se opregte en bekommerde wenk aan ons dat ondersoek ingestel moet word?   

 Daar WAS toe al die tyd 'n d . . .  in die drinkwater en dit was beslis nie 'n droM nie . . .    https://web.facebook.com/mosselbayontheline/photos/pcb.2249151301982791/2249209221976999/?

 

hartenbos rivier1

'n Foto van die Hartenbos-rivier wat vroeër vandeesmaand reg langs die Riviera-hotel geneem is waar mense vroeër jare sorgvry in bootjies gevaar en geswem het. Watergehaltetoetse wat die Hartenbos-rivierforum op 19 November by 'n onafhanklike laboratorium op George laat doen het, dui egter op onaanvaarbare hoë  vlakke sulfaat-, ammoniak- en E.coli en moontlike rioolbesoedeling.

27 april18

Ons het die kranige roeiertjie in April vanjaar in die Hartenbos-rivier afgeneem en toe reeds gewaarsku dat kinders versigtig moet wees om nie van die water te sluk of te swem as hulle seerplekke het nie weens die twyfelagtige kleur en opdrifsels in die water wat ook op die foto gesien kan word.  

Ook foto's wat ons in September geneem het terwyl die riviermond oop was, het geen verbetering in die watergehalte dieper in die rivier getoon nie.

Dit is egter nie 'n nuwe probleem nie en dit blyk dat dinge al sedert vroeg in 2015 begin handuit ruk het. Tóé reeds is erge kommer uitgespreek oor veral die storting van erg besoedelde water van die munisipale stormwaterstelsel en die rioolsuiweringswerke in die rivier. Die hoë ammoniakvlakke in die rivierwater is voorts vererger deur menslike nedersettings langs die rivier waar ablusie- en rioolwater goedsmoeds in die rivier gestort word, asook boerderye waar chemiese gif- en bemestingstowwe toenemend in die water beland en die natuurlike soutvlakke verander. 

Ondanks daadwerklike pogings deur die Hartenbos Rivierforum om die saak te beredder, het die rivier se toestand en watergehalte desondanks so verswak dat die water nou weer onveilig geraak het vir ontspanningsdoeleindes en tydelik gesluit moes word tot verdere kennisgewing.  Vrae wat nou gevra word, is:

  • Hoe lank moet die rivier nog dien as "bodemlose puttoilet" vir munisipale watersuiweringswerke as dit duidelik is dat die groot hoeveelhede vars water en chemikalieë stelselmatig die sensitiewe rivierstelsel vernietig? Met die groeiende inwonerstal in die omgewing gaan die probleem net vererger;
  • Kan dié afvalwater nie verder behandel word om dit geskik te maak vir nywerheidsdoeleindes of landbougrond en eerder na omliggende plase herlei word nie? In 'n droogtegeteisterde land waar water die nuwe "goud" is, is dit amper krimineel om soveel bruikbare water in 'n uiters sensitiewe rivierstelsel see toe te pomp terwyl inwoners deur hul nekke betaal vir drinkwater en boere smag na water;
  • Wie monitor die aantal rivieroewer-bewoners wat dikwels onwettig en sonder ablusiegeriewe op plase "plak" en die rivier as wasplek en toilet gebruik?
  • Word die riviermonding deur kundige en ervare mense oopgemaak - op die regte plek en tyd en invalshoek in ooreenstemming met die seestroom wat die sand natuurlik sal wegvoer? "As kundige mense met die regte ervaring en kennis nie die riviermond oopmaak nie, sal dit binne 'n paar dae weer toespoel en groter skade aanrig. Jy kan nie die natuur beheer nie - jy moet sy natuurlike patroon volg as jy resultate wil hê," het 'n kundige laat weet.   

    

Brigit20

Só lyk dit tussen die  Hartenbos-rivierbrug en die rioolsuiweringswerke op die R102 waar poele water gedurig opdam.    

 Op 2 Desember 2016 is reeds soos volg oor die situasie in die Mossel Bay Advertiser berig:  

HARTENBOSRIVIER STADIG DOODGEMAAK

Mosselbaaiers wurg die lewe uit die Hartenbosrivier. Die munisipaliteit beplan nou om die rivier tydelik vir alle rekreasie te sluit.

Onlangse toetse dr Frans de Graaff (BVSc) op dooie vis uit die rivier het bevind dat die visvrektes aan die hoë ammoniakvlakke en verandering in die soutvlakke van die water toegeskryf kan word. Die ammoniakvlakke is volgens kenners die gevolg van onnadenkende, selfs moedswillige storting van onder meer diesel en olie in die munisipale stormwaterstelsel, en behandelde afvalwater wat vanaf die munisipale watersuiweringswerke in die rivier beland.
 
Menslike nedersetting en landbou-aktiwiteite dra verder by tot die rivier se swak waterkwaliteit.
 
"Die ammoniakvlakke in die water het waarskynlik alle lewe, buiten dalk 'n paar sandgarnale, uitgewis," is die skriftelike mening van 'n beampte van die departement waterwese en sanitasie wat vir professionele redes annoniem bly.
 
Intussen is hierdie week ook berig ontvang van voëlvrektes wat aan die Dibiki-kant van die rivier opgemerk is.
 
Gebreekte reaktor 
Die visvrektes in die Hartenbosrivier die afgelope naweek is waarskynlik die gevolg van te hoë ammoniakvlakke in die water, onder meer in die behandelde afvalwater wat van die munisipale aanleg in Hartenbos af kom, berig die waarnemende munisipale bestuurder, mnr Harry Hill.
 
Hy noem 'n kombinasie van faktore, onder meer die reaktor wat sover bekend op 1 November gebreek het, en die invloei van diesel deur die rioolstelsel na die aanleg wat nie die diesel kon neutraliseer nie, wat tot die besoedeling bygedra het.
 
Nog 'n week 
"Dit sal nog 'n week of wat neem vir die besoedelde water om deur te werk," aldus mnr Hill.
 
"Hoë ammoniakvlakke is egter ook hoër op in die rivier gemeet, en is vermoedelik die gevolg van septiese tenks in die nabyheid en landbou-aktiwiteite, asook natuurlike oorsake soos die verotting van plantmateriaal.
 
"Die munisipaliteit gaan intussen die monding so goed as moontlik probeer oophou, en borde aanbring om swem, hengel en die uithaal van aas tydelik te verbied totdat die probleem opgeklaar het. Daar sal voortgegaan word met die skoonmaak van die rivier, wat tydelik uitgestel moes word.
 
Blouvlag 
"Die besoedelingsprobleem is ingevolge die Blouvlagreëls aan die Wildlife and Environment Society of South Africa (WESSA) gerapporteer," berig mnr Hill. Hy sê watermonsters is geneem, soos daar deurlopend by Blouvlagstrande gedoen word, en die toetsuitslae sal aan WESSA voorsien word.
 
Die streng kriteria van die program fokus veiligheid, geriewe, netheid, inligting oor die omgewing en omgewingsbestuur en word deur die internasionale koördineerders van die Blouvlag-veldtog in Europa en Suid-Afrika nougeset vir nakoming gemonitor.
 
"Ons is uiteraard bekommerd oor die situasie in die rivier, en doen alles in ons vermoë om 'n oplossing te vind. Die situasie word deurlopend gemonitor," berig mnr Hill.
 
Bestuursplanne 
Mosselbaai munisipaliteit het bestuursplanne op die tafel vir die hantering van die riviermondings in die omgewing, maar hul jurisdiksie is beperk tot die mondings, maar die bron van besoedeling is in die meeste gevalle hoër stroom-op.
 
Die munisipaliteit het intussen opdrag gegee dat die rivierwater daagliks gemonitor word. Dit wil egter voorkom asof ander owerhede wat vir die res van die rivier verantwoordelik is, ook hul verantwoordelikheid baie meer nougeset sal moet nakom. Inwoners beweer dat landbouers te veel en ongereguleerd water uit die rivier onttrek en dat daar geen plan bestaan om die riete in die rivier te beperk of te verwyder nie.
 
"Probleme met visvrektes in die rivier het sporadies sedert April vanjaar toegeneem en dit wil voorkom asof die probleem net vererger het tot die situasie tans waar geen tekens van beide sout- en varswatervis in die riviermond voorkom nie.
 
Gewoonlik is die riviermondings die teelplek van vis. Met die jongste visvrektes is geen klein vissies te siene nie, wat 'n aanduiding is dat vis nie meer in die rivier teel nie," meen verteenwoordigers van die Hartenbosrivier-bestuursforum. Inwoners meen ook toestande in die rivier kan nie die slegs aan 'n gebreekte reaktor toegeskryf word nie.
 
Die afgelope week het inspekteurs van die departement omgewingsake, die sogenaamde Groen Skerpioene, die rivier wel besoek om ondersoek in te stel.
 
 
Kyk hieronder na 'n video-onderhoud met 'n verteenwoordiger van die Hartenbosrivier:
 
 
 
Twee jaar later . . .  Bogenoemde bevindings en bestuursplanne is reeds TWEE jaar gelede gedoen en hoewel AL die kenners die verhoogde ammoniakvlakke grootliks toegeskryf het aan die groot hoeveelhede behandelde varswater van die watersuiweringswerke wat in die rivier gestort word, is daar blykbaar niks gedoen om dié ooglopende OORSAAK van die probleem op te los nie.
 
Terwyl daar nou WEER (nes in 2016) vinnig voor die vakansie inderhaas noodplanne gemaak word om die Hartenbos-rivier betyds skoon te kry vir die hordes vakansiegangers en besoekers wat in aantog is, laat dit 'n wrang smaak in die mond. Hoekom NOU eers wakker skrik as dieselfde probleem al jare lank bestaan en plaaslike inwoners al vuisvoos gekla en baklei is? Moet die inwoners maar deur die jaar tevrede wees met die besoedeling, solank die besoekers net gelukkig is?
 
KLEIN-BRAKRIVIER
 
Klein Brakrivier
Net 'n entjie verder, op die pragtige Klein-Brakrivier, woed 'n soortgelyke stryd al langer as 'n dekade om die ewe sensitiewe rivierstelsel van ondeurdagte menslike inmenging en vergrype te red. 
Klein Brakrivier6
Só gaan dit binne die volgende paar weke weer op Klein-Brakrivier se strand lyk . . . maar wat gaan aan by die rivier waar die krewels vrek en die vis verdwyn? 

kleinbrak
 
 Die pragtige Kleinbrak-vleiland, waar vroeër jare tot 66 voëlspesies in 'n paradysagtige eilandomgewing gebroei en gejag het in 'n florerende ekostelsel, lyk vandag soos 'n dorre en verlate maanlandskap. 
 
power town river22
 
 
 
 
Waar voetspore vroeër in wit seesand al langs die riviermond tot in die see geloop het, is nou kleierige, swart en oranje sandgrond waarin net herinneringe groei.
 
 
 
Klein Brakrivier8 oom
 
 Vroeër jare was daar geen sprake van riete en varswaterplante in die soutwater-rivier nie en die hele rivier was 'n vissermansparadys. Sedert groot hoeveelhede afvalwater van PetroSA se opgaartenk en die munisipale waterwerke egter in die rivier vrygelaat word, het slik, riete en varswaterplantegroei die hele vleiland en sytak vernietig.  
 
 
power town river23
 
'n Entjie verder is 'n ou begraafplaas waar van die omgewing se pioniers en bekende voorsate jare gelede 'n statige rusplek op die oewer van hul geliefde rivier gevind het. Vandag rol hulle sweerlik in hul grafte rond oor wat met hul idilliese rivier-landskap gebeur het. 

power town grafte
 
Knus agter hulle lêplek pryk 'n lelike draadomheining om PetroSA se reuse-reservoir vol water uit die Wolwedansdam te beskerm.
 
power town river19
 
Links van hulle is 'n onooglike gebouekompleks wat die munisipale waterwerke huisves.
 
power town river17

Voor hulle is die erg vervalle ou kragstasiegebou met sy uittand-vensters waaruit bome en bosse groei - die baken vir die steeds groeiende Power Town-nedersetting waar elf nuwe "onwettige" huisies die afgelope paar maande weer opgeskiet het. En oral tussenin, waar die rivier eens glad en blink gevloei het, is net bosse en riete en soveel verwaarlosing dat nie eens voëls, slange of insekte dit daar waag nie.

power town bome

 
Oorkant die N2-hoofpad wat destyds bo-oor die rivier gebou is, lyk dit nog erger . . . Riete groei skouerhoog en waar die sytak van die rivier tot doer bo moes loop om aan te sluit by die hoofstroom, versper sementblokke en dosyne waterpype die pad.        

power town river9

Die verstopte kasduikers (culverts), pypleidings en reuse-sementblok is reg bo-op die vloei van die sytak van die Klein-Brakrivier gebou en blokkeer, tesame met die riete, die normale vloei van die seewater wat hierdeur moet vloei.  

power town river2

Die onooglike en vervalle ou kragstasie teen die pad is al dekades lank 'n groot steen des aanstoots en is ook uitgewys as een van die grootste versperrings in die natuurlike waternetwerk, maar die gebou staan steeds soos 'n seer oog terwyl al hoe meer nuwe inwoners daar intrek wat eintlik in Sonskynvallei hervestig moet word. Die nuwe onwettige strukture sou 'n paar weke gelede afgebreek word nadat wyksraadslede dringend in kennis gestel is, maar niks het nog gebeur nie.

Power Town River

Pypleidings van PetroSA en die munisipale waterwerke lê sommer oral in die toegegroeide rivierloop waar seewater moet deurvloei . . . dié versperrings sou lankal verwyder gewees het, maar iewers ontbreek die wil of belangstelling?  

power town river12

 Waar seewater moes opstoot in die sytak om bo by die hoofstroom aan te sluit, groei net bosse, riete en plante van al die varswater wat van PetroSA in die rivier beland  . . . 

power town river3

 

 

power town river4

Al wat oorgebly het van die rivieroewer waar seewater vryelik moes invloei . . . 

Maar daar is nog hoop . . . want die natuur het 'n manier om homself te genees . . . as die mens net wil ophou inmeng en die natuurwette respekteer?

Hoe lank gaan dié eens pragtige en natuurlike riviernetwerkstelsel nog só verwoes word voordat die betrokke owerhede en leiers daadwerklike en permanente oplossings vir die OORSAAK van die probleem vind? Of word die verantwoordelikheid maar net aangeskuif totdat dit te laat is en miljoene rande gaan kos?   

 

 Lees ook: 

 Related Articles:

 https://www.mosselbayadvertiser.com/News/Article/General/hartenbos-river-unsafe-for-recreational-use-201811300723

 

 

Pin It
Related Articles: