Die soektog na die vermiste Heidi Scheepers (35) en haar dogter Cozette (6) het Saterdag oor die etensuur 'n dramatiese wending geneem toe 'n lid van die publiek 'n liggaam in die see by Heroldsbaai opgemerk en die plaaslike tak van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in kennis gestel het.
Dié het op hul beurt die polisie ontbied wat dadelik gereël het dat die liggaam aan wal gebring word.
Die liggaam is vermoedelik dié van die vermiste Heidi Scheepers wat sedert Dinsdagaand vermis is nadat sy en haar twee kinders, Cozette en Hugo (2) ná 'n stranduitstappie onverklaarbaar met hul motor oor die afgrond by die Voëlklip-uitkykpunt gestort en in die see beland het. Haar man, Etienne, het hulle later as vermis aangemeld toe hulle teen 20:30 nog nie by die huis was nie.
Foto's en videos van die dramatiese seedrama op die strand by Heroldsbaai is Saterdag wyd op sosiale medianetwerke versprei.
Die liggaam van 'n vrou (vermoedelik dié van Heidi Scheepers) word aan wal gebring. Foto onder en voorbladfoto: Kristy Kolberg
Klein Hugo (2) se liggaampie en die wrak van hul Volkswagen Caravelle-kombi is Donderdag uit die see herwin, maar geen teken van Heidi en Cozette is sedertdien gesien nie.
Die Suid-Kaap se polisiewoordvoerder, kapt.Malcolm Pojie, wou nie Saterdag amptelik bevestig of dit wel Heidi se liggaam is nie en het gesê dis aan 'n forensiese span oorhandig vir 'n nadoodse ondersoek wat in die volgende week uitgevoer sal word. Geen formele uitkenning is egter nog gedoen nie.
Intussen gaan die soektog na Cozette steeds voort.
Luister ook hier na 'n stemboodskap oor die jongste verwikkelinge:
LISTEN: UPDATE FROM CAPTAIN MALCOLM POJIE
Lees ook ons vorige berigte:
Soektog na Ma Heidi (35) en Cozette (6) in see by Heroldsbaai duur voort
Comments