Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Property Pointer Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Skorpios Security Beach House Restaurant

 

MosselbayonTheline | First With The News

7 belangrike bevindings van die mediese ondersoek

Die markondersoek na private gesondheidsorg het kommerwekkende bevindings aan die lig gebring en bevestig in baie gevalle wat verbruikers al jare weet. Hier is sewe van die belangrikstes.   

1. Onverklaarbare besteding    

Afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo, voorsitter van die ondersoekkommissie (op foto), het gesê die ontleding van die eise van mediese skemas toon dat daar rede tot kommer oor die styging in mediese kostes is. Die inligting van 2010 tot 2014 oor eise het getoon dat die besteding van ’n lid van ’n mediese skema met 9,2% per jaar gestyg het.

medies


Die inligting het die kommissie gehelp om dié deel van eise wat deur ouderdom, geslag, siektes en die erns van die toestande verduidelik kan word, te identifiseer. Nadat dit in aanmerking geneem is, is daar ’n deel van die styging wat nie verduidelik kan word nie. Die deel wat nie verduidelik kan word nie, styg met meer as 2% per jaar. In 2014 het die styging R3 miljard verteenwoordig. Die meeste van die onverklaarbare styging word aan hospitale toegeskryf. “Die groot deel onverklaarbare besteding in hospitale is kommerwekkend en ons bevindings toon dit is deels weens hoë benutting (’n hoër getal opnames) en ’n verhoging per opname.”   

2. Vraag aangedryf deur dokters en hospitale

Volgens Ngcobo toon die inligting van die markondersoek dat daar in der waarheid sterk bewyse is van vraag wat deur verskaffers aangedryf word. Volgens hom is dit ’n verskynsel waar groter toegang tot die dienste en geriewe ’n addisionele gebruik van dienste stimuleer wat nie andersins sou plaasgevind het nie. “In perfekte toestande sal dokters nie behandeling voorskryf wat nie absoluut noodsaaklik is nie. As die dokter die pasiënt aanmoedig om meer sorg te kry as wat nodig is vir die mediese probleem, word dit verskaffer-aangedrewe vraag genoem. “Dit gebeur wanneer dokters meer toetse as absoluut nodig aanbeveel of ’n keisersnee doen as dit nie absoluut nodig is nie, of pasiënte in hospitale opneem vir toestande wat buite die hospitaal gedoen kon word of hulle in hoësorgeenhede opneem wanneer ’n gewone opname geskik sou wees.” 

3. Kommer bestaan oor hospitaalopnames    

As die syfers oor hospitaalopnames vir ouderdom aangepas word, is dit hoër as 17 van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) se lande. Vir sewe spesifieke operasies wat op diskresie gedoen word, is ses se gebruik hoër as die gemiddelde vir die lande. Vir vier van die operasies, waaronder katarakte, mangels, gewrigsvervangings en keisersneë, is die gebruik in Suid-Afrika se private sektor hoër as in alle ander lande. Boonop is die opnames in hoësorgeenhede buitengewoon hoog. Ngcobo sê as die opnames in hoësorgeenhede gehalveer word, kan sowat R2,7 miljard per jaar bespaar word. Dit is sowat 2% van die besteding op private gesondheidsorg per jaar, volgens hom. In die markondersoek is bevind dat daar ’n wesenlike positiewe verband tussen die kans om opgeneem te word en meer dokters en hospitaalbeddens in ’n gebied is. Daar is ook ’n positiewe verband tussen die kans om in die hoësorgeenheid opgeneem te word en die getal van dié beddens in die gebied.  

4. Hospitaalgroepe te groot   

Die private hospitaalmark is hoogs gekonsentreerd. Op ’n nasionale vlak het die drie grootste hospitaalgroepe ’n markaandeel van sowat 90% gegrond op die hospitaalopnames en meer as 83% van die geregistreerde beddens. In die meerderheid van streke is die vlakke van konsentrasie ook kommerwekkend hoog. Een van die probleme hiermee is dat die drie groot hospitaalgroepe – Netcare, Mediclinic en Life Healthcare – nie uitgesluit kan word wanneer vir kontrakte onderhandel word nie en dit verminder mediese skemas se bedingingsmag. In die markondersoek word aanbeveel dat die hoë konsentrasie aandag geniet. Daar is ook te min daghospitale.   

5. Mediese skemas deur administrateurs gekaap   

Oor mediese skemas het hy gesê daar is min aansporing om te verseker dat skemas se personeel, trustees en hoofbeamptes in die beste belang van die verbruikers optree en administrateurs verantwoordbaar hou. Tans het administrateurs meer ontledingsvermoë en kundigheid as skemas en dit kom voor of administrateurs namens die skemas besluite neem, selfs oor belangrike kwessies soos strategie. “Die skeiding tussen nie-winsgewende skemas en winsgewende administrateurs lyk dikwels kunsmatig, veral groot oop skemas. Gevolglik is daar onvoldoende druk van skemas op administrateurs om beter waarde vir geld te lewer of om niegesondheidskostes te verlaag.” Die mededinging in die mark is nie effektief nie. Hoewel daar 22 oop skemas is, is die mark gekonsentreerd omdat twee mediese skemas sowat 70% van die lede en afhanklikes in die mark het. Die oorheersing van Discovery Health Medical Scheme (DHMS) word uitgelig omdat dit 55% van die oop skemas se lede het. Die administrateurs is ook hoogs gekonsentreerd omdat Discovery Health (DH) en Medscheme 76% van die mark het gegrond op totale premies per jaar. Die markondersoek glo mededinging kan baie beter wees. Die markondersoek verwys na die gedeelde eienaars van DH, MMI (wat Medscheme en Metropolitan administreer) en Mediclinic (wat Remgro is). “Ons glo die gedeelde eienaarskap tussen die twee groot administrateurs en ’n groot hospitaalgroep kan die strategiese rigting beïnvloed en mededinging op lang termyn afkoel.   

6. Baie winsgewende administrateur     

Hy verwys spesifiek na hoe groot Discovery Health is. Die belangrikste bevinding van die winsontleding oor die medieseskemamark is dat mededinging nie sterk genoeg is nie en dit wil voorkom of dit afwesig is. Die ontleding oor ’n tien jaar tydperk van 2006 tot 2015 toon DH het ’n volgehoue hoë wins oor die hele tydperk gemaak wat baie hoër as sy mededingers Metropolitan en Medscheme was. “Ons erken baie van DH se sukses is deels toe te skryf aan ’n hoogs bevoegde bestuurspan, maar ons dink nie dit alleen verduidelik die wesenlike gaping in winsgewendheid met sy mededingers nie. Hoër as nodige betalings vir sy dienste, gegewe die skaalekonomieë wat bereik moet word en die vaslegging van DHMS, wat nie dienste van ander bedryfspelers kry nie, dra tot die winsgewendheid by. “Onder normale mededingende toestande sal DH se winsgewendheid ander nuwe mededingers lok en mededinging stimuleer. Maar daar is geen teken daarvan nie. Inteendeel DH word net groter en meer suksesvol. Dit is ’n aanduiding van ’n fout in die mark en daar is geen aanduiding dat die mark homself gaan korrigeer nie.”   

7. Te veel opsies   

Verbruikers kan nie ’n vergelyking tref tussen die opsies wat mediese skemas bied nie. Sowat 270 opsies of planne word aangebied maar verbruikers kan dit nie vergelyk of daaruit kies op grond van waarde vir geld nie. “Ons verskil van administrateurs van oop mediese skemas en die selfgeadministreerde mediese skemas dat die kompleksiteit innovasie weerspieël. “Dit is eerder dat die doelbewuste manier hoe hierdie aanbiedinge verpak en geprys word, mediese skemas toelaat om prysmededinging te voorkom of te verswak.” Die markondersoek sê talle opsies is ’n gevolg van ’n onvolledige wetsomgewing en dit het die vorm van mededinging wat in die mark vir mediese skemas aangetref word, beïnvloed. 



https://www.netwerk24.com/Sake/Muntslim/Mediese-Fondse/7-belangrike-bevindings-van-die-mediese-ondersoek-20180705

Tien aanbevelings om mediese koste in die bek te ruk


Talle aanbevelings wat uiters ongewild gaan wees onder verskaffers maar wat deur verbruikers verwelkom gaan word, word gedoen in die voorlopige verslag van die markondersoek na private gesondheidsorg.

Afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo, voorsitter van die ondersoekkommissie, sê omdat die markondersoek talle kwessies geïdentifiseer het wat mededinging beperk, is die aanbevelings daarop gemik om dít teen te werk. Jy kan die aanbevelings ook self lees in die verslag hieronder.    

1. Behoeftesertifikate   

Die belangrikste kwelpunt oor hospitale is die hoë vlak van konsentrasie in die mark. Die Wet op Nasionale Gesondheid van 2003 maak voorsiening dat behoeftesertifikate hospitaal-lisensies vervang, maar dit is nog nie gedoen nie. Ngcobo vra dat dit so gou moontlik toegepas word. Dit sal vir alle gesondheidsinstellings geld: daghospitale, klinieke, tandartse en spreekkamers.   

2. Hospitale verkoop   

Die markondersoek het talle opsies oorweeg om die hoë vlakke van konsentrasie die hoof te bied, waaronder die verkoop van hospitale en om ’n verbod te plaas op nuwe lisensies aan die drie groot hospitaalgroepe – Netcare, Life Healtchare en Mediclinic.   

3. Reguleerder vir verskaffers     

Aan die verskafferskant was daar nog nooit werklik ’n toegewyde reguleerder soos wat mediese fondse ’n Raad op Mediese Skemas het nie. Ander lande het wel so ’n reguleerder. “In Suid-Afrika is verskaffers in die algemeen gelos om in ’n gefragmenteerde, swak toegepaste wetgewende omgewing te werk.” Die markondersoek beveel onder meer ’n onafhanklike openbare entiteit as reguleerder vir verskaffers aan.

4. Prysbeheer     

Ngcobo sê talle klagtes is ontvang oor die “prysvakuum” wat dit moeilik maak om die koste van verskaffers te vergelyk. Die twee voorstelle behels: ’n Regulatoriese oplossing waar die nuwe reguleerder van verskaffers die pryse bepaal ná konsultasie met rolspelers op ’n openbare forum; of ’n Platform waar rolspelers onderhandel oor pryse en ’n ooreenkoms bereik binne ’n raamwerk wat deur die nuwe reguleerder bepaal word. In albei gevalle sal ’n arbiter dispute oor pryse oplos. Die markondersoek beveel aan dat die pryse van voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) vasgestel word terwyl ander dienste en produkte se pryse volgens ’n verwysingspryslys bepaal sal word.   

5. Een basiese opsie   

Die opsies van mediese fondse moet vereenvoudig word deur een opsie te hê wat dieselfde vir alle fondse is. Die opsie is verpligtend vir alle fondse en moet “katastrofiese” mediese uitgawes (ingesluit die huidige voorgeskrewe minimum voordele) dek asook voorkomende en primêre gesondheidsorg buite hospitale. Die opsie moet op dieselfde manier deur alle fondse aangebied word sodat dit maklik is om te vergelyk. Aanvullende dekking kan dan ontwikkel word vir die dienste wat nie in die basiese opsie is nie.   

6. Hersien VMV’s     

Om seker te maak die basiese opsie is geskik, moet die VMV’s wat fondse verplig is om te dek hersien word sodat dié voordele buite die hospitaal aangebied kan word. Dit sal die huidige aansporing verwyder om pasiënte in die hospitaal op te neem vir VMV’s. Die voordele moet uitgebrei word om primêre en voorkomende gesondheidsorg in te sluit. Die nuwe VMV’s moet hospitaalplanne uitgedien maak.     

7. Risikogelykmaking     

Mediese fondse versoek al jare lank ’n risikogelykmakingsfonds. Dit het nooit in wetgewing gerealiseer nie, hoewel dit die bedoeling was. Omdat fondse nie mag diskrimineer teen mense op grond van ouderdom of siekte nie, kry sekere fondse swaarder as ander. So ’n meganisme sal die koste van eise versprei tussen fondse. “In beginsel sal van fondse vereis word om geld in ’n risikogelykmakingsfonds te stort gegrond op hul onderskeie risiko. Dus sal fondse met lae risiko geld inbetaal, terwyl fondse met hoë risiko subsidies van die fonds kry,” lui die voorlopige verslag. Hospitale loop die ergste deur onder kritiek in die verslag. Daar word aanbeveel dat belastingkrediete (’n belastingvoordeel vir mediesefondslede wat hul premie verlaag) hersaamgestel word in die vorm van ’n bydraesubsidie wat deur die fonds geadministreer word eerder as deur die SuidAfrikaanse Inkomstediens. Dit sal laerinkomstegroepe help om premies te bekostig.   

8. Mediese fondse moet administrateurs in toom hou     

Verskeie aanbevelings word gedoen om te verseker dat fondse in belang van lede optree deur administrateurs aanspreeklik te hou. Dit sluit in maatreëls om beheer te versterk sodat fondse groter druk op administrateurs kan plaas om waarde te skep vir lede, asook maatreëls wat die Raad op Mediese Skemas (RMS) in staat sal stel om groter toesig oor fondse te hou.

9. Keuse oor makelaars     

Lede van mediese fondse moet kan kies of hulle ’n makelaar wil gebruik. Lede wat nie ’n makelaar gebruik nie, moet minder betaal.     

10. Talle wysigings aan die etiese reëls van dokters     

Daar word aanbeveel dat die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) die etiese reëls vir dokters verander sodat dokters in diens geneem kan word (in teenstelling met net vir hulself werk). Daar word egter vir eers aanbeveel dat dié indiensneming nie deur winsgedrewe hospitale gedoen word nie omdat hospitale en dokters se belange te nou verwant is deurdat ’n toename in die gebruik van dienste albei partye sal bevoordeel. Die kommissie soek voorstelle hoe sekere kategorieë dokters deur die private sektor in diens geneem kan word op maniere wat die sektor as geheel sal bevoordeel. Markondersoek - Aanbevelings by Hanlie Stadler on Scribd

Lees die volledige verslag hier: 
https://www.scribd.com/document/383257263/Markondersoek-Aanbevelings#from_embed

https://www.netwerk24.com/Sake/Muntslim/Mediese-Fondse/10-aanbevelings-om-mediese-koste-in-die-bek-te-ruk-20180705

L
ees ook: 

https://www.enca.com/money/how-to-save-on-your-medical-aid

 

Related Articles:

Comments  

0 #1 amoxycillin1st.com 2020-10-29 08:56
amoxycillin1st.com: https://amoxycillin1st.com/
Quote