Die eerste lig in die tonnel het uiteindelik deurgebreek vir 18 huiseienaars van die omstrede Seemeeupark-dorpsontwikkeling in Hartenbos wie se aftree-huise einde 2015 reeds die eerste onheilspellende krake begin toon en in 2016 inderhaas ontruim moes word weens erge grondverskuiwings.
'n Skikkingsooreenkoms is onlangs uiteindelik met die Switserse versekeringsreus Zürich bereik waarvolgens 75% van die oorspronklike eisbedrag aan 18 eisers uitbetaal is wat destyds die eerste skadevergoedingseise teen die Seemeeuvlug-kompleks se versekeraar ingestel het. Die skikking volg nadat regter Nathan Erasmus verlede jaar persoonlik die perseel kom besoek het om hom regstreeks van die feite te vergewis en 'n einde te bring aan dié voortslepende hofsage.
Die eisers het die saak met koste gewen en hoewel al 18 eisers vroeër vandeesmaand uitbetaal is, is daar gemengde gevoelens oor hulle noodgedwonge moes skik vir 75% van die oorspronklike eisbedrag.
Wonderwerke gebeur! Karin Prinsloo, Pieter Nel en sy vrou, Annetjie, is dankbaar en verheug oor die uitspraak. Pieter en Annetjie, wat destyds vanaf Bloemfontein hierheen sou verhuis om hul aftreejare langs die see te kom geniet, is ook destyds haweloos gelaat. Hulle glo ingryping van Bo en "toe-val-die-lig"-toevalli
Huiseienaars moes dadelik hul huise ontruim nadat dit in 2016 onbewoonbaar geraak het. Die feit dat hulle geweier het om dié huise te sloop voor die hofstryd afgehandel is, het waarskynlik meegehelp in hul sege teen die Switserse versekeringsreus Zürich nadat regter Nathan Erasmus persoonlik verlede jaar die perseel kom besoek het.
Die Seemeeupark-grondverskuiwingsramp is sedert 2016 in die nuus nadat huise in dié gesogte dorpsontwikkeling bestaande uit Seemeeuvlug, Rylaan 2 en Tuscan Village in 2015 begin kraak het kort nadat die eerste eienaars hul intrek geneem het. Die ontwikkeling is destyds goedgekeur en gebou op 'n ou uitgewerkte steengroef op die familieplaas Vyf Brakke Fonteinen wat aan die destydse burgemeester, André Nel, behoort het. Die eienaars, wat tot R4 miljoen per huis eis, asook verlies aan inkomste, beweer in hofstukke die Mosselbaaise munisipaliteit was grof nalatig toe hy in 1999 die behuisingsontwikkeling goedgekeur het ondanks waarskuwings dat die gewraakte stuk grond op 'n ou steengroef is en nie geskik is vir ontwikkeling nie.
Hartverskeurende verhale van pensioenarisse wat in September 2016 letterlik op straat gelaat is nadat die munisipaliteit uitsettingsbevele op hulle bedien en 'n week tyd gegee het om hul huise te ontruim, het destyds landwyd opslae gemaak. Sowat 30 gesinne is regstreeks geraak, onder wie meesal bejaardes wie se pensioengeld in dié aftreehuise belê is. Verskeie van hulle het weens die stres ernstige siektetoestande ontwikkel en moes boonop noodgedwonge hul siekefondse kanselleer of afskaal.
Die munisipaliteit het destyds beweer die ontwikkeling is op private grond gebou en dus nie sy verantwoordelikheid nie, hoewel hy wel die hersonering van die grond in 1999 goedgekeur het.
"Dit was 'n senutergende (reg)stryd wat net sewe van ons huiseienaars onder uiters moeilike omstandighede sedert 2016 moes veg om die regskostes aan te hou betaal terwyl ons nie eens meer 'n dak oor ons kop gehad het nie.
"Baie wonderwerke het egter in dié tyd gebeur en ons is baie dankbaar vir die uitkoms. Ons glo en vertrou regter Nathan Erasmus se bevinding sal ook meehelp om die voortslepende gesamentlike klasaksie-saak teen die betrokke owerhede te bespoedig", het Pieter Nel, een van die huiseienaars, vandeesweek gesê.
Dankie Vader! Gróót verligting en dankbaarheid . . . Karin Prinsloo en Annetjie en Pieter Nel is drie van die 18 Seemeeuvlug-huiseienaars wat vandeesmaand hul uitgerekte hofstryd teen die versekeringsreus Zürich met koste gewen het. Hulle vertrou die uitslag van dié hofsaak sal ook die uitgerekte klasaksie-saak teen die betrokke drie owerhede bespoedig.
Ook Petro Botes, woordvoerder van die Seemeeuvlug-huiseienaarsvereniging wat die Zürich-saak help dryf het, is hoopvol dat dié hofuitspraak druk op die respondente in die klasaksie-saak sal plaas om verdere regskoste te vermy. Die saak sloer al sedert 2018 en die regskoste hoop op.
Botes het net lof vir hul respan onder leiding van adv. Dirk Coetsee en prokureur Johan Cilliers van Cilliers & Associates wat die eisers se saak hanteer het.
Lees ook ons vorige berigte hier: http://www.mosselbayontheline.co.za/…/mosselbaai-munisipali…
https://www.mosselbayontheline.co.za/…/r200-miljoen-skadeve…