Beach House Restaurant Wolwedans Game Farm Ponto Grille and Carvery Reflexions Professional Hair Property Pointer Skorpios Security Top Up Service Station Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World

 

MosselbayonTheline | First With The News

Waterpype wat aanhoudend bars en/of ondergrondse lekkasies veroorsaak, toenemende huisbrake en vrees dat die winterreëns nuwe grondverskuiwings sal veroorsaak wat die boonste keerwalle laat intuimel en hulle verswelg.

 seemeeu nuut5

Dìt is die probleme, frustrasies en vrese waarmee huiseienaars en -bewoners van Seemeeuvlug in Hartenbos vandag steeds spook - bykans drie jaar nadat erge grondverskuiwings die fondasies van talle huise in die Seemeeupark-spogontwikkeling laat verkrummel het sodat die huise onbewoonbaar geraak en ontruim moes word.

Baie van die huise in die drie Seemeeupark-uitbreidings - Rylaan 2, Tuscan Village en Seemeeuvlug -  is intussen gesloop en talle van dié ontredderde huiseienaars moes boonop self daarvoor opdok. 

Seemeeu Colin

Dit is 'n rillerverhaal wat talle pensioenarisse se lewe onherroepelik verander het en sommige haweloos, sieklik en bankrot gelaat het. Errol (72) en Dorothy (75) van der Westhuizen is twee van die huiseienaars wie se gesondheid onder die druk en stres geknak het. Errol het twee beroertes gehad nadat hulle in November 2016 twee weke kennis gekry het om hul huis in Seemeeuvlug te ontruim. Die hospitaalkoste alleen het R36 000 beloop en sedertdien moet hy chroniese medikasie vir hoë bloeddruk en cholesterol gebruik.

seemeeu eisers2

Die meeste huiseienaars kom van Gauteng of elders in die binneland en het gesmag na 'n aftreehuisie by die see.

Toe hulle destyds erwe in dié weelderige ontwikkeling teen die hange van Hartenbos gekoop het, is hulle deur eiendomsagente en die ontwikkelaars verseker van 'n rustige aftree-bestaan in 'n veilige omgewing met 'n pragtige see-uitsig. Niemand het hulle vertel dat die ontwikkeling gebou gaan word op grond waar 'n ou, uitgewerkte gruisgroef vroeër op die plaas Vyf Brakke Fonteinen met sy ondergrondse fonteine bedryf is nie. 

seemeeu2

Petro Botes is een van die huiseienaars aan die westekant van Seemeeuvlug wat destyds derduisende rande en tyd bestee het om haar huis met sy mooi see-uitsig gerieflik en smaakvol in te rig. Sy was een van die 36 gelukkiges in Seemeeuvlug met sy 53 eenhede wie se huis nie onherstelbaar beskadig is tydens die hewige grondverskuiwings in 2015/16 nie. Sedertdien het sy stutmure langs haar huis gebou en saam met ander inwoners grond ingery om keerwalle met grasbedekking te bou vir die reënwater wat vanaf die hoërliggende Tuscan Village afstroom.

Petro Botes, een van die huiseienaars en woordvoerder van die Seemeeuvlug-huiseienaarskomitee, sê reguit hulle vrees die winterreën wat nuwe grondverskuiwings kan veroorsaak wat 'n domino-effek op die laerliggende Seemeeuvlug-uitbreiding kan hê. Oral op die grashelling wat eens egalig en gelyk was, is nou nuwe hellings en skeure namate die grond steeds stelselmatig skuif. 

seemeeu nuut7

Desondanks kraak die stutmure toenemend weens volgehoue grondverskuiwings - veral ná reënbuie. Botes meen die grond is oral steeds onstabiel en die grondverskuiwing vind nou weswaarts in die rigting van George plaas. 

seemeeu nuut9

"Oral waar vroeër gelyk oppervlaktes was, is nou holtes en heuwels soos die grondwalle afwaarts skuif vanaf Tuscan Village na Seemeeuvlug. Die waterpype bars aaneen - soms 5 keer binne 3 maande by dieselfde huis - soos die grondwal afskuif en drukking veroorsaak. Dan moet munisipale werkers elke keer die plaveisel kom oopkap om die pype te vervang.

seemeeu nuut6

 "'n Ander kontrakteur moet dan weer die plaveisel kom herstel. Soms duur dit maande, sodat ons maar self die plaveisel regmaak. Deesdae sorg ons dat die waterpype eerder bogronds bly om te keer dat dit heeltyd bars."

Essie en Lucy Esterhuyse is nog twee inwoners wat moedeloos gesukkel is met ondergrondse lekkasies wat hulle by die munisipaliteit moes aanmeld om te voorkom dat hulle hemelhoë waterrekeninge kry. Hulle beweer swak pype wat nie aan SABS-standaarde voldoen nie en swak vakmanskap tydens die ontwikkeling om geld te bespaar, is deel van die probleem. Die lekkasie onder die grasperk is gelukkig herstel, maar niemand weet wanneer 'n pyp weer gaan bars of lek nie, of watter skade die water onder die grondoppervlakte teweeg gebring het nie.

seemeeu nuut12

Ook die palisade-heining rondom Seemeeuvlug is al plek-plek windskeef weens die grond wat skuif sodat inwoners dit met kabels moet vastrek om te keer dat skelms deur die openinge kan kom. Inbrake in die kompleks het skerp toegeneem - tot sewe verdagtes is al binne 'n week vasgetrek - en huiseienaars wat nie self daar woon nie, ly verdere skade deur booswigte wat leegstaande huise plunder en beskadig.

seemeeu nuut4

Groot onsekerheid is nóg ‘n hartseer wat dié inwoners tref. Sommige van die eienaars wat nie voorheen deur die grondverskuiwing geraak is nie, loop die risiko dat verdere grondverskuiwings nou ook hul huise kan beskadig. Die inwoners was gevestig en wil nie trek nie. Boonop kan hulle ook nie bekostig om te trek nie omdat hulle hul spaar- of pensioengeld in dié aftreehuise belê het en sommige versekeraars weier om vir die skade te betaal. Boonop is hul eiendom nou waardeloos weens die risiko van verdere verskuiwings en kry hulle nie die eiendomme verkoop nie.

Die Mosselbaai Munisipaliteit het ook geen vorm van hulp aangebied ten opsigte van tydelike huisvesting of bystand tydens die eienaars se verpligte ontruiming nie. Pleks van hulp het sommige huiseienaars in September 2016 kort voor die Desembervakansie uitsettingsbevele gekry om hul huise binne 7 dae te ontruim. Geen bekostigbare verblyf in die omgewing was egter destyds beskikbaar nie.

seemeeusel6

Antonio Da Silva en sy vrou Rhoda is nog twee pensioenarisse wie se drome, inkomste en gesondheid onherroepelik geknou is deur die grondverskuiwing kort nadat hulle hul huis in Oudtshoorn verkoop het en in Maart 2016 hul aftreehuis in Rylaan 2 in die Seemeeupark-ontwikkeling begin bou het - onbewus daarvan dat dit op 'n ou gruisgroef is. Hier sit hy op die wal wat 'n paar maande later deur die grondverskuiwing op sy erf gevorm is, asook diep slote. Antonio glo die grondverskuiwing het in Rylaan 2 begin en vandaar in 'n hoefvorm uitgekring na Tuscan Village en Seemeeuvlug. Huise in die deel van Seemeeuvlug wat destyds nie in die grondverskuiwing geraak is nie, begin nou toenemend kraak namate die grondwal afwaarts skuif in die rigting van George. Tog word nuwe huise steeds oral in dié omgewing gebou . . .   

Hul spaar- en pensioengeld moes sedertdien gebruik word om ten duurste elders blyplek te huur, hul meubels te stoor en mediese uitgawes weens stresverwante siektes te betaal. Sommige moes noodgedwonge by hul kinders of familielede gaan bly.

seemeeu colin8

Só het die huise in die Seemeeupark-ontwikkeling in 2016 gekraak en onbewoonbaar geraak weens 'n grondverskuiwing.

'n Skadevergoedingseis van R200 miljoen wat 62 van dié huiseienaars in November 2018 teen die Mosselbaai Munisipaliteit, die Wes-Kaapse premier en die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (HBRC) aanhangig gemaak het, het tot dusver niks opgelewer nie en bowendien kan die saak jare lank sloer. 

Die Mosselbaai Munisipaliteit het aangedui dat hy die eis teenstaan omdat niemand die grondverskuiwings kon voorsien het nie en geotegniese verslae glo nie in 1999, toe die residensiële ontwikkeling goedgekeur is, van toepassing was nie. Die grondverskuiwing is ook in 2016 as 'n onvoorsienbare natuurramp (Act of God) beskryf. Geen natuurrampfonds of noodleningshulp is egter destyds aan die hawelose huiseienaars beskikbaar gestel nie. 

Huiseienaars meen egter dat kortpaaie destyds geneem is en die vereiste omgewingsimpakstudies en geotegniese grondtoetse nie gedoen is nie. In 'n verslag van die destydse munisipale ingenieur word glo ook spesifiek gewaarsku dat 'n sekere gebied rondom die gruisgroef nie geskik is vir residensiële ontwikkeling nie weens die steilte en onstabiliteit van die wal.

Botes meen  hoe langer die saak sloer, hoe groter is die kanse dat nuwe skadevergoedingseise kan volg weens die volgehoue grondverskuiwings wat nou ook haar huis bedreig.

"Die grond is steeds onstabiel. As dit nou weer moet reën soos in 2016, sal die stutwalle meegee en dan is Seemeeuvlug se huise daarmee heen," waarsku sy.

Mosselbaaiers wil nou boonop weet wie die skadevergoedingseis gaan betaal as die huiseienaars die hofsaak wen ná volgehoue bewerings dat die munisipaliteit nie destyds versekering gehad het vir openbare aanspreeklikheid nie.

Intussen lig die wenkbroue omdat daar steeds volstoom in die gebied rondom die gruisgroef gebou word - ondanks die hangende skadevergoedingseis en die ooglopende grondprobleme in die omgewing. Selfs 'n kerk word nou skaars 50m van die Seemeeuvlug-huise gebou . . . 

seemeeu nuut22

Terwyl Seemeeuvlug se huise, waterpype en plaveisel toenemend kraak namate grondverskuiwings voortgaan, word talle nuwe huise en selfs 'n kerk 'n hanetree van hulle steeds gebou . . . ?

Dit wil voorkom of dié nuwe kopers nie ingelig of gepla is oor wat tans besig is om in die omgewing te gebeur nie, of iemand moes hulle die versekering gegee het dat hul eiendomme nie deur die grondverskuiwing geraak gaan word nie? 

seemeeusel7

Nog 'n nuwe huis word gebou in Rylaan 2 - 'n hanetree van waar die grondverskuiwing in 2016 glo aanvanklik begin en in 'n hoefvorm na Tuscan Village en Seemeeuvlug uitgekring het. 

Inwoners wil nou weet hoe die munisipaliteit dié nuwe ontwikkelings in die omgewing kan goedkeur terwyl  'n skadevergoedingseis van R200 miljoen (wat dalk meer kan word) steeds hangende is.      

 seemeeusel2

Tussen die ontruimde huise in Seemeeuvlug lig die plaveisel oral op namate die grondwal geleidelik afwaarts skuif en ondergrondse drukking veroorsaak. Waar die oppervlak tussen die huise voorheen gelyk was, is nou oral nuwe hellings en slote wat vorm. 

 

 

Barbara Roets woon al sedert 2006 in Seemeeuvlug en is moedeloos gesukkel met waterpype wat die afgelope tyd gedurig bars waarvoor inwoners in baie gevalle boonop self moet opdok. 

 

seemeeusel kaart 2

 'n Lugfoto (in rooi omkring) wys die uitgebreide gebied in die groter Seemeeupark-ontwikkeling wat deur die grondverskuiwing in 2016 geraak is. Die verskuiwing vind nou glo in die rigting van George plaas en bedreig nou huise aan daardie kant van die ontwikkeling.    

Maroela Media het onlangs berig dat Mosselbaaiers dalk sal moet help opdok vir die R200 miljoen skadevergoedingseis as die Seemeeupark-huiseienaars die hofsaak wen omdat Mosselbaai Munisipaliteit destyds glo nie versekering vir openbare aanspreeklikheid gehad het nie.

https://maroelamedia.co.za/…/miljoene-geeis-na-grondversku…/

 

seemeeu18

Die huise in Tuscan Village is feitlik teenaan die ou gruisgroef gebou . . . 

seemeeusel4

Só kraak die mure van huise in Seemeeuvlug nou wat destyds nie deur die grondverskuiwing geraak is nie . . . 

seemeeusel9

Nuwe huise word oral in Rylaan 2 gebou - skuins oorkant die pad waar huise in 2016 weens die grondverskuiwing ontruim en gesloop moes word? 

seemeeusel10

Nuwe barste en krake vorm voortdurend in huise in Seemeeuvlug weens die onstabiele grond wat steeds skuif . . . 

seemeeu nuut26

Toestelle wat die grondverskuiwing in die Seemeeupark-ontwikkeling moet meet, is onbeskermd op grasperke geplaas waar dit versteur kan word deur oningeligte tuindienste-werkers en ander faktore. Inwoners het nou houers oor die meters gesit om dit te probeer beskerm. Hulle glo die grondwal is steeds besig om te skuif - dié keer in die rigting van George.  

Intussen het die drie verweerders in die saak aangedui dat hulle die skadevergoedingseise gaan teenstaan en dat daar geen rede tot kommer is dat die nuwe huise en kerk wat nou oral in die omgewing gebou word, deur grondverskuiwings geraak sal word nie. 

Mosselbaai: Geen rede tot paniek in Seemeeupark
Deur Jackie Kruger 03 Julie 2019

Daar is geen rede tot kommer oor eiendom in die groter Seemeeupark-gebied in Mosselbaai in die Suid-Kaap nie.
Belanghebbendes in die eiendomsbedryf sê ’n grondverskuiwing in 2016 het slegs huise in ’n klein, beperkte gebied in die Tuscan Village- en Seemeeuvlug-kompleks geraak.

Huiseienaars in die groter Seemeeupark-gebied het bekommerd geraak nadat die berig “Provinsie, stadsraad staan eis oor grondverskuiwing teen” Maandag in Die Burger verskyn het. Luidens die berig eis 62 huiseienaars van die gebied R200 miljoen by die Wes-Kaapse provinsiale regering, die Mosselbaaimunisipaliteit en die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC).

Die huise wat in 2016 deur ’n grondverskuiwing geraak is, is egter in ’n klein deel van die gebied. Die belanghebbendes sê hulle het vroeër gesprekke met die Mosselbaai-munisipaliteit gehad en volgens ’n ingenieursverslag is dit hoofsaaklik Tuscan Village, Seemeeuvlug en ’n paar erwe langsaan wat in ’n steengroef gebou is wat daardeur geraak is.

Die gebied is aan die begin van Wassenaarstraat teenaan die N2-snelweg en ’n gedeelte van Rylaan 2.
Onlangs is twee nuwe huise reg voor Tuscan Village gebou sowel as ’n kerkgebou oorkant die straat van die
twee komplekse.

Beleggersvertroue het dieselfde jaar as die grondverskuiwing nog in Mosselbaai toegeneem en die aansoeke van bouplanne by die Mosselbaai-munisipaliteit het in 2016 tot 3 961 van 2 050 die vorige jaar gestyg.

Nieteenstaande die grondverskuiwing wat in die klein gebied voorgekom het, is daar grootskaalse ontwikkeling in die res van die Seemeeupark-omgewing waar daar geen gevaar hiervoor is nie.

Die Wes-Kaapse provinsiale regering het vroeër by navraag aangedui dat hy, die munisipaliteit en die NHBRC die eis gaan teenstaan en hulself gaan verweer. Hulle kan egter nie kommentaar lewer nie omdat die saak voor die hof is.

Só is in 2016 berig: 

Kommer oor Seemeeupark se grondverskuiwing
Deur Jackie Kruger 06 Oktober 2016

’n Proses om dele van die woonbuurt Seemeeupark in Mosselbaai as rampgebied verklaar te kry weens natuurlike
grondverskuiwings wat voorkom, is nog aan die gang.

“Dit is moeilik om te sê wanneer ’n besluit verwag kan word,” sê Harry Hill, waarnemende munisipale bestuurder van Mosselbaai.
Altesaam 30 eiendomme is vroeër in ’n hoërisikogebied geïdentifiseer en inwoners het opdrag gekry om die persele
te ontruim. Die eiendomme wat ontruim moes word, moet gesloop word. Huise in minstens twee woonkomplekse,
Seeumeeuvlug en Tuscan Village, word geraak.

“Die eienaars van die betrokke eiendomme moet ’n slopingspermit by die munisipaliteit kry en tot dusver is nog net twee permitte uitgereik,” sê Hill.

Dit het onlangs op ’n vergadering wat die Mosselbaai-munisipaliteit met die benadeelde huiseienaars en inwoners gehad het aan die lig gekom dat vroeëre wetgewing nie vereis het dat ’n geotegniese verslag opgestel word wanneer grond ontwikkel word nie.

Goedkeuring vir die ontwikkeling van die grond is in 1999 verkry. Van die inwoners het vroeër laat blyk dat hulle regsadvies gaan inwin en bekommerd is oor die koste van die slopings.

Volgens die ingenieursmaatskappy Kantey & Templar, wat in opdrag van die munisipaliteit ’n geotegniese verslag opgestel het, beweeg die huise horisontaal in ’n suidoostelike rigting.

Groot krake kom plek-plek voor. Die grondverskuiwing gebeur vinnig en van die huise het in een maand tussen 80 mm en 125 mm geskuif. Die geotegniese risiko is baie hoog. Infrastruktuur van die Mosselbaai munisipaliteit is ook beskadig.

 
Lees ook ons opvolg-berig hieroor: https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2503507399880512?
 

In nog 'n onverwagse nadraai van Sondag se reënstorm wat groot skade in veral die Hartenbos-omgewing aangerig het, word in 'n dringende verslag aangeraai dat nog sowat 20 huise in die Seemeeupark-ontwikkeling dadelik ontruim word omdat die onstabiele grond dit te gevaarlik maak om langer daar te woon - veral in reëntoestande.

In ons vorige plasing het ons juis gemeld van Seemeeuparkers se voortdurende vrees vir enige reënbuie omdat daar steeds sigbare grondverskuiwings plaasvind wat voortdurend waterpype laat bars, mure laat kraak en plaveisels oplig.

Die onafhanklike verslag wat deur drie kenners van Gauteng opgestel is, is verlede week aan die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) gestuur. Ná die naweek se reënskade sal dit na verwagting vandag reeds met die betrokke regeringsamptenare en die Mosselbaai Munisipaliteit bespreek word.

Die verslag, wat ook onder ons aandag gekom het, is opgestel deur 'n ingenieursgeoloog van die Universiteit van Pretora, prof. J Louis van Rooy, in samewerking met ʼn grondkundige, dr. Johan van der Waals, en ʼn hidroloog, dr. Riaan Titus nadat hulle van die Seemeeupark-ramp in die media gelees en hul eie ondersoek kom doen het.

Hulle het bevind dat van die huise in Seemeeuvlug wat nie in 2016 ontruim en gesloop is nie, om veiligheidsredes dadelik ontruim moet word omdat reën en verandering in die grondwatertoestande 'n katastrofale hellingversaking tot gevolg kan hê.
Volgens die verslag dui die historiese en huidige getuienis duidelik daarop dat die grond steeds onder die fondamente van die huise skuif wat dit lewensgevaarlik kan maak indien nog swaar reën sou uitsak.

Mosselbayontheline het reeds breedvoerig berig oor die rampspoedige grondverskuiwing wat in 2016 talle pensioenarisse verplig het om hul nuwe aftreehuise te ontruim en te sloop nadat dit verbrokkel en onbewoonbaar geword het.

Talle is haweloos gelaat en het 'n skadevergoedingseis van R200 miljoen teen die betrokke owerhede aanhangig gemaak.

Die saak sloer sedert verlede jaar terwyl geotegniese toetse en ondersoeke steeds aan die gang is.
Die verslag se bevinding is 'n verdere trauma vir die inwoners wat steeds daar woon en teen wil en dank bly hoop het hul huise sal nie verder deur grondverskuiwings geraak word nie - veral omdat nuwe huise en selfs 'n kerk sedertdien 'n hanetree van hulle gebou en bemark word.

Die Seemeeupark-ontwikkeling is destyds op die terrein van twee ou, ongerehabiliteerde gruisgroewe gebou. Die grondverskuiwing in 2016 het plaasgevind kort nadat van die huiseienaars in hul nuutgeboude huise ingetrek het.

Maroela Media het berig die verslag het bevind die ontwikkeling is op 'n mislukte hellingstruktuur geleë en dat daar steeds hellingbewegings plaasvind.
“Die bewyse dui op die moontlikheid van ʼn voortdurende stadige afwaartse beweging, ʼn moontlike verhoogde hellingbeweging as die grondwatertoestande vererger, of ’n skielike groot katastrofiese hellingversaking,” skryf Van Rooy in sy verslag.
“Dit kan ook veroorsaak word deur ’n skielike toename in grondwater op die terrein of omgewing.”

Hoewel die onafhanklike span nie die helling geotegnies ondersoek het om wetenskaplike bewyse en geologiese besonderhede ter ondersteuning van hul bevindings te verskaf nie, meen hulle die omstandighede is voldoende bewys dat die helling misluk het en steeds gevaarlik onstabiel is.

In die lig daarvan word aanbeveel dat van die oorblywende bewoonde huise dringend ontruim word ongeag die uitslag van verdere ondersoeke of ander prosesse wat die besetting van die huise motiveer.

Dit is nog onbekend hoe die Mosselbaai munisipaliteit en die NHBRC op dié dringende aanbeveling gaan reageer. Beide is respondente in die sloerende regsaak, terwyl die Wes-Kaapse provinsie die derde respondent is.

Só het ons in Julie nog berig oor inwoners se vrese en klagtes oor volgehoue grondverskuiwings:
http://www.mosselbayontheline.co.za/…/r200-miljoen-skadever…

Lees die verslag hier of onder foto's: http://mosselbayontheline.co.za/index.php/slope-letter

 
 
 
Meer foto's en videos in ons vorige berigte: 
 

 

 

 

Related Articles:

Comments  

0 #1 Ila 2020-07-05 15:06
It's remarkable for me to have a web site, which is beneficial designed for my know-how.
thanks admin

My webpage: skribbl io: https://skribbl.games/
Quote