Beach House Restaurant Top Up Service Station Reflexions Professional Hair Delfinos.Passion for food-Passion for life Skorpios Security Wolwedans Game Farm Oyster World Ponto Grille and Carvery Property Pointer

 

MosselbayonTheline | First With The News

Langvrou Petronel Baard, Mosselbaai se eie Diva, het geen bekendstelling nodig nie . . . sy is 'n kragvertoning op haar eie wat enige plek, vertrek of  lokaal VUL met haar blote teenwoordigheid . . .


petronel baard cover

Dié verkleurmannetjie-vrou wat ewe goed met woorde, voorkoms en musiek kan toor, hét daai uitsonderlike iets wat die  Engelse beskryf as 'n Larger Than Life persona met 'n onmiskenbare presence . . . Haar voorliefde vir kabaret laat 'n mens wonder of sy nie ewe goed as aktrise op die verhoog sou vaar nie . . .  sy spog immers met 'n honneursgraad in drama met kabaret en regie as hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy ook lesse in sang aan die US se konserwatorium geneem het . . . 


Só word sy in die September-uitgawe van Vrouekeur deur Christiaan J de Swardt beskryf: 

Petronel is een van die vaardigste, talentvolste en kreatiefste kunstenaars in Afrikaanse musiek; ongelukkig dikwels ontken.

Dis die kombinasie van 'n gróót persoonlikheid, kragtige nuanse-stem en plattelandse plat-op-die-aarde gasvryheid en onopgesmuktheid wat dié oud-Riversdaller so geliefd en gewild maak. Voeg daarby 'n uitsonderlike en veelsydige musiek- en woordkunstalent,  'n ongelooflike passie en skeppingsdrang . . . en 'n mens wil haar iewers op internasionale verhoë as 'n spog-uitvoerproduk van sonnige, Suid-Afrika se skeppende musiekkuns sien . . . 

Ons dink nie daar is 'n liedjie waarop Petronel nie op een of ander manier haar unieke stempel sal kan afdruk nie . . . sy gooi die woorde en note so argeloos, dog perfek rond soos die kleurryke tjalies en tooisels waarmee sy haar voorkoms opdollie  en aanpas vir elke show . . .    elkeen 'n unieke meesterstuk en dikwels sommer 'n paar impromtu toegewings daarby soos die gier en gehoor haar dryf  . . . . 

braaidag46 2

Petronel het reeds in 1999 die ATKV se Crescendo gewen en is daarna vir verskeie toekennings benoem. De Swardt meen  haar jongste album, Die heelal draai (Lang Vrouproduksies), behoort "met elke denkbare musiektoekenning vir Afrikaanse musiek bekroon te word; op grond van artistieke meriete beoordeel. Dit is ook ’n album wat, as dit gereeld op radio gespeel word, wydreikende gewildheid sal geniet, want elke snit hierop groei op die luisteraar en pronk met trefferpotensiaal!"

Dié krit is 'n welkome erkenning van dié veelsydige kunstenaar se onblusbare passie, harde werk en ongelooflike talent om in enige genre te sing, te skryf en te lééf!  

Petronel en mede-kunstenaar Mel Botes het die afgelope naweek hul kragte en kunste saamgesnoer vir 'n heerlike kuns-karmenaadjie in ware teaterkafee-styl by drie pragtige venues in en om Mosselbaai. Mel se 14-jarige seun, ook Mel, het saam opgetree as tromspeler . . . en die gaste en gehore oral in vervoering gehad.  

Soveel talent, soveel perfekte en pikante venues in die mooie Suid-Kaap vir teaterkafee-opvoerings, soveel mense wat nie genóég kan kry nie . . . HOEKOM dan sukkel ons plaaslike kunstenaars so om te oorleef? 

boerq14

 Foto: Langvrou Petronella Baard en die twee Mel Botesse geniet 'n welverdiende blaaskans ná  Sondag se kragtige gatskop-vertoning by Boerqi Bistro in Ruiterbos, saam met eienaars Kobus en Anita Jordaan. 

boerq3

Langvrou en die Botesse kuier in Boerqi Bistro 



Boerqi Bistro is 'n kleurvolle klein oase op die R328 tussen Hartenbos en Mosselbaai. Geleë in 'n landelike omgewing waar skape, bokke en perde nog vryelik rondloop, is dié oulike restaurant cum padstal cum pizzaplek cum geskenkwinkel 'n guitige kombinasie van ouwêreldse sjarme en boere-sjiek met 'n boheemse geurtjie.

Die spyskaart weerspieël die vrugbare aardsheid van die omgewing - hier kry jy die lekkerste tuisgebakte saadbrood met egte plaasbotter en vyekonfyt, dunkors pizza en roosterkoek warm uit die houtvuur-pizzaoond, asook lekkernye soos wortelkoek, Herzoggies, ystervarkies (lamingtons) en fudge.

Kobus en Anita Jordaan se gewilde kaasbord-peuselhappies met  Leeukloof organiese kase, tuisgemaakte lewer-patee, ingelegde knoffel en knoffelsouse en vele meer, is verslawend . . . 

Bring jou eie wyn en kom kyk en kuier. Boerqi Bistro is ook ideaal vir funksies en partytjies.

Besoek hul webblad of kontak hulle by +27 44 050 0504

https://www.boerqibistro.com/

 BOERQ9

IMAGINE . . . 




Langvrou is besig! Ná die naweek se drie energieke optredes in Mosselbaai, was sy Maandagoggend alweer op die pad . . . dié keer vir die Wyn Inni Tyn-musiekfees . . . 


 
Petronel Baard is with Stef Kruger and 2 others.
 
2 hrs

On the road again met Stef Kruger and a few moments of our work together so far this year, kom loer in by ons in Secunda die naweek.
Xxx
Music for the soul!


No automatic alt text available.

 Lees hier meer oor dié dinamiese Diva se passievolle liefdespel met woorde en klanke wat wêreldwyd weerklank vind.

 Petronel Baard

Christiaan J de Swardt luister na die meesterlike klanke van Petronel Baard op haar album Die heelal draai

“Daar is brood op die tafel en ek wil dit met jou deel. Ek wil vir jou ’n kers brand, vir jou ’n wysie speel …”

Só nooi die openingslied Akkerblare (woorde deur Gertie van die Noordkaap) op Petronel Baard se nuwe album. Petronel is een van die vaardigste, talentvolste en kreatiefste kunstenaars in Afrikaanse musiek; ongelukkig dikwels ontken.


Die Heelal draai

Amper 20 jaar het verloop sedert Petronel die ATKV se Crescendo in 1999 gewen en 'n honneursgraad in drama met  kabaret en regie as hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy het ook sanglesse by die US se konserwatorium geneem. Haar debuutalbum, Lank al, is vir ’n Samatoekenning benoem, gevolg deur Déjà vu, Weergaloos, ’n beperkte oplaag van Gallery of Songs en Vonnie, in samewerking met die ikone Min Shaw, Albie Louw en Nico Carstens.

Haar jongste album, Die heelal draai (Lang Vrouproduksies), behoort met elke denkbare musiektoekenning vir Afrikaanse musiek bekroon te word; op grond van artistieke meriete beoordeel. Dit is ook ’n album wat, as dit gereeld op radio gespeel word, wydreikende gewildheid sal geniet, want elke snit hierop groei op die luisteraar en pronk met trefferpotensiaal!



Dis ’n album wat nie net krities beïndruk nie, maar ook luisterryk bevredig. Die album is oor twee jaar gebore, maar die reis begin reeds by Petronel se geboorte en fokus veral op haar lewe en loopbaan die afgelope dekade.

Sy besing die lewe en haar mense, die passie en die pyn, die onverwagse draaie, die verrassings en helaas, ook die onvermydelike – afskeid. Deel van die album se bekoring is die feit dat dit nie selfsugtige, egosentriese selfverheerliking is nie.

Die eiesoortige, universele albumklank – gekap aan die Portugese Fado, maar tradisioneelstilisties in Afrikaans en in Afrika gesetel – is die resultaat van musikale samewerking. Die intieme produksie is deur Petronel se jare lange musiekvennoot Schalk (Soetmelk) Maas, met insette deur David Cruikshank, by Africa Sun Studios in Plattelkloof opgeneem en deur Phillip Pels gemeng; lewend, sonder rigiede tegniese beperkings.

Die luisteraars kry nét nege snitte. Alles is oorspronklik, met tussen die hoogtepunte Petronel se toonsettings (met toestemming) van die digter Antjie Krog se werk: Vanaand en Ma. Toonsettings kan so maklik in ’n proses verval waar die musikant die melodie heiliger as die woord ag. Nie hier nie, hier dien die musiek die vers in volledigheid: inhoud, stemming en struktuur. Trouens, elke noot hierop, ook in haar eie nuutskeppinge, het doel.

Petronel Baard Deja Vu


Die liriese stiltes, veral, ook. Dit is akoestiese kuns. Een van die albumhoogtepunte is die snit Die smal weg, ’n lied geskep ná haar pa en die digter Adam Small se afsterwe en delf in die gepaardgaande leegheid. Dis haar musiek met deels haar woorde en deels Small s’n: poëtiese skoonheid, ook in vertolking.

En dan, op die speelse walsmaatsnit, As ek sou raai, kry die woorde “Hallo my liefie, hoe gaan dit vanaand? Hallo my engel, ek min jou getrou” (wat aan die sorgeloosheid van ’n Fakliedjie herinner) meteens ’n vrank smaak wanneer sy met ’n deskantneurie en progressiewe klavierspel die kontraste van die liefde koggel.

Petronel se formidabele stemvermoëns is deurgaans boeiend en uitdagend. Op Vanaand skitter haar laer register ook en op Akkerblare en As ek sou raai, ontgin sy haar sopraansuiwerheid in kunsliedstyl – alles tot volle potensiaal op die briljante titelkomposisie versnit.

Petronel Baard Lank Al


Haar kabaretaanslag skitter op die smeulsnit, Nita se blues (Anita Jonker se woorde; Petronel se musiek en klavierspel deur Hanli Cruikshank). Die klank is deurgaans vars, onverwags en verfrissend. Schalk (Soetmelk) Maas se musikale verwerkings, albumregie, mondfluitjie en trekklavier ontgin en verewig ’n musikale erfenis.

Sy folknuutskepping, Liefde van eensaam (wat hy in duet met Petronel uitvoer), is ’n melancholiese juweeltjie, nostalgies verwerk met die kenmerkende tregterklank van die destydse grammofoon en die naaldgeruis op viniel.

Altan Ungerer se baskitaar en perkussie, André Janse van Vuuren se trekklavier en Boesman Keyser se saxofoon (op die snit Ma) komplementeer die stemming en styl van elke lied. Dié meesleurende musikale reis word afgesluit met die instrumentale snit, En draai, ’n meesterlike klaviersolo, kenmerkend aan dié musikant se sonderlinge klawerbenadering, opgedra aan haar ontslape pa, Bertie.

Hier is minder meer, eenvoud veelvuldig en artistieke integriteit die stempel van meesterskap. Saam met Jorina Krielmaas en Wilhelm Vincent se fotograe en kunsregie is Petronel Baard se album Die heelal draai bloot die mooiste mooi nóg! Optredes: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. Vk

https://www.pressreader.com/south-africa/vrouekeur/20180921/281681140780054

 

Related Articles: