Skorpios Security Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Property Pointer Beach House Restaurant Delfinos.Passion for food-Passion for life Wolwedans Game Farm Ponto Grille and Carvery Oyster World

 

MosselbayonTheline | First With The News

Dit kos toe 'n Durbanse boykie en wannabe-sailor en sy stoere boeremeisie-vrou uit die goudmyndorpie Orkney in Noordwes om die seevaarder-oerbloed in Mosselbaai se jongklomp wakker te maak en hulle te leer hoe om die seile te span . . . en hul drome letterlik in alle windrigtings na te jaag - tot in die wêreldseë en wêreldkampioenskappe. 

sailing25 mooi

Kyk jy vandag na die passie en behendigheid waarmee bloedjong seiljagvaardertjies van Rob en Elfie Holden se Mosselbaai Skipper-stigting die Topper en Tera-bote woerts-warts strand toe karwei en binne minute die seile laat bol oor Santos-strand se waters, wens jy onwillekeurig jy het ook 'n Rob en Elfie Holden in jou skooljare geken . . . 

Ses tieners tussen die ouderdom van 14 en 17 jaar van Mosselbaaise skole gaan in Julie en Augustus onderskeidelik in Holland en Swede kragte meet teen die wêreld se bestes in die Ope Wêreldseilkampioenskappe en die RS (Resiesseil) Tera Wêreldkampioenskappe vir juniors. En hulle oefen dat die sweet en skuim spat - smiddae ná skool en naweke - want dis 'n gróót droom en die eerste trappie na 'n toekoms wat hulle golf vir golf klim.

Sailing4 sailors met Elfie en Rob

Die Topper-span wat van 22 tot 26 Julie aan die Ope Wêreldseilkampioenskappe in Mendenblik, Holland gaan deelneem saam met hul "seilouers", Rob en Elfie Holden. Van links is James Bull (16) van Hoërskool Punt, Waydon Goliath (17) van Sao Bras en Bradon Kretzmann (15) Hoërskool Punt. 

Rob se droom

Onder Rob en Elfie se aanmoediging en leiding. Eintlik was dit Rob se droom wat dié jongklomp nou namens hom uitleef. . .   

As Durbanse laaitie van 'n Methodiste predikant-pa was daar destyds nie geld om vir seilvaartlesse te betaal nie. Rob moes maar met die oë steel en kyk wat die manne op die bote doen om die wind te skep. Die seun met die seewater in sy are het egter nooit sy droom prysgegee nie - nie eens toe hy ná sy verpligte weermagjare sy trouvrou in Orkney, waar sy pa toe predikant was, in die kerkgange raakloop nie. 

Orkney is nou wel ver van die see, maar kort ná hul huwelik het hulle in 1995 oë toegeknyp, spaargeld afgeknyp en 'n 15-voet catamaran gekoop om op die Boskopdam in Potchefstroom en die Vaaldam te gaan seil.  Rob het basies homself geleer seil en sy geesdrif was so aansteeklik dat Elfie ook gou deur die seilgogga gebyt is. Hulle het in daardie jare kompeterend geseil en in hul 26 seiljare, aan vier wêreldkampioenskappe deelgeneem. Hul dogter, Tammy (21), het dié gogga met moedersmelk ingekry en het reeds twee keer die Protea-span by wêreldkampioenskappe in  Maleisië (2015) en Australië (2016) verteenwoordig. Sy help nou met afrigting by die stigting. 

Sailing1 Family foto

Mosselbaaiertjies se seiljagvaartouers. Tammy (21), Oliver (13), Elfie en Rob Holden. Sowat 800 aspirant-seiljagvaarders in Mosselbaai het die afgelope 13 jaar by die Holden-egpaar seillesse ontvang. Volgens 'n gesinsreël mag Oliver eers aan wêreldkampioenskappe deelneem wanneer hy 15 jaar oud is.  

Van Orkney na Mosselbaai

In 2005 het die Holdens Orkney se goudstof verruil vir Mosselbaai se uitgestrekte kuslyn en asuurblou waters - die ideale seilparadys. Toe Elfie net daarna swanger raak met hul seun, Oliver (13), het sy geweier om heeldag alleen huisvroutjie te speel terwyl Rob die kuslyn platseil. Die oplossing was toe 'n "seilskool" waar hulle hul passie aan jong kinders kon oordra en hulle terselfdertyd ook lewensvaardighede leer. Dit was die aldag maklik nie omdat die meeste kinders nie kon betaal nie. Rob het tussendeur geld verdien deur SA seiljagvaart-afrigters op te lei en Elfie het 'n aanlyn-winkel bedryf wat seiljagvaartklere en -benodigdhede verkoop. Tydens die 2008-resessie moes hulle die seilskool permanent sluit.

Mosselbaai Skipper-stigting

Rob het destyds gelukkig werk gekry as ontwikkelingsbestuurder by World Sailing en in 'n stadium voltyds afrigters wêreldwyd opgelei. Hulle kon weer begin seillesse aanbied en in 2016 het hulle die Mosselbaai Skipper-stigting gevestig.

In die afgelope 13 jaar het sowat 800 aspirant-seiljagvaardertjies hul kennis, vernuf en passie by die Holdens geleer. "Seiljagvaart is 'n wonderlike vaartuig om die jongklomp ook voor te berei op die lewe en kwaliteite soos verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, onafhanklikheid en stiptelikheid te leer. Ons moedig hulle ook aan om terug te ploeg deur ná skool 'n jaar lank te kom help met afrigting. Vier van ons studente rig nou seiljagvaarders in verskillende lande af", sê Elfie.

sailing Tera crew

Die Tera-span wat van 4 tot 9 Augustus 2019 in Swede aan die RS Tera Wêreldkampioenskappe vir juniors gaan deelneem. Van links is Ashley Layland (14) van Hoërskool Punt, Ruzaide Kannemeyer (17) Sao Bras en Jowayden Jacobs (15) van Sao Bras. 

sailing16 sailors in water

Die Stigting het vanjaar 'n groot terugslag beleef toe hulle noodgedwonge in Februarie hul perseel by die Mosselbaai Boot- en Seiljagklub moes ontruim nadat dié Portnet-eiendom aan die maatskappy Mossel Bay Waterfront verhuur is. 

Sedertdien moet al hul bote - wat sowat R50 000 elk kos en twee spesiale bote vir gestremdes wat elk 'n halfmiljoenrand kos, buite in 'n oop stuk veld agter die Santos Express-trein en ver van die strand af, gestoor word. Weens die ver afstand see toe oor ongelyk grond en klippe, word die bote erg beskadig sodat hulle die oefentye in die see drasties moes inkort.

sailing2 sukkel met boot

Die Holdens hoop om binnekort 'n beter stoorplek nader aan die see te kry danksy onderhandelinge met Portnet en die Mosselbaai Munisipaliteit.

sailing10 sailors almal saam met Elfie

Elfie Holden saam met haar spannetjie staatmaker-seiljagvaarders in die beboste stuk veld waar hul duur bote en toerusting deesdae gestoor moet word totdat hulle hopelik binnekort 'n beter stoorplek nader aan die see kry. Onderhandekinge hieroor is nog aan die gang met Portnet en die Mosselbaai Munisipaliteit. 

 * Om ses skoolkinders die kans te gee om oorsee aan wêreldkampioenskappe te gaan deelneem en sodoende ook Mosselbaai se naam hoog te hou, sit nie in elkeen se broeksak nie. Die Holdens hoop om deur geldinsamelings en borgskappe sowat R75 000 in te samel om die vlugkoste, oorsese huisvesting en ander noodsaaklike uitgawes namens die seiljagvaarders in te samel.

Mense wat hulle wil help deur borgskappe of bydraes, kan dit in die Stigting se bankrekening inbetaal. Alle bydraes sal baie waardeer word. Elfie of Rob Holden kan ook gekontak word by 082 826 3825

Bankbesonderhede:

Skipper Foundation

Nedbank

Rekeningnommer: 1156691699 

Takkode: 198765

Lopende Tjekrekening

SWIFT: NEDSZAJJ 

 

 

  

Related Articles:

Add comment

No abuse, no discrimination, no foul language


Security code
Refresh