Property Pointer Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Top Up Service Station Beach House Restaurant Delfinos.Passion for food-Passion for life

 

MosselbayonTheline | First With The News

Die mag aan die mense!

Deur Michael Louis 27 September 2018 

Indien dit slaag, sal ’n regsproses wat al die afgelope 18 maande aan die gang is, Suid-Afrika se politieke landskap ingrypend verander. Want dit sal mense toelaat om as individue en nie as lede van ’n politieke party nie vir openbare ampte verkies te word, skryf Michael Louis.

Michael Louis

  Michael Louis

Die tyd is ryp om eienaarskap van die land en ons mag terug te vat. Daarom het ek en andere verlede jaar ’n aansoek voor die konstitusionele hof gebring wat onafhanklike kandidate sal toelaat om hulle vir openbare ampte verkiesbaar te stel. Uit die bakleiery tussen politieke partye in van die land se metrorade is dit duidelik dat sulke vetes die politieke narratief oorheers.

Dit is net ons, die kiesers, wat dit kan keer en kiesers se belange voorop kan stel. Ons aansoek voor die konstitusionele hof gaan eerstens om grondwetlike en menseregte. Art. 19(3)(b) van die Grondwet lui:


“Elke volwasse burger het die reg om ’n kandidaat vir ’n openbare amp te wees, en, indien verkies, die amp te beklee.”


Die Kieswet maak tans voorsiening vir verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers slegs deur middel van politieke partylyste. In ons aansoek voer ons aan dit is strydig met die Grondwet.

Dié wet skend die fundamentele reg van elke burger om tot ’n openbare amp verkies te word, soos wat in die Grondwet bepaal word. Dit strook ook nie met die grondwetlike reg tot vryheid van assosiasie (art.18) nie deurdat dit kandidate vir ’n openbare amp dwing om op ’n partylys te verskyn om verkiesbaar vir so ’n amp te wees.

Ek is verbaas dat niemand nog sedert die totstandkoming van ons demokrasie die waarde van dié klousule in ons Grondwet besef het nie. In Julie vanjaar het die konstitusionele hof in ’n uitspraak oor ’n saak, waarby My Vote Counts betrokke was, dié siening gestaaf.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het daarin bevestig dat “elke burger ingevolge die Grondwet as ’n onafhanklike kandidaat mag staan om tot munisipale rade, provinsiale wetgewers of die Nasionale Vergadering verkies te word.

“Die uitoefening van dié reg word in die Grondwet vasgelê, maar word nog net nie deur wetgewing ondersteun nie.

“Dié reg behoort tot die beskikking te wees van wie ook al vertroue in politieke partye verloor het. Ons meen dit behoort uitgeoefen te kan word wanneer ook al die behoefte blyk, ongeag die logistieke perke wat mag bestaan.”

Voting NO

Tans word net plaaslike verkiesings ingevolge ’n stelsel gehou waarvolgens onafhanklike kandidate wyke in hul onderskeie gemeenskappe kan verteenwoordig. Daar is tans ’n appèl deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voor die konstitusionele hof ná die uitspraak oor die Tlokwe-munisipaliteit wat lui dat die kieserslys nie strook met die Kieswet nie en dat dit opgeskort kan word indien die OVK nie ’n adres vir elke kieser kan verskaf nie.

Die OVK vra weer eens uitstel, dié keer tot November 2019, om die taak af te handel. Wat dié aansoek wil bereik, strook met die My Vote Counts-uitspraak en berei die ideale omgewing voor waarin die Kieswet gewysig kan word om ’n kiesafdelinggebaseerde kiesstelsel te vestig.

Aanspreeklikheid teenoor wie?

Tweedens stel ons aansoek dit dat ons land ’n disfunksionele kiesstelsel het met geen aanspreeklikheid deur die verkose amptenare teenoor die mense wat hulle verteenwoordig nie. Ons mening word gesteun deur die sogenaamde Van Zyl Slabbert-verslag wat in 2003 uitgereik is, asook die parlement se hoëvlakpaneelverslag onder voorsitterskap van oudpres. Kgalema Motlanthe wat verlede jaar verskyn het.


voting station

Die Slabbert-verslag, wat die kabinet in 2002 gelas het, beveel aan dat hervorming van die kiesstelsel nodig sou wees om kiesafdelings met meer as een verteenwoordiger te verseker. Daar word voorgestel dat 69 kiesafdelings met meer as een verteenwoordiger geskep word. Altesaam 300 van die 400 lede van die Nasionale Vergadering sou dan uit oop kiesafdelingslyste kom. Die oorblywende 100 verteenwoordigers kan aangestel word uit geslote nasionale (landwye) partylyste sodat proporsionele verteenwoordiging herstel word.

Die Motlanthe-verslag steun dié voorstelle en sê dat gemengde verteenwoordiging die beste kiesersmodel bied wat individuele aanspreeklikheid sal verseker. Dit lui: “Parlementslede word nie regstreeks deur kiesers aangewys nie, maar eerder deur hul party en is gebaseer op kandidatelyste wat voor die verkiesings aan die Verkiesingskommissie voorgelê word. 

“Dit plaas hulle onder ’n verpligting teenoor die party en sy leierskap, eerder as aan kiesers, en plaas partypolitiek en -lojaliteite voor doeltreffendheid en lewering.

“Daarteenoor sal ’n kiesfadeling-stelsel politici meer regstreeks aanspreeklik teenoor die kiesers maak en verseker dat verkiesingsbeloftes nagekom word uit vrees dat hulle uitgestem sal word.

“So ’n stelsel sal help om die mag van individuele partyleiers te beperk en LP’s aanmoedig om te stem in ooreenstemming met die behoeftes en begeertes van hul kiesafdelings, eerder as die blote navolging van partybeginsels.”

’n Gemengde stelsel van regstreekse verteenwoordiging en proporsionele verteenwoordiging sal die gaping oorbrug deur te verseker dat mense die verteenwoordigers wat hulle wil hê, regstreeks verkies. Ook die meerderheidsiening van die Slabbert-verslag is dat oop lyste nie net die verantwoordbaarheid van die individuele kandidate sal verhoog nie, maar dat dit ook kiesersdeelname in die demokratiese proses aansienlik sal laat toeneem.

Gaan dit plaasvind?

Kan dié wysigings aan die Kieswet voor die 2019-verkiesing gedoen word? ’n Verkiesing moet gehou word binne 90 dae ná die einde van parlementslede en lede van provinsiale wetgewers se ampstermyn. Siende dat die 2014-verkiesing op 7 Mei gehou is, eindig die vyfjaartermyn op 6 Mei 2019. Die volgende verkiesing moet dus tussen 6 Mei en 6 Augustus 2019 plaasvind.

Maar die OVK het in sy aansoek tot die konstitusionele hof gevra dat hy tot 29 November aanstaande jaar uitstel kry om die adresse van die meer as 5 miljoen geregistreerde kiesers te bevestig – wat ver buite die vensterperiode van 90 dae is.

Nie anti-party nie

Ons regstappe is deur die een vertraging ná die ander gefrustreer, maar ons sal nie ophou om geregtigheid te eis nie. Ons aansoek is nie in opposisie teen politieke partye nie. Dit is in hul beste belang om volhoubare demokrasie op lang termyn vir die mense te verseker sodat dié hul leiers kan kies en ’n meer verantwoordbare stelsel kan hê.

Soos met die sakewêreld het ons nuwe denke nodig in ’n erg desperate en plofbare politieke klimaat. Daar is talle baie bekwame en ervare leiers wat hul bydrae tot die welstand van die land wil maak, maar wat nie deel van ’n politieke party wil wees nie. Amptenare moet die ruimheid van gees hê om nuwe leiers te verwelkom, veral uit die jonger geslag.

’n Meningspeiling in Augustus ná die jongste beslissing van die konstitusionele hof toon dat 90% van die deelnemers ten gunste van onafhanklike verteenwoordigers is, en 80% is ontevrede met die huidige partypolitieke kiesstelsel.

voting No1

Ons is by ’n kritieke punt wat betref die tydsberekening van dié aansoek, want 2019 se kiesdatum kom al nader. Dit is die plig van die OVK om in terme van die Wet op Verkiesingskommissies enige wetgewende wysigings by die parlement aan te beveel. Afdeling 5(1)(j) bepaal hulle (die OVK) moet “kieswetgewing voortdurend hersien en aanbevelings in verband hiermee doen”.

Ons glo vas dat tensy dié saak aangepak word, ons volgende algemene verkiesing in 2019 dalk ongrondwetlik kan wees. Tydsberekening is eenvoudig alles in die politiek.


Louis is ’n voormalige Wes-Kaapse LPR en minister van openbare werke en ontwikkelingsbeplanning.

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/die-mag-aan-die-mense-20180926

 

Pin It
Related Articles: