Plaaslike besighede en stalletjie-eienaars het hul beste produkte uitgestal en restaurante het spesiale aanbiedinge aangebied . . . en boonop was toegang en vervoer tussen die onderskeie lokale gratis!
Omdat die naweek se feestelikhede feitlik al die restaurante van Mosselbaai tot by Glentana, asook 'n strandstap na die wrak op Glentana-strand ingesluit het, is dit onmoontlik om te bepaal hoeveel mense al die onderskeie feestelikhede bygewoon het, maar dat dit 'n GOEIE afskop vir 'n jaarlikse "warm" winterfees was, is nie te betwyfel nie . . .
17Julie 2018:
Daar gaan draai en swaai Peet se Pot toe van Bloemfontein af Mosselbaai toe en tot bo-op die voorblad van Die Burger . . . en hopelik ook binnekort tot in die Guinness Wêreldrekordboek!
Net toe ons dink ons het nou ALLES oor die pot en die fees gesê en gewys, stroom daar nog feesfoto's in . . . en is DIT nie waaroor die SOUL Festival eintlik gegaan het nie . . . ? Een witkopseuntjie hieronder het sleeptongetjie en al kom soebat: "Tannie, ek wil ôk van jou thoppies hê."

Toe sy Ma hom probeer keer en herinner dat hy nie van sop hou nie, laat weet hy van daai pot se sop SAL hy hou . . . en hy slurp-drink toe sommer TWEE bekersvol op!
;-)
Dit was Saterdagoggend omtrent 'n gewoel en gewerskaf om 1 000 blikbekers vol sop en brood binne rekord-tyd aan die toustaners te verkoop teen R10 elk . . . voordat die res van die sop aan sowat 2 000 behoeftiges in die gemeenskap uitgedeel is. En te oordeel aan die gesiggies was dié sop 'n wenresep teen die koel weer!
Hieronder is nog feesfoto's wat na die organiseerders gestuur is . . . en rol ook af na ons vorige plasings om alles van die pot en die fees te sien en te lees!
Só het Die Burger vandag oor Mosselbaai se feespot berig:
Mosselbaai mik vir wêreldrekord met hul pot
’n Reuse-driebeenpot wat gereken word as die grootste in sy soort ter wêreld, is die naweek gebruik om meer as 3 000 koppies sop te kook wat gratis uitgedeel is op die eerste Soul-fees in Mosselbaai.
Die pot is 2 m wyd en weeg 2,5 ton. Die sop is Saterdag gekook. Die bestanddele het onder meer bestaan uit 400 kg vleis, 100 kg aartappels, 50 kg wortels, 30 kg uie en 75 kg soppoeier.
Dit sal by Guinness World Records aangemeld word as die wêreld se grootste Afrika-driebeenpot (nr. 760), sê Marika Thomatos, eienaar van die Munro Manor-gastehuis in Mosselbaai.
Die pot is ’n ruk gelede van Bloemfontein na Mosselbaai gebring. Thomatos het Peet Groenewald, wat die pot gemaak het, by haar gastehuis ontmoet. “Hy het my vertel van die pot wat hy in 1996 gemaak het. Hy wou die pot later vir skrootmetaal gebruik, maar ek het gedink nee, so ’n pot kan nie verlore gaan nie. Ek het die pot by hom gekoop en die Mosselbaai-munisipaliteit daarvan vertel,” sê sy.
“Dit is hoe die fees tot stand gekom het met die pot as trekpleister.”
’n Vurkhyser is onder meer gebruik om die swaar pot te vervoer deur dit op ’n vragmotor van die Cobravervoermaatskappy
te laai. Die pot is vooraf deur Swift Engineering skoongemaak.
Meer as 400 kg hout om die sop te kook, is deur Albertinia Vervoer verskaf.
Volgens Thomatos het hulle Saterdag om 05:00 begin om die
sop te maak. “Ek was senuagtig dat iets verkeerd kon gaan,
maar alles het baie goed afgeloop,” sê sy.
Onder andere 300 deelnemers aan ’n sokkertoernooi in
Kwanonqaba het sop gekry, asook verskeie liefdadigheidsorganisasies. Volgens haar is die pot waarskynlik die grootste ter wêreld. “Ons het gaan kyk en
navraag gedoen, maar het nêrens so ’n groot pot gesien nie.
Guinness World Records het ook nie ’n afdeling vir so ’n pot nie, so die pot gaan moontlik die eerste rekord wees.”
Volgens haar sal die fees aanstaande jaar uitgebrei word. Foto’s en video’s van die bedrywighede by die pot wat op die Facebookblad MosselbayonTheline verskyn het, is meer as 31 000 gekyk.
Thomatos het die borge, die Mosselbaai-munisipaliteit en die werkers by Munro Manor bedank vir hul hulp.
Só het ene Frazer Georgio Barry oor die Soul Festival op sy FB-blad geskryf:
#MosselbaaiSoulfest, dit was dydelik om julle wonderlike multicultural event te kon experience! Lang Vrou, Baie dankie vir julle Mocca geure wat die kultuur so mooi saam laat groei. Clay en Karin, julle mag nie ophou om hierdie movement te laat groei nie. Dit was inderdaad n voorreg om julle te kon ontmoet en om saam met julle te kon skouers skuur.. Ons hoop dat alle plaaslike owerhede Mosselbaai se voorbeeld sal volg deur die belangrikheid van nasiebou, deur kuns en kultuur finansieel te ondersteun. Moenie die krag van kuns en kultuur vergeet nie! Sien julle Baie beslis weer!
Kyk nog feesfoto's hier: https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2192919897605932