Top Up Service Station Delfinos.Passion for food-Passion for life Property Pointer Skorpios Security Oyster World Beach House Restaurant Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm

 

MosselbayonTheline | First With The News

Die 2019 verkiesing is lankal verby, die meeste omstrede politici is weer iewers in sleutelposisies ontplooi en terwyl pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede lugkastele bou oor hipermoderne spogstede met wolkekrabbers en sneltreine, is die misdaad en moordsyfer in die land totaal buite beheer en vou die een munisipaliteit ná die ander.

Smart City

Die president het blykbaar 'n kort geheue. Het hy vergeet wat het met die vorige multi-biljoenrand "slimstad" gebeur?

https://businesstech.co.za/news/technology/324961/ramaphosa-dreams-of-skyscrapers-and-bullet-trains-but-heres-what-happened-to-the-last-r84-billion-smart-city/?fbclid=IwAR0iYEU2151bF-mCDMPtAZ877p87fRbstgu6HFvbvqFwYS1EA7JW0MDt9Xs

Ook in Mosselbaai gaan dit deesdae rof op die misdaadfront waar geweldsmisdaad, gewapende roof, moord en selfs bendeverwante geweld in skole nou onrusbarend handuit ruk. Terwyl Kinderbeskermingsweek vroeër vandeesweek landwyd gevier is, sterf tientalle kinders weekliks in Suid-Afrika weens verwaarlosing, mishandeling en geweld - dikwels aan die hand van hul eie ouers. Net vandag is twee kinders van 8 en 5 jaar onderskeidelik deur hul eie pa opgehang nadat hy in 'n telefoniese rusie gewikkel was met hul ma, van wie hy vervreem is. Die man het homself daarna in 'n ander huis gaan ophang. 

news24.com/SouthAfrica/News/father-kills-children-and-hangs-himself-following-argument-with-mother-20190623

In Mosselbaai het twee leerders van die Sekondêre Skool Indwe op 10 en 12 Junie onderskeidelik in die hospitaal beland ná hulle in afsonderlike bendeverwante voorvalle by die skool met messe aangeval is.

Indwe

Lede van die KwaNonqaba Polisiekantoor het ná die eerste mesaanval by die skool ingegryp en die leerders deursoek vir dwelms en wapens, en ook inligtingspraatjies gelewer, maar die tweede aanval het ondanks dié verskerpte polisieteenwoordigheid plaasgevind. Foto: Mossel Bay Advertiser

In 'n ander voorval op 8 Junie is 'n 16-jarige seun en drie ander slagoffers beseer in 'n mesaanval in Greenhaven, Groot-Brakrivier. Die vyfde slagoffer, Renaldo Kruger (22) is in dieselfde aanval so ernstig beseer dat hy aan sy wonde beswyk het.

In nóg 'n bendeverwante voorval in KwaNonqaba is die 20-jarige Showen Simons Donderdag (20 Junie) skynbaar vir geen rede nie in 'n mesaanval deur 'n groep mans doodgesteek. Sy vriend kon net betyds ontsnap. 'n Agtienjarige verdagte is intussen deur die KwaNonqaba polisie in hegtenis geneem.  

Indwe messe

Messe van alle groottes - van "flick knives", knipmesse en kapmesse tot pangas is van die handwapens wat by leerders van Indwe Sekondêre Skool gekonfiskeer is tydens die KwaNonqaba polisie se klopjag op die skool. Hoe op aarde loop jong kinders deesdae met sulke wapens rond?  

Die toenemende bendegeweld en mesaanvalle kom te midde van 'n ysingwekkende tekort aan polisielede en voertuie by die land se onderbemande Polisiekantore - ook in Mosselbaai.

Boonop is die geboue van die KwaNonqaba Polisiekantoor wat die grootste gebied in Mosselbaai bedien, al langer as 'n dekade só vervalle dat dit lewensgevaarlik en ongeskik vir menslike gebruik is. Plaagdiere en rotte "so groot soos katte" het nou ook die kabelnetwerk van elektriese bedrading deurgeknaag sodat die kantoor 'n week lank sonder enige vorm van elektroniese kommunikasie gelaat is. Die onhigiëniese toestande het ook 'n uitwerking op die personeel wat toenemend met griepsimptome en ander gesondheidsprobleme sukkel.    

Hoe dié situasie toegelaat is om so lank voort te duur in 'n bekroonde Dorp van die Jaar, weet nugter. 'n Erf wat glo al in 2006 aan die departement van openbare werke beskikbaar gestel is vir die bou van 'n polisiekantoor, het dadels opgelewer. Dis ook nie seker hoekom die kwessie sedert 2006 nooit weer enige dringende aandag geniet het nie.

'n Dringende beroep is glo nou uiteindelik op die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gedoen om aandag aan die saak te gee. (Dis dieselfde Winde wat 'n paar jaar gelede tydens sy termyn as provinsiale minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme die krisis by toerismekantore afgeweer het met sy beroemde uitlating: "Dorpe het nie toerismekantore nodig nie - net boude in beddens!")

Ons hoop nie dieselfde geld vir polisiekantore nie . . . 

https://www.netwerk24.com/ZA/Weslander/Nuus/tourism-is-a-job-for-a-town-not-just-an-office-20160727-2

Alan Winde

Dit was glo juis klagtes oor munisipale inmenging en geboelie wat die toerismebedrywe aan die Weskus, Knysna en Mosselbaai gekniehalter het en veroorsaak het dat vyf top-direkteure van Mosselbaai Toerisme verlede jaar in 'n gesamentlike protesoptrede die handdoek ingegooi het. 

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/mosselbaai-toerisme-vyf-direkteure-loop-oor-burokrasie 

 

Buurtwagstelsels

Intussen vier misdaad hoogty en buit misdadigers die situasie uit.

Sonder die volgehoue harde werk en samewerking van die onderskeie parate buurtwagstelsels in die groter Mosselbaai-omgewing sou misdaad waarskynlik lankal handuit geruk het in die dorp. Dié inwoners verdien elk 'n medalje. 

Die onrusbarende toename in gewapende roof en huisbrake in die eens "veilige" Glentana / Hersham-kusgebied deur vermoedelik 'n sindikaat het opnuut kommer laat ontstaan oor die SAPD se onvermoë om dadelik hulp te verleen weens die kritieke personeel- en voertuigtekorte.

'n Lid van die Glentana-buurtwag moes verlede Saterdagaand om sy lewe veg toe een van 'n groep vermeende rowers hom aangeval en sy vuurwapen probeer afneem het. Die verdagte - vermoedelik van Mosambiekse afkoms - is tydens die stoeiery in die been gewond. Hy is onder polisiebewaking in die  provinsiale hospitaal op George aangehou.

Die Glentana-buurtwaglede het verlede Saterdagaand gaan ondersoek instel nadat inligting ontvang is van drie verdagtes wat tussen bosse langs die  N2 op Groot-Brakrivier wegkruip. Hulle het op swartsakke vol vermoedelik gesteelde eiendom afgekom. Toe hulle die verdagtes nader, het bg. verdagte op die buurtwaglid afgestorm. Die ander het ontvlug. Ander buurtwaglede en Mosselbaaise polisielede het op die noodroep gereageer nadat die Grootbrak-polisie weens personeeltekorte glo nie dadelik hulp kon stuur nie . .  .    

Dinge wat pla

Die politieke magspeletjies en ondeursigtigheid op alle vlakke van regering is al lankal 'n steen des aanstoots wat vuisvoos belastingbetalers toenemend kwel. Oud-president Jacob Zuma se kultuur van geheimhouding en ontwyking het blykbaar ook na munisipaliteite deurgesypel sodat inwoners feitlik geen insae het in finansiële sake en besluite wat hulle regstreeks raak nie.

Tradisionele gemeenskapskoerantjies kan ook nie meer finansieel oorleef sonder die geldelike inspuiting van munisipale advertensies/kennisgewings nie, sodat hulle ter wille van oorlewing hul onafhanklikheid ingeboet het en munisipale mondstukke en beeldpoetsers geword het. 

Amptelike munisipale mediaverklarings oor belangrike munisipale besluite bestaan al lankal nie sodat inwoners meesal in die duister is oor wat regtig aangaan. 

Hoekom die Geheimhouding? 

Die absolute stilswye oor die bedanking van Rowena Hendricks, Mosselbaai se munisipale mediawoordvoerder verlede maand, is ewe vreemd. Geen aankondiging is daaroor gedoen nie en niemand weet blykbaar of haar pos gevul gaan word en wanneer en deur wie nie. Mosselbayontheline se laaste navrae is beantwoord met: "Vra vir Thys" - menende die munisipale bestuurder, Thys Giliomee, wat blykbaar die monopolie op alle publieke en medianavrae het. Ook die bekroonde joernalis Susan Puren se skriftelike navrae oor belangrike aangeleenthede is gesystap en so onvolledig beantwoord dat sy ná 'n paar pogings bes gegee het.

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/hoekom-word-basiese-vrae-nie-beantwoord-nie

Rowena Hendricks

Rowena Hendricks (heel regs) saam met munisipale kollegas. Sy het verlede maand stil-stil bedank nadat sy glo 'n pos met beter vergoeding by 'n ander munisipaliteit aanvaar het. Sover bekend is niemand amptelik in haar pos aangestel nie en dis onduidelik of die pos as munisipale woordvoerder/kommunikasiebeampte wel gevul gaan word. Die volgende kennisgewing vir 'n kommunikasiebeampte om die stelsel reg te ruk, het in Mei 2019 op die munisipale webblad verskyn, maar dis onseker wie sulke kennisgewings hoegenaamd raaksien?https://www.mosselbay.gov.za/sites/default/files/documents/advert_communications_officer_may_2019_0.pdf?fb

Foto: Facebook

Rowena Hendricks en Jantjies

 'n Onlangse foto van Rowena Hendricks en Edward Jantjies, direkteur van korporatiewe dienste, wat sedert Maart vanjaar die administrasie van die beleërde Kannaland Munisipaliteit help regruk. Jantjies is deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning opgekommandeer om ses maande lank die pos as administrateur in Kannaland te vervul. Jantjies is ook besig met studies vir sy meestersgraad in publieke administrasie. Tydens 'n raadsvergadering in Februarie het opposisiepartye beswaar gemaak teen dié Kannaland-aanstelling aangesien Mosselbaaiers betaal vir sy kundigheid en dus geregtig is op sy dienste, en weens die ekstra koste wat hulle vir 'n tydelike plaasvervanger moet opdok. Jantjies was net voor sy vertrek landwyd in die nuus nadat hy die Springbok-rugbyspeler Faf de Klerk tydens die Diasfees uit die BBP-tent gejaag het.  

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/diasfees-maak-opslae-nadat-springbok-rugbyspeler-faf-de-klerk-uit-bbp-tent-gejaag-is

Bedrieër Marius Botha kry wel vet prestasiebonus

Mosselbaai se belastingbetalers moet nou ook opdok vir 'n veroordeelde bedrieër se prestasiebonus. Die wederregtelike aanstelling van die omstrede Marius Botha as finansiële hoof in 2014 terwyl hy verhoofafwagtend was op ernstige aanklagte van bedrog en geldwassery by die Karoo-Hoogland Munisipaliteit, het Mosselbaaiers waarskynlik nou al 'n paar miljoen rand gekos.

Marius Botha

Botha is einde 2017 skuldig bevind en tronkstraf opgelê vir bedrog en geldwassery, maar hoewel hy toe afgedank is as Mosselbaai se finansiële hoof, het hy nog etlike maande lank steeds sy volle salaris ontvang terwyl hy teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer het. In dié tyd moes Mosselbaaiers ook opdok vir 'n tydelike plaasvervanger. Die kersie op die koek is egter dat sy aansoek om 'n prestasiebonus tydens 'n onlangse raadsvergadering goedgekeur is -  glo omdat hy gedurende sy werkstermyn by Mosselbaai munisipaliteit geen oortreding begaan het nie en sy pligte uitgevoer het.

* Tog vreemd dat belastingbetalers altyd op die einde die spit moet afbyt vir munisipale bestuurslede se roekelose en ondeurdagte besluite waarin hulle geen insae of seggenskap meer het nie . . . ?

http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/marius-botha-kos-mosselbaai-se-belastingbetalers-duisende-rande-da-moet-opdok-eis-kamfer

 

Vismeelfabriek in Hawe : Waar is terugvoering van publiek dat reklame en omgewingsimpakstudie sommer klaar gedoen word ná 'n gratis oorsese reis?

fishmeal

So word vismeel verwerk in 'n vismeelaanleg.

In Februarie vanjaar is in 'n onopsigtelike kennisgewing in die plaaslike koerantjie aangekondig dat Afro Fishing  aansoek gedoen het om 'n vismeel en -olieverwerkingsaanleg op Kaai 1 (ou I&J perseel) van Mosselbaai se hawe te bedryf. Belanghebbendes kon registreer om hul menings en besware voor 25 Maart 2019 aan die omgewingskonsultant Melissa Mackay van Cape EAPrac te stuur as deel van 'n omvatttende openbare deelnameproses.

Min mense het die weggesteekte kennisgewinkie gesien en eers nadat Mosselbayontheline daaroor berig het, het die publiek heftig en luidkeels hul teenkanting en besware gelug. 

Benewens die ooglopende stank van 'n vismeelfabriek wat toerisme en besighede sal kelder, is aspekte soos die dorp se gebrekkige infrastruktuur en verkeersprobleme, seewaterbesoedeling weens onvermydelike uitskot en afvalwater, uitwissing van visbronne en waterskaarsste weens droogte vir die bedryf van die waterintensiewe aanleg as besware geopper. 'n Petisie-lys met die name en besware van 350 belanghebbendes is ook gestuur.

fish meal pellets

Vismeel word hoofsaaklik gebruik in troeteldierkos en om ander vis in die akwakultuurbedryf te voed. Ironies genoeg word tot 90% eetbare vis deesdae vir vismeel gestroop sodat visspesies vir menslike behoeftes uitgeroei word om akwakultuur-vis te voer. Is seevishokke in Mosselbaai se waters dalk volgende op die lys? 

https://phys.org/news/2017-02-percent-fish-fishmeal-prime.html

Sedertdien is geen terugvoering ontvang nie.  Pleks daarvan verskyn 'n pragtige reklame-artikel verlede week in die gemeenskapskoerant oor die beste eerstewêreldland-tegnieke en praktyke wat gebruik sal word om die reukprobleem van 'n vismeelfabriek te oorkom.

Afro Fishing se hoofuitvoerende beampte, Deon van Zyl, het 'n hele tegniese span plus die koerant se nuusredakteur en die einste MacKay saamgeneem op 'n heerlike Europese toer om na vismeelaanlegte op pragtige vissersdorpies in Spanje en Portugal te gaan kyk. Lekker man, lekker! 

Die gebruik van regeneratiewe termiese oksideerders (RTO) om lug- en reukbesoedeling te bekamp, is glo die antwoord op al die publiek se vrese en besware. Die publiek word ook sommer weer gevra om te registreer as belanghebbende om aan die omgewingsimpakstudie deel te neem wat nou glo klaar deur MacKay vir die vismeelfabriek gedoen word.

Nou hoe nou? Wat was die doel van die openbaredeelnameproses as inwoners en belastingbetalers se menings en besware ooglopend géén rol speel in besluitnemingsprosesse nie?

vismeel advertiser

Die vismeelspan in Tarifa, Spanje. Deon van Zyl, grootbaas van Afro Fishing, omgewingskonsultant Melissa Mackay van Cape EAPrac, Nicky le Roux, nuusredakteur van die Mossel Bay Advertiser en Chris Albertyn, konsultant-ingenieur.  Foto: Mossel Bay Advertiser

MacKay was ook die omgewingskonsultant betrokke by die openbaredeelnameproses oor die "duur en onnodige opgradering" van Beyersstraat in Klein-Brakrivier wat kosmetiese loopvlakke oor die duine, waterbehoewende grasblokke op die "sypaadjies" en formele parkeerareas tussen woonhuise insluit waarteen al die inwoners van Beyersstraat sterk beswaar gemaakl het. Hul besware en teenvoorstelle is egter bloot geïgnoreer en die "onnodige, geldverkwistende projek" waarvoor belastingbetalers oor die R4 miljoen moet opdok, gaan ongestoord voort . . . 

Dit wil voorkom of dieselfde roete met Afro Fishing se vismeelfabriek gevolg gaan word, want dit lyk of die besluit reeds NAMENS inwoners geneem is . . . en die reklame is klaar gekoop met 'n oorsese reis?

As DIT is hoe munisipaliteite deesdae met belastingbetalers se geld en gevoelens werk, en hoe omgewingskonsultante en joernaliste omgekoop word, is dit nie meer gevaarligte wat flikker nie - dis klaar NAG!   

 

METROPOOL - Hoe, wat, wanneer en waarom?

Die volgehoue planne om Mosselbaai en George munisipaliteite te verenig in 'n Metropool, raak al hoe meer kommerwekkend namate die munisipale stelsel faal weens korrupsie en politiekery ten koste van die inwoners en die omgewing.

In Februarie verlede jaar is Mosselbaai se munisipale bestuurder Thys Giliomee volmag gegee om 'n konsultant aan te stel en samesprekinge in dié verband met George munisipaliteit te voer. Vrae en vrese van bekommerde inwoners oor wat só 'n samesmelting met George behels en wat die impak daarvan op die dorp en belastingbetalers gaan wees, is summier geïgnoreer. 

Op 17 Mei verlede jaar het Anton Bredell aangekondig dat die munisipaliteite van George, Bitou en Laingsburg onder administrasie geplaas gaan word en dat stappe reeds begin is. Dit het gevolg ná 'n klopjag deur die Valke op die George munisipaliteit weens bewerings van grootskaalse korrupsie, wanbestuur en ongerymdhede met tenders. Die koppe van die burgemeester Melvin Naik sowel as die munisipale bestuurder Trevor Botha is geëis.

Melvin NaikTrevor Botha

 Melvin Naik (links) en Trevor Botha wie se koppe verlede jaar geëis is.  George se finansiële hoof, Keith Jordaan, is ook verlede jaar 60 dae lank geskors hangende 'n ondersoek na finansiële ongerymdhede. 

https://citizen.co.za/news/news-cns/1928793/george-bitou-and-laingsburg-municipalities-to-be-placed-under-administration/?

Dié verwikkelinge het vrese vir 'n samesmelting met die "korrupte, bankrot" George munisipaliteit vertienvoudig.  Op 22 Mei het Bredell egter 'n totale ommekeer gemaak en aangekondig dat nie enige munisipaliteit in die Wes-Kaap - ook nie George of Bitou - onder administrasie geplaas gaan word nie.

 https://www.netwerk24.com/Nuus/Munisipaliteite/george-bitou-nie-onder-administrasie-20180522?f

In April vanjaar is die munisipale bestuurder van George, Trevor Botha, dieselfde groenlig gegee om 'n konsultamt aan te stel en samesprekinge oor 'n Metropool met Mosselbaai te begin. 

 http://www.mosselbayontheline.co.za/index.php/metro-forming-talks-come-at-all-time-low-for-country-s-municipalities

Intussen eis die ANC nou die bedanking van die Garden Route-distriksmunisipaliteit se burgemeester, Memory Booysen,  en is 'n ondersoek gelas na sy betaalde reis na Indonesië deur 'n Duitse maatskappy wat glo die Calitzdorp-SPA vir 50 jaar wil huur terwyl daar twee grondeise oor die gebied hangende is.

Memory Booysen1

Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route Distriksmunisipaliteit, het verlede jaar tydens 'n verspotte en totaal voortydige sooispitseremonie om 'n "beplande" chemiese aanleg langs PetroSA in te wy, reeds laat blyk dat hy hom nie aan wetgewing en "burokratiese rompstomp" gaan steur om ontwikkelings deur te druk nie. Die betrokke perseel was destyds nog nie eens gehersoneer nie en geen omgewingsimpakstudie was gedoen nie . . . Dié planne is intussen op die langebaan geskuif. 

Ondersoek gelas na burgemeester se betaalde oorsese reis

20 Junie 2019 - Die Burger

Buiten vir ’n ondersoek wat gelas is na ’n betaalde buitelandse reis van die burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM), eis die ANC ook dat hy geskors word.
Die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het ’n ondersoek gelas na Memory Booysen se reis na Indonesië.
Die ANC het intussen in ’n verklaring gevra Booysen moet deur die DA geskors word nadat berig is hy het die land op uitnodiging van die houermaatskappy van ’n Duitse maatskappy besoek. Die maatskappy wil die Calitzdorp-spa vir 50 jaar huur, hoewel daar twee grondeise oor die grond hangende is.
Die GRDM het vroeër in ’n kennisgewing bekend gemaak hy wil die De Hoek Mountain Resort en Calitzdorp-spa vir 50 jaar aan LEN24 (Edms.) Bpk. verhuur.
In die verklaring sê Faiez Jacobs, ANCsekretaris in die Wes-Kaap, die ANC het gewonder wie daarby betrokke is dat
die maatskappy ’n huurkontrak kan kry vir ’n eiendom wat die fokus van ’n grondeis is. Volgens hom begin alles nou sin maak met dié dat Booysen ’n gratis reis gekry het, terwyl die GRDM ’n
proses verontagsaam wat nog nie voltooi is nie.
Die ANC wil hê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet ondersoek instel na die omstrede huurooreenkoms en hy vra die DA om Booysen te skors.
Doen hulle dit nie, is die DA se praatjies oor skoon regering niks anders nie as praatjies, luidens die verklaring.

Volgens Jacobs is hulle veral bekommerd omdat die 50 jaar-huurooreenkoms nie in die raad ter sprake gekom het of gedebatteer is nie. 
“Dit is ’n algehele ondermyning van die demokratiese proses in plaaslike regering.”

James-Brent Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, sê by navraag die departement sal die saak ondersoek. 
“Een van die departement se forensiese personeellede is reeds opdrag gegee om ’n volle ondersoek te doen.”
Die GRDM het vroeër by navraag gesê die besoek aan Indonesië was wettig, is aan die raad verklaar en die ISCC-maatskappyegroep het daarvoor betaal.
LEN24 (Edms.) Bpk. se beheermaatskappy is die ISCC-maatskappyegroep, op wie se uitnodiging die afvaardiging Indonesië besoek het.
Volgens die GRDM het hy self die besoek openbaar gemaak en die uitkoms daarvan is aan die raad gekommunikeer. Booysen en drie amptenare het Indonesië van 6 tot 11 September 2018 besoek.

Voornemens om saam te werk

Die GRDM het vroeër by navraag gesê hy het van die ISCC Group of Companies te hore gekom tydens die GRDM se beleggingskonferensie verlede jaar.
Die besoek na Indonesië is afgesluit met die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding tussen Ithuba Savings and Credit, LEN24 ISC GmbH Bank, E-Banking and Investment Solutions en die GRDM.
Dit vervat voornemens om saam te werk om grond en infrastruktuur vir beleggingsdoelwitte te identifiseer, inligting uit te ruil en sakegeleenthede te identifiseer om die belange van die Tuinroete en die Wes-Kaap te verbeter.
LEN24 ISC GmbH Bank het volgens die GRDM gereageer op sy versoek en die GRDM genader oor die bestuur van die oorde en spa nadat ’n voorstel ter tafel gelê is. Die huurooreenkoms is nog nie afgehandel nie.
Volgens die GRDM het hy eers bewus geword van die grondgeskil toe besware tydens die openbaredeelnameproses aangeteken is.
Die GRDM het kers opgesteek by die streek se grondkommissaris en dié het laat blyk dat die grondeise voor 31 Desember 1998 ingedien is en nog ondersoek word.

 

Lees ook ons FB-artikels en kommentare hieroor: 

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2430880177143235?_

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2432824030282183?_

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/posts/2432856080278978?

Verwante artikels:

 

 

Related Articles:

Comments  

0 #1 buy ed pills 2020-07-07 01:29
buy ed pills: http://www.cialij.com/
Quote