Wolwedans Game Farm Skorpios Security Property Pointer Ponto Grille and Carvery Beach House Restaurant Delfinos.Passion for food-Passion for life Top Up Service Station Reflexions Professional Hair Oyster World

 

MosselbayonTheline | First With The News

Jy kan haar deur ‘n ring trek. Die vrou wat die deur oopmaak, is nog net so slank, goed versorg en statig soos met ‘n laaste ontmoeting 23 jaar gelede. Op 76 is daar skaars ‘n plooi op haar mooi gesig en sy dra nie eens make-up nie . . .

Mosselbaaiers ken haar as Raadsdame Marie Ferreira. ‘n Dame in die ware sin van die woord, maar ook ‘n formidabele raak- en vasvatter wat die dorp en sy gemeenskap dekades lank gedien, gelei en help bestuur het as raadslid, VLV-stigterslid en later as burgemeester van onderskeidelik Hartenbos en toe Mosselbaai . . . tot Augustus verlede jaar.

marie7 2

Die Suid-Kaap se eie ystervrou. Vriende en familie ken haar as liefdevolle eggenoot van wyle Len Ferreira, ma van vyf kinders, ouma van 12 en oumagrootjie van een.

Maar dis dié Karoo-kind van Sutherland se plaasbloed en innerlike krag wat haar nou dra deur dié moeilike oorgang en aanpassing van bedrywige gemeenskapspilaar tot afgetredene en weduwee . . .

“Dit was hemels om in Augustus verlede jaar die leisels oor te gee en meer tyd by die huis saam met Len deur te bring. Skielik is ek VRY . . . van al die verpligtinge en kommer. Ek kan weer góéd en laat slaap. Hoewel ek mense en my werk vreeslik geniet het, vreet die stres om voltyds aan diens en in die openbare oog te wees maar aan ‘n mens. Die laaste jaar was nie meer vir my lekker nie – dit was tyd om te gaan. In retrospek het alles presies uitgewerk soos dit beplan is.”

Sy verwys na haar man, steunpilaar en klankbord van die afgelope 56 jaar wat in Maart vanjaar aan kanker dood is. “Dit is ‘n wonderwerk op sy eie dat Len die afgelope twee jaar nog so normaal en pynvry gelewe het nadat longkanker in 2015 by hom gediagnoseer is. Hy het jare terug limfkanker oorleef en ons het die longkanker-diagnose ‘n gebedsaak gemaak. Hy wou nie chemo-terapie of ander kankerbehandeling kry nie en het gesond en normaal gelewe . . . Hy is sag en pynloos dood drie dae nadat hy inwendig begin bloei het,” vertel sy.

Karoo-liefde

Die pyn en verlange lê vlak en ons gaan draai ver . . . toe sy as hoërskooldogter van ‘n Karoo-skaapboer aan die Hoër Meisieskool Paarl haar matriek in 1959 voltooi het en sommer die volgende jaar al met die rustige, rotsvaste paaie-inspekteur Len Ferreira getroud is. “Ek was eintlik nog ‘n kind – nog nie eens 20 nie toe ons in 1960 getroud is . . . Ek sou graag ná matriek verder wou gaan studeer, maar die droogte het die skaapboere destyds finansieel geruïneer . . . en toe ontmoet ek Len. Hy was destyds ‘n paaie-inspekteur by Sutherland se ou afdelingsraad.”

Marie as jong meisie  

marie ketting16 4marie ketting1 3
 Op hul troudag in Oktober 1960

Die trane blink weer, maar geskool as “ystervrou” in die openbare oog, sluk sy dit weg. “Ek mis Len verskriklik baie . . . sy stil krag en teenwoordigheid, sy absolute realisme en insig. Hy het my 56 jaar lank soggens met koffie of tee in die bed wakker gemaak. Hy was ‘n dagmens – vroeg op; ek is ‘n nagmens . . . hy was altyd dáár, my klankbord, my vertroueling . . . ”

Sy kyk om haar rond. Alles in die netjiese, gesellige sit- en woonkamer met die sondak waardeur die son sy ligstrale gooi, hou soveel kosbare herinneringe in. Op ‘n tafel lag Len
vriendelik vanuit sy prominente plek in ‘n geraamde foto . . . asof hy steeds hìér is om troos en leiding te gee.

marie2 5“Sondag was ons troudag . . . sy verjaardag in Julie was érg, hy sou 82 word . . . Ek sien glad nie uit na Kersfees nie, maar gelukkig het ons verlede jaar ‘n gróót familie-Kersfees hier gehad met al die kinders en kleinkinders. Dit sou eintlik eers volgende jaar ons beurt vir ‘n familie-byeenkoms wees, maar ‘toevallig’ het ek dit ‘n jaar vroeër gereël . . . en nou wéét ek hoekom dit so beplan was. “

As jong getroude paartjie het die Ferreiras hulle op Laingsburg gaan vestig waar albei dadelik by die plaaslike gemeenskap betrokke geraak het – Len as kerkraadslid en Marie as VLV-lid.

“My Pa was ook ‘n gemeenskapsmens . . . hy het in Sutherland se distriksraad en op verskeie komitees gedien. My vyf kinders is kort ná mekaar gebore – binne sewe jaar en ses maande was almal daar!”

Die verwysing na die vyf kinders – Marius, Estiaan, Amanda, Herman en Leon – krap onvermydelik weer die seer oop oor Estiaan wat in Desember 2006 oorlede is nadat wydverspreide kanker 3 1/2 maande tevore by hom gediagnoseer is. Die troos is dat hy, soos sy Pa, feitlik tot op die einde voluit gelewe het.

“Estiaan het gedog dis gewone rugpyn wat hom pla en het sommer ‘n harnas gedra wanneer hy trekker gery het . . . Toe ek hom maande voor sy dood eindelik oortuig om ‘n dokter te gaan sien, het die kanker al regdeur sy liggaam versprei en was daar niks meer wat hulle kon doen nie . . . ”

Al die kinders en kleinkinders woon gelukkig nog in Suid-Afrika en ondersteun haar baie. “Hulle is wonderlik en baie goed vir my . . . ”

Die doop van hul eerste kind was ‘n groot oomblik in haar lewe

marie ketting 6

Die gesprek keer terug na die dae op Laingsburg toe sy nog voltyds Ma vir die vyf orrelpypies was, maar reeds as VLV-lid deur die gemeenskapswerk-gogga gebyt is. In 1970 het die gesin Hartenbos toe getrek – eers na ‘n rondawelhuis in Winburgstraat en in 1976 het hulle die erf langsaan gekoop waar die ruim, gesellige gesinshuis met die reuse-melkhout en Outeniekwa-geelhoutboom wat sy destyds self geplant het, vandag nog koelte en kalmte en kos aan mens- en voëlvriende verskaf. Hul eie stukkie Karoo-oopte en natuurlewe by die see.

Op Hartenbos het die Ferreiras van meet af aan diep Karoo-spore wat vás staan in die gemeenskap begin trap. Len het by die destydse Mosselbaai-afdelingsraad begin werk en Marie het by die VLV-tak op Klein-Brakrivier aangesluit. Daarna het die kerkraad, skoolraad, oueronderwysersvereniging, museumtrusteeraad en al wat ‘n komitee is gevolg.

“Ons was baie betrokke by die skool en kerk op Hartenbos. Ek onthou ons het destyds vreeslik hard gewerk om geld in te samel vir die nuwe NG Kerk toe ds. Theuns Pienaar nog predikant was . . . “.

Dit was Marie wat die Hartenbos VLV-tak gestig het wat sy ook as voorsitter oor baie jare heen opgebou het tot ‘n dinamiese organisasie. Sy het ook die destydse dienssentrum help stig wat vandag dien as die NG Kerk se versorgingsoord en in 1988 is sy die eerste keer as raadslid van die Hartenbos Munisipaliteit verkies. In dié tyd het sy ook op die streekdiensteraad se toerismekomitee gedien.

Gemeenskapswerk

Ná ‘n tydjie as waarnemende burgemeester, het sy sedert 1989 twee termyne as Hartenbos se burgemeester gedien. Toe Hartenbos en Mosselbaai amalgameer, het sy Hartenbos as raadslid verteenwoordig.

Een van haar persoonlike mylpale in dié tyd was die totstandkoming van die Hartenrus Aftreeoord wat sy geïnisieer en hárd voor baklei het tot op die hoogste gesag. “Die bou van ‘n aftree-oord is nie ‘n munisipale funksie of verantwoordelikheid nie, maar dit het my so na aan die hart gelê dat ek as raadslid alles in die stryd gewerp het om goedkeuring te kry. Ons het ‘n korttermynlening gekry en ek het selfs op die boukomitee gedien . . . ”

Die oord met sy 70 huise is uiteindelik in Augustus 1995 ingewy. Marie het die eerste agt jaar as voorsitter van die beheerraad seker gemaak dié breinbaba van haar ontwikkel tot sy volle reg. Vandag is Hartenrus Aftree-oord steeds ‘n sieraad op die dorp – en ‘n bewys van Marie se omgee-hart – ook vir die bejaardes in die gemeenskap.

In 2006 is sy tot Mosselbaai se eerste vroulike burgemeester verkies – ‘n joppie wat sy só goed gedoen het dat die dorp onder haar bekwame leiding gegroei en gedy het tot vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar . . . nadat Mosselbaai in 2007 ook die Rapport Dorp van die Jaar-titel ingepalm het.

1989: Hartenbos se eerste vroulike burgemeester

marie ketting 7

Marie ketting 8

2006: Mosselbou se burgeemeester

Al het sy op 3 Augustus 2016 eindelik die tuig neergelê, is dié twee toekennings die onomstootlike bewys van haar uitstekende leierskap en ‘n blywende getuigskrif en pluimpie vir haar toewyding, opoffering en volgehoue ywer . . .

Waarheen nou?

Ons drink buite in die lowerryke patio koffie waar die drie bergskilpaaie – Dolly, Oupa en Grumpy – opgewonde hul koolblare los om te kom groet. Die Kaapse ooruil, Oortjies, wat sy al maande lank versorg ná hy ‘n vlerkbesering opgedoen het, se yslike songeel-oë knipper soos ‘n kamerasluiter wanneer jy met hom gesels. Bo in die takke van die geelhoutboom kwetter en koggel die vinke en elders skarrel ‘n paar hoendertjies onder die vyeboom rond. Dìt is nou haar geselskap – in dié tuinhoekie wat haar en Len se gunsteling-kuierplek was, want Karoo-kinders kan nie ingeperk word nie.

marie19 9“Jy weet, Len was altyd die stil, sterk en realistiese krag in die huis. Hy was nie ligsinnig nie en het nie baie gepraat nie, maar het ‘n goeie humorsin gehad en soveel insig. Ek kon enigiets met hom bespreek – hy was geanker en het nie onrealistiese drome gehad nie. Ek mis sy HIER wees . . . in dié huis was ons nie net Ma en Pa vir ons eie vyf kinders nie, maar sommer vir al hul maats ook. Ons het verkies dat ons kinders hul maats eerder hierheen bring as om elders te kuier . . . "

“Die stilte is nou vir my heerlik. Dis lekker om nou eers orde in die huis te skep . . . ek was so besig en het die huis maar baie afgeskeep . . . die dak moet reggemaak word en die tuin kort aandag. Ek ontaard nou in ‘n regte huishen . . . maar vir nou is dit eers lekker . . . . ”

Kyk ook die videos waar sy uit die hart praat oor haar lief en leed, hoogtepunte en laagtepunte as Hartenbos en Mosselbaai se eerste burger:

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/videos/2039486276282629/

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/videos/2039857172912206/

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/videos/2042778002620123/

https://web.facebook.com/mosselbayontheline/videos/2039571712940752/

 marie5 11marie17 10


Related Articles:

Comments  

0 #1 aapedoyuw 2020-09-25 07:50
[censored]: http://mewkid.net/when-is-xuxlya/ [censored] 500 Mg oyd.qhow.mosselbayontheline.co.za.bqd.bg http://mewkid.net/when-is-xuxlya/
Quote