Delfinos.Passion for food-Passion for life Ponto Grille and Carvery Beach House Restaurant Skorpios Security Reflexions Professional Hair Property Pointer Oyster World Wolwedans Game Farm Top Up Service Station

 

MosselbayonTheline | First With The News

"Dit was nou onnodig. Verandering en vernuwing is noodsaaklik en altyd welkom, maar nie só nie . . . Dinge kon baie anders hanteer gewees het sonder om soveel tweespalt en onmin te saai - daar is mos plek vir almal en vir verskillende insette. Dis 'n hartseer dag vir Mosselbaai Toerisme om soveel ervaring, toewyding en passie op een dag te verloor."

Só het een van die sowat sestig aanwesiges by Donderdag se laaste Algemene Jaarvergadering vir 2018 van Mosselbaai Toerisme by die Diaz Hotel gesê nadat al vyf direksielede uit die private sektor eenparig bedank het oor die onhoudbare en volgehoue spanning en onenigheid wat bestuursvergaderings sedert die begin van die jaar versuur - blykbaar weens toenemende burokratiese inmenging en outokrasie van munisipale kant.

Werner Kock, voorsitter van die raad van direkteure, se skokaankondiging dat hy en sy vier mede-direkteure hulself nie weer beskikbaar stel nie, en nie langer kans sien om onder die huidige onsmaaklike omstandighede in die raad te dien nie, is begroet deur 'n merkbare stilte van ongeloof en verbasing onder baie van die niksvermoedende aanwesiges - onder wie etlike nuwelinge wat die eerste keer 'n jaarvergadering bygewoon het.  

toerisme1

Kock het gesê dit is vir hulle 'n baie hartseer dag om hul nominasies te onttrek nadat hulle gesamentlik etlike dekades lank ten nouste betrokke was by Mosselbaai se toerisme en almal juis 'n groot passie daarvoor het. 

Benewens Kock, finansiële bestuurder van die ATKV se Hartenbos-tak wat Mosselbaai Toerisme as direkteur van Hotelle, Rusoorde en Wildplase verteenwoordig het, is die ander direksielede wat summier bedank het ook die onder-voorsitter van die raad van direksielede, Marika Thomatos.

As sakevrou en eienaar van die bekroonde Munro Manor-gastehuis, het Thomatos Besighede verteenwoordig.  Die ander direksielede wat ook jarelange ervaring in verskillende aspekte van die toerismebedryf het, is Jeanetta Marais (Selfsorg-eenhede); Gerhard van Rooyen (Toeroperateurs en Besienswaardighede/Aktiwiteite) en René Malan (Gastehuise & B&B-huisvesting). 

 toerisme4

Foto: Gesoute toerisme-vasvatters sit voet neer teen voorskriftelike burokrasie wat doelstellings ondermyn. Van links is René Malan, Werner Kock, Gerhard van Rooyen, Marika Thomatos en Jeanetta Marais ná Donderdag se historiese AJV waartydens hulle eenparig bedank het. 

Kock, Thomatos en Marais is tydens die vergadering vervang deur onderskeidelik Michelle Oosthuizen van die Diaz Hotel, Kim Naude van Co-Mind en Tertius Coetzer van Diaz Porto Hotel.

Van Rooyen en Malan se portefeuljes moet nog gevul word. Dit is egter onseker wanneer die vakante poste gevul gaan word en watter prosedures gevolg gaan word. 

toerisme

Nuwe bloed: Tertius Coetzer, Kim Naude en Michelle Oosthuizen het hulself Donderdag aan toerismelede bekend gestel en van hul ervaring in die bedryf vertel.

Cobus Janse van Rensburg van Freaking Fast Waverider was genomineer om Van Rooyen se pos as direkteur: Toeroperateurs en Besienswaardighede/Aktiwiteite oor te neem, maar het ook sy nominasie onttrek uit solidariteit met die vyf direksielede wat bedank het.

Kock het gesê die uittredende direksielede kom al 'n lang pad saam - van René (Bongers - vorige voorsitter) se dae af. 

"Ons het werklik 'n struktuur wat goed doen en baie moontlikhede het. Ons het nog al die jare goed en in goeie gees saam met die munisipaliteit gewerk sonder enige onaangenaamheid. Die afgelope jaar het dinge egter so voorskriftelik en burokraties geword dat feitlik alle vergaderings in twispunte en tydrowende argumente ontaard het sodat ons doelstellings ondermyn word.

"In die lig hiervan sien ons nie 'n pad vorentoe nie en het ons nie die tyd en energie om daarmee voort te gaan nie", het hy gesê.

Kock het die toerismelede 'n geseënde feesseisoen toegewens en gewaarsku dat dit 'n kort, maar gekonsentreerde seisoen gaan wees weens faktore soos die swak ekonomie, ongewone weerstoestande en die verkorte skoolvakansie. 

"Mosselbaai se grootste bates is sy hulpbronne, infrastruktuur en ongelooflike natuurskoon - en daarvoor sal mense altyd hierheen stroom. Dis nou tyd om ons toe te spits op die komende feesdae om Mosselbaai se bates so te bemark dat mense altyd weer wil terugkeer."  

toerisme6  
Goeie dae voor die skeuring: Die direksielede in gesellige luim saam met munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, tydens verlede jaar se algemene jaarvergadering by die Garden Route Casino. Verhoudings tussen die munisipale en private bestuurslui in die toerismebedryf het sedertdien so drasties versleg dat al vyf direkteure uit die private sektor Donderdag eenparig bedank het. 

'n Emosionele Joy Cook, wat die sekretariaat van die Mosselbaai Gastehuis Gilde hanteer, het 'n beroep op die uittredende direksielede gedoen om hul besluit te heroorweeg.

"Ons soek ervaring in toerisme. Almal is omtrent nuwe mense van buite - insluitende die nuwe toerismehoof, Aneli Gerber en munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee. Daar is ook mense in die munisipaliteit wat nie die toerismebedryf ken nie. Daarenteen is René, Marika, Jeanette, Werner en Gerhard al dekades lank in die bedryf.

"Dit is baie hartseer - waar gaan ons dorp heen? Kan die munisipale bestuurder doen wat Marika byvoorbeeld doen?" 

Cook het namens die "vloer" die uittredende direksielede bedank vir die harde werk, opoffering en onbaatsugtige diens wat hulle oor baie jare heen vrywilliglik en in hul vrye tyd gelewer het om toerisme in Mosselbaai te bevorder en uit te bou. 

Sy het ook gevra dat die nuwe direksielede se ervaring in die bedryf bekend gemaak word, waarna hulle 'n spreekbeurt gekry het om hulself aan die gehoor bekend te stel.

toerisme2

Die drie nuwe direksielede is opgewonde en sien uit na die uitdaging om Mosselbaai se toerismebedryf verder uit te bou. 

Die inhuldiging van die nuwe direksielede was egter ietwat van 'n anti-klimaks nadat hul voorgangers die saal verlaat het en talle lede met gemengde gevoelens geworstel het. 

"Dit moes 'n vrolike geleentheid gewees het om nuwe, jong bloed in die bedryf te verwelkom, maar nie op só 'n manier nie. Ons verloor nou vyf staatmakers met dekades se ervaring wat die bedryf suksesvol tot hier gebring het. Hoekom moet hulle nou padgee om vernuwing in te bring, terwyl daar geleentheid geskep kon word vir almal om saam te werk? Iets is nie pluis nie en hoewel ek bly is vir die nuwelinge, is ek hartseer dat dinge so verkeerd gedoen is", het een van die lede verontwaardig laat hoor.

Ook Marika Thomatos het gesê dis vir haar 'n baie hartseer ervaring om ná al die jare haar termyn só te beëindig - veral omdat daar nog so baie projekte was wat sy beplan het.

"Ons het soveel hoogtepunte en mylpale bereik - ook verlede jaar se Dorp van die Jaar-toekenning waarvoor ons baie hard gewerk het. Ek is 'n voorstander van samewerking en hoe meer mense die groter Mosselbaai bemark, hoe beter . . .

"Ek is allermins 'n hensôpper en wil nie wegloop nie, maar die burokratiese binnegevegte het soveel tyd en energie geverg dat ons nooit by die belangrike besprekingspunte, bemarkingstrategieë en dinge wat saakmaak, uitgekom het nie . . .

"Op die einde het die onsmaaklike magspeletjies al die tyd, energie en lus gevat . . . ", het sy hartseer gesê.

toerisme3

Die drie nuwe direksielede van Mosselbaai Toerisme wat Donderdag met gemengde gevoelens tydens 'n emosionele jaarvergadering verwelkom is, by die res van die bestuur. Van links is munisipale raadslid Venolea Fortuin, Aneli Gerber, bedryfshoof, Kim Naude (Besighede & Besigheidskamer), raadslid Mark Furness, Tertius Coetzer (Selfsorg-eenhede), munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, Michelle Oosthuizen (Hotelle, Rusoorde & Wildsplase) en Charlie Hendrics (gemeenskapsverteenwoordiger). Die eenparige bedanking van al vyf direkteure uit die private sektor, insluitende die voorsitter en ondervoorsitter van die raad, weens beweerde voorskriftelike burokratiese magspeletjies van munisipale kant af het 'n demper op die gebeure geplaas. 

Related Articles:

Comments  

0 #1 ucorujenihu 2021-02-08 06:36
[censored] Online: http://mewkid.net/when-is-xuxlya3/ [censored] Without Prescription dcx.zmhh.mosselbayontheline.co.za.ium.oj http://mewkid.net/when-is-xuxlya3/
Quote