Beach House Restaurant Property Pointer Reflexions Professional Hair Top Up Service Station Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World Wolwedans Game Farm Ponto Grille and Carvery Skorpios Security

 

MosselbayonTheline | First With The News

Om ná 'n leeftyd se harde werk jou droom te verwesenlik en 'n aftree-huisie by die see aan te skaf waar jy en vroulief jul goue jare rustig kan slyt, is menige hardwerkende mens se droom. As daardie droom en droomhuis egter kort nadat jy ingetrek het, in duisende stukke verkrummel soos die fondasie skuif, raak dit 'n nagmerrie wat min mense hulself kan indink.

seemeeu7

Dit is presies wat in 2015/2016 in die spogontwikkeling Seemeeupark in Hartenbos gebeur het toe tientalle nuwe huise so erg begin kraak het weens grondverskuiwings dat die eienaars hul droomhuise moes ontruim en sloop omdat dit te gevaarlik geword het om daarin te woon.

Bykans drie jaar later wag dié huiseienaars steeds dat IEMAND verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar vir dié ramp en hul vergoed vir die verlies wat hulle finansieel sowel as fisiek en geestelik geknak het.

seemeeu5

Hartverskeurende verhale van sieklike pensioenarisse wat kort voor die Desembervakansie in 2016 letterlik op straat gesit het omdat hier geen ander blyplek in die "gewilde vakansiedorp" was nie, het hom destyds in Hartenbos afgespeel. Baie van die bejaarde huiseienaars moes noodgewonge en ten duurste tydelike huisvesting buite Mosselbaai gaan huur en hul meubels tydelik stoor terwyl hul droomhuis voor hul oë verkrummel.

seemeeu10

Party van die slagoffers het beroertes gekry en ander siektetoestande ontwikkel weens die stres en trauma, terwyl ander noodgedwonge by hul kinders of familielede moes gaan "plak". Hulle kon ook nie meer hul mediese fondse bekostig nie en moes noodgedwonge afskaal tot 'n basiese hospitaalplan en goedkoop blyplek soek.

seemeeu

En tot vandag toe het geen owerheid 'n hand uitgereik en hulle tegemoet gekom vir dié onmenslike onreg nie. Die feit dat die grond waarop die dorpsontwikkeling gebou is, destyds as 'n stortingsterrein en steengroef gedien het en as "onbewoonbaar" en "nie geskik vir residensiële ontwikkeling" gedokumenteer is, speel glo geen rol nie. Die grondverskuiwings is glo 'n "Act of God", 'n onvoorsienbare natuurramp, 'n natuurfrats, ens . . . ? 

seemeeu1

Wie het destyds die goedkeuring vir die ontwikkeling gegee - ondanks 'n waarskuwing dat dit ongeskik vir residensiële behuising is? Watter toetse is uitgevoer om die stabiliteit van die grond langs 'n steengroef en stortingsterrein te toets? Hoe kan van enige voornemende huiskoper in 'n "goedgekeurde spog-dorpsontwikkeling" verwag word om só 'n verlies te dra as die partye wat die ontwikkeling "goedgekeur" het, skielik geen skuld of aanspreeklikheid aanvaar nie?   

seemeeu2

'n Groep van 62 huiseienaars staan nou saam in 'n klasaksie-eis om skadevergoeding van miljoene rande te eis van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, die Mosselbaai Munisipaliteit en die Nasionale Huisbouersvereniging. Die dagvaardings is reeds in November verlede jaar op die drie respondente beteken, en die Mosselbaai Munisipaliteit was die eerste wat feitlik dadelik laat blyk het dat hy die eis gaan verdedig . . . met belastingbetalers se geld?

Seemeeupark dagvaarding

 

 seemeeu3

Een van die huiseienaars, Tony Vis, op die plek waar sy spoghuis met 'n praguitsig oor die see eens gepryk het.

Die Mosselbaai Munispaliteit word in die gesig gestaar deur 'n skadevergoedingseis wat tot tweehonderdmiljoen rand kan beloop nadat 62 huiseienaars (meesal pensioenarisse) van die Seemeeupark- en Tuscan Village-spogontwikkelings se huise in 2016 onbewoonbaar geraak het weens grondverskuiwings.

seemeeu24

Van die huiseienaars wat nou skadevergoeding van miljoene rande eis.

Die eienaars, wat tot R4 miljoen per huis eis, asook verlies aan inkomste, beweer in hofstukke die Mosselbaaise munisipaliteit was grof nalatig toe hulle in 1999 die behuisingsontwikkelings goedgekeur het ondanks waarskuwings dat die gewraakte stuk grond op 'n ou steengroef is en nie geskik is vir ontwikkeling nie.

Die stuk grond waarop die ontwikkeling gebou is, was eers die familieplaas Vyf Brakke Fonteinen wat glo aan die destydse Mosselbaaise burgemeester, André Nel, behoort het.   

seemeeu12

Die dagvaardings waarin huiseienaars skadevergoeding van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, die Mosselbaai Munisipaliteit en die Nasionale Huisbouersvereniging (NHBA) onderskeidelik eis, is in November 2018 op die onderskeie respondente bestel. Die Mosselbaai Munisipaliteit het feitlik dadelik sy voorneme om te verdedig laat blyk.

seemeeu6 

 Die grond waarop die huise gebou is, is steeds poreus en onstabiel. 

 

 So het die Sondagkoerant Rapport Sondag berig:

Gekraakte huise lei tot groot eis teen Mosselbaai


Altesaam 62 eienaars van spoghuise in Mosselbaai wat onbewoonbaar geword het nadat die grond onder die fondamente begin meegee het, eis nou skadevergoeding van die plaaslike munisipaliteit.
 

Die eienaars, wat soveel soos R4 miljoen per huis eis asook verlies aan inkomste, beweer in hofstukke die
Mosselbaaise munisipaliteit was grof nalatig toe hulle in 1999 die behuisingsontwikkelings Seemeeupark en
Tuscan Village goedgekeur het – ondanks waarskuwings dat die gewraakte stuk grond nie geskik is vir ontwikkeling nie.
Gapende skeure het sedert 2015 in die mure en vloere van huise in dié spogkomplekse begin verskyn,
omdat die grond gedurig geskuif het. Rinette van Niekerk was een van die eienaars wat in September 2016 sewe dae gegee is om haar huis te ontruim omdat dit onveilig geraak het om daarin te woon.
Talle huise is intussen deur die munisipaliteit gesloop.
Van Niekerk het die destydse raadsbesluit om die ontwikkeling goed te keur vir Rapport gegee.
In dié dokument waarsku die stadsbeplanner die munisipaliteit oor ’n ou steengroef op die grond waarop
glad nie huise gebou moet word nie. Volgens huiseienaars wys lugfoto’s die huise is toe wel gebou op die deel van die grond waarop die steengroef eens was.

Rapport is ook in besit van ’n brief van die departement van sport en kultuursake wat 19 jaar gelede opnames oor die plantegroei op die grond gedoen het. Hierin word die munisipaliteit gewaarsku dat ’n omgewingskonsultant nooit aangestel is om assessering oor die grond te doen nie.
 


Patrick Beales, ’n geotegniese ingenieur, sê die verskuiwings onder die grond gebeur tot 18 m diep, wat dit onmoontlik maak om die oppervlak weer te stabiliseer. Die grond skuif elke dag steeds etlike millimeter.
Tot dusver het baie eienaars gesukkel om hul skade by hul versekeraars te verhaal. Zurich South Africa, wat
17 van die huise in Seemeeupark verseker het, het in 2016 eise vir strukturele skade aan dié huise geweier omdat inligting oor materiële strukturele afwykings glo weerhou is.
Van die eisers, soos die egpaar Da Silva, eis luidens die hofstukke ook hul pensioen en spaargeld by die munisipaliteit omdat hulle nou daardie geld aan huur moet bestee.
DJ Goosen het sy aftreehuis laat bou en beweer sy gesondheid ly nou weens stres omdat hy al sy spaargeld aan die huis bestee het.
Die eienaars se regspan vra ook verskeie dokumente wat die munisipaliteit sover nie kon of wou verskaf nie, soos die diensooreenkomste voor konstruksie.
“Die gemors kon verhoed gewees het as die owerhede hul werk volgens voorgeskrewe wetgewing gedoen
het, maar nou draai hulle om en maak asof dit ’n natuurlike grondverskuiwing was,” sê Van Niekerk.
Die stuk grond was eens as die plaas Vyf Brakke Fonteinen bekend, maar die munisipaliteit wou nie sê wie die grond destyds besit het nie.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se regsverteenwoordigers sê hulle gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie omdat hulle die saak as sub judice beskou.
“Verdere pleitstukke sal gedurende die regsproses tussen die partye uitgeruil word,” sê die munisipaliteit.

 — at Seemeeupark - Hartenbos.

Nog foto's op ons FB-plasing: 

 
Lees ook een van die moedelose huiseienaars se brief: 
 
 
 
Related Articles:

Comments  

0 #1 yeqewalimojam 2022-06-26 12:21
Efiokeme: http://slkjfdf.net/ Izuqixod ghs.xgqn.mosselbayontheline.co.za.mrj.jv http://slkjfdf.net/
Quote