Property Pointer Delfinos.Passion for food-Passion for life Oyster World Top Up Service Station Wolwedans Game Farm Skorpios Security Beach House Restaurant Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery

 

MosselbayonTheline | First With The News

Ou Mosselbaaier skryf:

Ek verwys na die artikel in Rapport van Sondag 7 Julie 2019 waarin die joernalis Hanlie Retief met die jong munisipale bestuurdertjie van Midvaal Munisipaliteit, Bongani Baloyi, gesels. 

Wat 'n mooi suksesverhaal en wat 'n mooi getuigskrif van 'n nederige, slim, jong man. Ek hou veral van sy stelling dat as inwoners hul krane oopdraai, hulle nie omgee watter politieke party se water dit is nie, solank daar net skoon water is.

As lojale Mosselbaaier het ek die afgelope dekade of so met groeiende kommer dopgehou hoe dinge by munisipaliteite verander en gewonder hoe lank so 'n stelsel gaan hou waar politici namens inwoners besluite neem en amptenare op grond van hul politieke affiliasie pleks van hul kundigheid en kwalifikasies aangestel word.

Sal dit nie wonderlik wees nie as ALLE munisipaliteite die jong Bongani se voorbeeld kan volg en sê basta met politiek en 'n stelsel wat kaderontplooing toelaat - al wat 'n munisipale amptenaar moet sê is dat die munisipaliteit sy/haar salaris betaal om die werk te doen en basta. 

Selfs Mosselbaai Munisipaliteit kan dalk 'n lessie of twee by die jonge Bongani leer?   

Hanlie Retief gesels met Bongani Baloyi

Midvaal burgemeester

Midvaal Munisipaliteit se burgemeester, die jong, nederige Bongani Baloyi is baie trots op sy bestaansboerdery. “Ons eet die eiers en groente wat ons produseer en ek slag self die bokke en hoenders.” Foto: Verskaf

‘Mense vra my die heeltyd hoekom die Midvaal-munisipaliteit so ’n suksesverhaal is. Maar dis soos om te vra: Hoekom doen jy jou werk? Ons word betaal om ons werk te doen.

“Ons doen dit. Keep it simple, stupid,” sê Bongani Baloyi met ’n 1 000 watt-glimlag.

In 2013, toe Midvaal se burgemeestersketting aan sy 26-jarige nek gehang is, was hy die jongste Suid-Afrikaner nog in dié amp. Doemprofete het ’n monumentale munisipale inploffing verwag, maar vandag is hierdie munisipaliteit in Meyerton, in die middel van Suid-Afrika se roesgordel, die enigste in Gauteng wat in die jongste ouditverslag ’n skoon oudit ontvang het.

Om ’n munisipaliteit doeltreffend te bestuur, glo Baloyi, moet jy weet dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel. So, as jy die gang afstap na sy kantoor, hang daar nie net toekennings teen die muur nie, maar ook die reuk van industriële skoonmaakmiddel in die lug, so asof elke spikkel korrupsie en wanbestuur hier uitgemop word nog voordat dit vatkans kry. Niks is spandabelrig nie.

Nêrens sien jy dis ’n DA-beheerde munisipaliteit nie. Soms is dit ongemaklike detail, vertel die burgemeesterskomiteelid Peter Teixira. “Hy sal jou Sondagaand negeuur bel en sê Peter, kom help, daar’s ’n ingenieurskrisis. Hy herinner ons hardnekkig en gedurig: Ons is net om een rede hier, die behoeftes van Midvaal se mense.”

Midvaal Mayor Bongani Baloyi

Bongani Baloyi, burgemeester en die man agter die suksesresep van Midvaal, die enigste munisipaliteit in Gauteng wat ’n skoon oudit ontvang het. 

Die mediabeampte Simon Ratlhagane vertel niemand het hom in sy werkonderhoud gevra vir watter party hy stem nie; sy politieke affiliasies was en is irrelevant. Dis “die teenoorgestelde van kader-ontplooiing”.

Net voor ons onderhoud was Baloyi by eNCA vir ’n TV-debat met eerwaarde Gift Moerane, burgemeester van Emfuleni. Soos Charles Dickens se A Tale of Two Cities, is die DA-beheerde Midvaal en die ANC-beheerde Emfuleni buurmunisipaliteite in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit. Midvaal is pas deur die ouditeur-generaal geloof vir sy vyfde skoon oudit.

Emfuleni, daarenteen, se oudit kon nie betyds afgehandel word nie nadat ’n junior rekenmeester in die ouditeur-generaal se kantoor te midde van intimidasie en dreigemente geskiet is. “Die weermag help Emfuleni nou met basiese dienslewering,” sê Baloyi met ’n bekommerde kopskud.

“Die weermag moet ons landsgrense beskerm, nie rioolprobleme oplos nie. Dis ’n skreiende aanklag teen plaaslike regering.” Met net 18 uit die 257 munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het, plaaslike regering wat huiwer op die rand van ineenstorting, is die tyd vir rugkloppe tussen burgemeesters verby, sê hy. “As ek nie Emfuleni se burgemeester mag kritiseer nie, beweeg ons in ’n gevaarlike ruimte. Só moet hy my ook aanspreeklik hou.”

Midvaal se gemeenskap is ’n mikrokosmos van Suid-Afrika. “Wat my opgewonde maak, is die stedelike verdigting op ou landbougrond. Die manier om arm en middelklasgemeenskappe te integreer is om nuwe buurte te skep wat aan almal in dieselfde omgewing geleenthede bied en waarin hulle infrastruktuur deel.

“As ’n skoon oudit nie lei tot ’n sigbare verskil in die lewens van ons mense nie, help dit niks. Vergeet van die handeklappe, kyk verby die toekennings, fokus op die kwantitatiewe uitwerking op jou inwoners.

Ons inwoners moet kan sê ons het nou uiteindelik werk, daar’s geld in ons beursies. “Vir my is die belangrikste van ’n oudit of ek my voorafbepaalde doelwitte bereik het. Hét ek die toegang tot water van 80% tot 82% verhoog? Dis die detail wat dinge kan beduiwel.”

Jeugbemagtiging is Baloyi se groot passie. Verlede maand het hy ’n beraad vir 500 jongmense aangebied oor hoe die vierde nywerheidsrevolusie deure na ’n beter toekoms kan oopmaak.

“Jeugbemagtiging begin by moedertaalonderrig in die vormingsjare – en veeltaligheid later. Kan jy jou indink as ek en jy hierdie gesprek in my moedertaal gehad het? Dan sou jy die klein nuanses van my kultuur beter verstaan het.”

Sy eie Afrikaans is van die kroeg-tipe, grinnik hy. “Ek gebruik bliksem baie, en daai woord wat Marelize se ma gebruik het!” Toe hy burgemeester word, het hy sy gebrek aan ervaring en institusionele kennis aangepak deur “diep te duik in als wat om my gebeur; ek het elke dokument wat op my lessenaar beland het, gefynkam, en my kollegas grensloos geïrriteer met al my vrae.

Naderhand het ek die kultuur van Midvaal op my vingerpunte gehad. Ek noem dit ‘meedoënlose dienslewering’.” Die bloudruk wat hy as burgemeesterskomiteelid ontwikkel het, is oorgedra na die burgemeesterskantoor. “Daar was aanvanklik ’n ongeërgdheid oor prestasiebestuur, maar dis reeds te laat as probleme eers met kwartaallikse evaluerings aangepak word. Teikens moet deurlopend gemonitor word. Dit hou jou op jou tone,” grinnik hy.

Vaardigheidsvlakke in munisipaliteite is ’n nasionale krisis. “Kaderontplooiing is die sondaar. Gelukkig het ons in Midvaal ’n stabiele bestuur. Ons stel uitsluitlik op meriete aan. Munisipaliteite se salarisperk is gewoonlik te laag om mense met hoë vaardigheidsvlakke te lok, maar Midvaal slaag gelukkig daarin om topamptenare te lok wat selfs bereid is om teen ’n laer salaris te werk. Hulle wil deel wees van etiese leierskap.”

By die meeste plaaslike regerings is politiek die stert wat die hond swaai. “Maar as jy jou kraan oopdraai, is dit nie kommunistiese of Marxistiese of EFF-water nie. Dis net water, en dis al wat mense wil hê.

As mense op plaaslike bestuursvlak praat van ‘politieke uitdagings’, is dit eintlik maar net ’n geveg vir hulpbronne, dis bloot diewe wat baklei vir die beursie.

“Al wat ’n munisipale amptenaar moet sê, is: Die munisipaliteit betaal my salaris, ek moet my werk doen en basta. En ’n burgemeester moet ’n pragmatiese patriot wees.” Die DA het 59% in die 2016-verkiesing behaal, wat sorg vir stabiele regering.

“By Midvaal gaan dit 90% oor dienslewering en 10% oor politiek, en dis hoe dit in koalisies behoort te wees. Ons het ’n gesonde verhouding met opposisiepartye.”

Selfs vyf skoon oudits agtereenvolgens verseker nie dat jou munisipaliteit korrupsievry is nie, het Baloyi in Maart tot sy skok besef. “Kyk, dit was ’n bitter pil toe ons agterkom van die amptenare verkoop poste. Ek moes vrede maak daarmee dat amptenare 99% van die tyd op hul eie werk, hopelik gelei deur hul etiese kompas. Toe ek van die korrupsie hoor, was daar binne sewe dae optrede en binne maande ’n uitslag. “En, belangriker, ons het nou ’n streng arbeidsregister. Dit sal nie weer gebeur nie.”

Was Patricia de Lille se dissiplinêre ondersoek maar so spoedig afgehandel! Hy glimlag breed. “Nou, dís ’n taai een vir ons party. As leiers moes ons beter daarmee gevaar het. Wel, solank dit net nooit weer gebeur nie.” En die DA se swak verkiesingsuitslag? “Ja, ons het bloedneus gekry. Soms het jy ’n vuis in jou gesig nodig om jou weer te laat dink. En dis presies wat die DA-leiers doen, en nee, ons strooi nie ’n suikerlagie daaroor nie.”

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/hanlie-retief-gesels-met-bongani-baloyi-20190707#disqus_thread

Related Articles:

Comments  

0 #1 buy ed pills 2020-07-08 12:14
buy ed pills: http://www.cialij.com/
Quote