Oyster World Delfinos.Passion for food-Passion for life Top Up Service Station Beach House Restaurant Skorpios Security Reflexions Professional Hair Ponto Grille and Carvery Wolwedans Game Farm Property Pointer

 

MosselbayonTheline | First With The News

Die twee verdagtes wat binne 24 uur aangekeer is vir die opspraakwekkende inbraak en aanval op 'n geliefde inwoner van die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai, was albei slegs 'n paar dae uit op parool toe hulle op Sondag 2 Desember 2018 in die vroeë oggendure by tannie Annelene Massyn (81) se huis ingebreek, haar wreed aangerand en beroof het.
Boonop het dit gister aan die lig gekom dat albei beskuldigdes ou gewoontemisdadigers in die groter Mosselbaai-omgewing is wat al onderskeidelik tronkstraf vir moord, besit van dwelms, huisbraak en diefstal uitgedien het.
Duwayne Moodien (21) en Shane Alexander (24) is verlede week danksy knap polisiewerk vinnig aangekeer by 'n huis in Asla Park waar van Massyn se gesteelde eiendom in hul besit gevind is. 

Dwyne MoedienShane Alexander 24 met wit hemp
Duwayne Moodien (21) - links en Shane Alexander (24) regs. Albei is in aanhouding op aanklag van huisROOF sonder die opsie van parool tot hul volgende verhoordatum op 28 Januarie 2019. 

Hulle het reeds op Donderdag 6 Desember 2018 - vier dae ná die voorval - in die Mosselbaaise landdroshof verskyn op aanklag van huisroof - 'n baie ernstiger klag as gewone huisbraak omdat huisroof ook geweld en aanranding insluit. 

 

Annelene Massyn

Annelene Massyn (81) nadat sy aangerand en beroof is in haar huis in Santos Haven

Die saak is toe uitgestel tot vandag, waar hulle ook voorgekom het op die verbreking van hul paroolvoorwaardes. Die saak is weer uitgestel tot 28 Januarie 2019 vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding sonder die opsie van parool.

Intussen blyk dit uit die beskuldigdes se misdaadrekords dat Shane Alexander (24) reeds op 15-jarige ouderdom tot nege jaar tronkstraf vir moord gevonnis is. Hy is in 2010 gevonnis en is ná 6 jaar op parool vrygelaat. Hy is sedertdien weer tronkstraf opgelê vir huisbraak en was tydens die inbraak by Santos Haven op parool.

Dwyne Modien (21) het eweneens 'n lang misdaadrekord van besit van dwelms, huisbraak en diefstal en was ook pas uit op parool toe hy en Alexander saamgespan het om die Santos Haven-aftreeoord te teiken. 

Die aanval op Massyn in die "veilige" Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai so kort voor die Kersseisoen, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur - veral omdat die oord omhein is en oor 24-uur sekuriteit beskik. 

Santos Haven

Die feit dat albei beskuldigdes 'n lang misdaadrekord het en telkens vrygelaat is op parool, plaas weer eens die soeklig op die gebreke in die regstelsel en oorbevolkte tronke. Die algemene vonnis vir ernstige misdrywe soos huisbraak is deesdae net drie maande tronkstraf, waarna die oortreders in 'n gemeenskap-korrektiewe stelsel geplaas word waar hulle gedrag en bewegings deur korrektiewe dienste-beamptes gemonitor moet word. Die oormag is egter hopeloos te groot, wat tot gevolg het dat misdadigers binne dae weer verkrag, inbreek of moor . . . 

Die twee beskuldigdes was glo skaars 'n week op parool vrygelaat vir 'n ander oortreding toe hulle op Santos Haven toegeslaan het.

Hulle het blykbaar toegang tot die oord gekry deur in 'n boom langs die heining te klim. Dié boom is intussen afgekap en algemene veiligheidsmaatreëls by die oord en individuele huise word nou opgeskerp.  

Die aanval verskerp ook kommer oor die "regte" van misdadigers en die gemak waarmee parool deesdae toegestaan word. Dit is uiters kommerwekkend hoeveel voorvalle van ernstige geweldsmisdaad juis gepleeg word deur misdadigers wat op parool vrygelaat is. Baie inwoners en SAPD-lede voel die regstelsel faal hulle deur die regte van misdadigers bo dié van onskuldige inwoners te plaas.

" 'n Mens word moedeloos en voel magteloos as jy dae en nagte om werk om gevaarlike misdadigers aan te keer - net om te sien hoe hulle 'n paar dae later laggende op parool uit die hof stap . . . en jy wéét voor jou heilige siel hulle gaan wéér 'n misdaad pleeg - gewoonlik 'n ernstiger een as waarvoor hulle aanvanklik aangekeer is", het 'n speurder vertroulik laat hoor. 

BEJAARDE VROU IN SANTOS HAVEN AANGERAND, BEROOF

Mosselbayontheline
December 3 at 4:16 PM

"Ek is so verbitter, my oudste en enigste suster van 81 is vanoggend aangerand in 'n aftree-oord in Santos Haven. 
"Twee het ingekom by 'n venster en haar wakker geslaan met die vuis, haar hande vasgebind en mond toegebind en 'n klomp goed gesteel.
"Dankie Here sy leef. Wat help so 'n veiligheidskompleks?"

Só het Theo Munro van Beaufort-Wes gister op sy FB-blad geskryf nadat sy enigste suster, Annelene Massyn, Sondagoggend kort ná 05:00 deur twee mans met balaklavas in haar huisie in die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai aangeval en beroof is.

Familie, vriende en kennisse van oral oor het met woede, weersin en onsteltenis gereageer op die boodskap.

"Hoe kan mense so wreed teenoor 'n hulpelose oumens wees?" "Is 'n mens dan nêrens meer veilig nie?" , is van die vrae wat deurgaans gevra is.

Die rowers het blykbaar toegang tot Massyn se huis deur 'n oop sitkamervenster gekry terwyl sy geslaap het. Hulle was besig om die huis te deursoek vir kosbaarhede toe sy omstreeks 05:45 wakker skrik van die lawaai.

Die rowers het haar toe blykbaar wreed met die vuis in die gesig geslaan, haar hande vasgebind, haar mond toegebind en haar met 'n mes gedreig. Hulle het ook gedreig om haar te verkrag as sy sou skree.

Theo Munro

Die huis is blykbaar omgedolwe en nadat hulle die kluis ook oopgesluit het, het hulle met 'n klomp juweliersware en verskeie ander items op die vlug geslaan. Die bejaarde Massyn is gelukkig nie ernstig beseer nie en is weer tuis nadat sy by 'n plaaslike hospitaal behandel is. 
Haar dogter is glo van Kaapstad onderweg Mosselbaai toe om haar by te staan, het Theo laat weet.

Die Santos Haven-aftreeoord, wat reeds sedert 1985 bestaan, is een van die oudste en bekendste ouetehuise in Mosselbaai. Die oord is omhein en beskik oor 24-uur sekuriteit. Die slagoffer se woning het blykbaar nie oral diefwering nie.

Verskeie vingerafdrukke is op die toneel gekry en die Polisie hoop om die skuldiges vinnig aan te keer.

*Rassistiese kommentaar op Theo se Facebook-blad het ook heftige reaksie ontlok nadat 'n FB-trol geskryf het dit (die aanval) is niks, aangesien swart vroue elke dag aangerand en selfs vermoor word en dié vrou net met die vuis geslaan is. Die trol het later gesê dis reg as swartmense moor, solank hulle net witmense doodmaak, want hulle geniet dit nogal.

Related Articles:

Comments  

0 #1 online azithromycin 2020-09-01 07:18
online azithromycin: https://azithromycinx250.com/
Quote